Resultate in die verkiesings van skoolbeheerliggame (SBL) wat in Maart plaasgevind het, is onlangs bekendgemaak.
By Laerskool CR Swart in Middelburg en Laerskool Laeveld in Nelspruit het 30% van leerders se ouers gestem in dié driejaarlikse verkiesing.
In die Noord-Kaap by Oranje Noord Skool in Upington het ʼn groep van meer as 450 ouers in die verkiesing gestem. By Fichardtpark Primêre Skool in Bloemfontein het 781 ouers hul stemme uitgebring terwyl 73% van die Laerskool Ottosdal se ouers by die skool se verkiesing teenwoordig was.
Volgens Kathy Verwey, ʼn woordvoerder van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), is dit ʼn paar van die talle suksesvolle resultate by ʼn groot aantal skole tydens vanjaar se verkiesings.
“Vir ʼn SBL-verkiesing om geldig te wees, moet daar ʼn kworum van ouers deelneem aan die verkiesing. Dit behels dat minstens 10% van ʼn skool se ouers in die Wes-Kaap aan die verkiesing moet deelneem en 15% van die ouers by skole in die ander provinsies.
“Indien jou skool nie die kworum in Maartmaand se verkiesing bereik het nie, sal daar nog ʼn verkiesing geskeduleer word,” het sy gesê. “Dit is uiters belangrik dat hierdie verkiesing hoog op jou prioriteitslys geplaas word aangesien ʼn kworum nie vir die opvolgverkiesing nodig is nie. Dit sal dus bitter maklik wees vir jou skool om in die verkeerde hande te beland.”
Verwey het gesê Fedsas se lede-skole is bekend daarvoor om daarin te slaag om groter ouerbetrokkenheid tydens die verkiesings te bewerkstellig. Sy het bygevoeg dat die uiteindelike gevolg van meer ouers wat aan die verkiesing deelneem, is ʼn hoër gehalte van skoolbestuur is.
“Ouers kry die geleentheid om insette in hul kind se opvoeding te lewer deur betrokke te wees by hul kind se skool en te besluit wie op die skool se bestuur dien.
“Maak dus die meeste van die geleentheid en wees aktief betrokke by jou kind se opvoeding, sy skool en die toekoms van die land,” het Verwey gesê.