Bekamp só boeliegedrag op skool

'n Skermskoot uit die video. Die video volg onderaan die berig.

‘n Skermskoot uit die video van ‘n onlangse boeliesituasie by ‘n skool in Vereeniging.

Skole kan nie meer bekostig om sonder ’n duidelike boeliebeleid te wees nie. Die boeliebeleid moet voorskrifte gee vir kinders, omstanders, onderwysers en ouers se gedrag. Daar moet ’n aanmeldingstelsel en ’n spesiale subkomitee in die beheerliggaam net vir boelievoorvalle wees.

Ek sien ’n paar dinge in die video oor die boeliesituasie by ’n skool in Vereeniging, Gauteng, wat verlede week wyd opspraak gewek het: Dit blyk dat daar geen beleid oor tongringe is nie. As daar was, sou almal die regte prosedure gevolg het en onderwysers nie boelies moes gebruik om die “orde” te herstel nie. Ek sien ook afgestompte kinders wat nie lyk asof hulle omgee dat ’n maat aangerand word nie, of kinders wat te bang is om hul maat te hulp te snel. Indien die persoon agter die lessenaar wel ’n onderwyser is, sien ek iemand wat moed opgegee het.

Oplossings is opgesluit in ’n plan wat verskeie veranderinge op verskillende vlakke in die skool se gemeenskap moet meebring. Die klem moet verskuif na programme in skole waar elke kind sy staanplek in die son kan kry. Kinders wat hulself ken, verstaan, aanvaar en ’n inherente waarde het wat nie aan prestasies gekoppel is nie, is nie boelies nie en word ook nie sommer slagoffers nie. Skole wat meer as net orde en prestasies probeer handhaaf, sal meer energie afstaan aan dit wat waarlik karakter, medemenslikheid, deernis en respek kweek.

Trouens, dit blyk uit onlangse navorsing dat skole met ’n groot klem op prestasies en die openlike uitsondering van die kinders wat presteer, juis al meer boeliegedrag “voed”. Dit is natuurlik in die eerste plek nie skole wat hierdie kultuurverandering moet meebring nie. Hierdie probleemlysie “ruik” vir my na ’n oproep tot beter ouerskap! Dit skok my dat amper driekwart van die deelnemers aan Maroela Media se meningsopname die mening huldig dat die skool hierdie situasie moet oplos, terwyl minder as die helfte die saak voor die ouers se deur gaan lê. Dit het gerieflik geraak om skouers op te trek met die verweer dat dit by die skool gebeur het. Kinders leer nie by die skool hoe om menslik of onmenslik te wees nie – of is dit wel die geval?

Wanneer kinders wangedrag toon, vra ’n mens die kernvraag: “Wat het, weet, verstaan en doen die kind nog nie?” En dan is dit opvoeders se taak om dit wat ontbreek deur doelgerigte opvoeding in kinders te ontwikkel.

As ons na die boelie in hierdie storie kyk, is die antwoorde iets soos: “Hy het nog nie deernis met ander nie. Hy kan nog nie aanvaar dat daar baie mense is wat anders as hy dink en doen nie. Hy verstaan nie dat gesprek beter werk as geweld nie. Hy werk nog nie saam binne die grense van ’n gedragskode nie.” Daarin is die leidrade vir wat ons te doen staan. Lyfstraf, skorsing en detensie gaan net mooi geen uitwerking hê nie.

Ouers en onderwysers wat vanuit ’n nuwe invalshoek oplosings vir wangedrag teenoor ander mense tuis en in die skool wil ontgin, kan gerus Kweek Dissipline met Deernis vir onderwysers en ouers lees. Dit is beskikbaar by www.immergroenouerskap.co.za en by boekwinkels. Die rekenaarsisteem vir skooldissipline wat hierop geskoei is, bevat ook ’n boeliebeleid vir skole. Loer gerus by www.kddskool.co.za vir meer hieroor.

 

Meer oor die skrywer: Hettie Brittz

Hettie Brittz is ’n voormalige spraakterapeut en die outeur van twee ouerskapboeke en die Immergroen Ouerskapkursus. Sy bied landwyd en oorsee praatjies, kursusse en spanbousessies met ’n temperamentfokus aan. Besoek www.immergroenouerskap.co.za waar jy meer wenke oor ouerskap sal kry, asook nog inligting oor Hettie se boeke en kursusse.

Deel van: Ouerskap, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

sarie ·

Jare terug kon die onderwysers die kinders slaan,nou smeek hulle die kinders om op te hou.
Hoekom het hulle daardie skool reels weg gevat,daar was nie tyd vir sulke boelies vroeer jare nie,immers het hulle bietjie pak slae gekry,en opvoeding begin by die huis.

antonie willem van den berg ·

Deurdat die Ou model C skole hulle siel aan mammon verkoop het het onderwysers hulle autoriteit op gegee hoe verwag hulle respek as hulle omkoop geld goedere vat om kinders in sekere spanne te plaas

Piet Snot ·

Hettie, jy’s verkeerd as jy sê “Lyfstraf … gaan net mooi geen uitwerking hê nie”.
Ek het met baie kinders gewerk, en lyfstraf is vir meeste seuns soos medisyne. Op skool het dit my eie gedragsprobleme uitgesorteer, en tans sien ek dit met my seun – hy’t (met rede) ‘n heilige ontsag vir ‘n paar beheerste houe op die regte plek, en hy’s ‘n lieflike kind.

Deon Westraat ·

Alle bulies ly aan ‘n minderwaardigheids kompleks en word self tuis op neergesien. Dis ‘n swak reaksie van swak ouerskap en disipliene wat by die huis nie toegepas word nie. Enige ouer sonder klas sal dink dat sy kind wat ‘n boelie is, is “great”. As hierdie tonele algemeen is in hierdie skool, waarom is die skoolhoof nog steeds daar. Die geskiedenis en reaksie van die onderwyser dui duidelik daarop dat hy ‘n gomgat is. Onderwysers met klas en disipliene sal nie sulke gombessie plukkers in ‘n opgevoede skool toelaat nie. Barbare moet uit skole verwyder word sodat die akedemie weer instand gehou kanword. Jammer dat so baie onderwysers nie in hulle poste hoort nie. Klasse verskille dra baie by tot bulies in skole, net jammer mense word met klas gebore en dit kan nie gekoop word nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.