(Bekostigbare) Wiskunde-onderrig in jou moedertaal

Mienke Sebriets, ’n graad 10-leerling van die Wes-Kaap (Foto verskaf)

Vir baie van ons kom Wiskunde nie natuurlik nie. Ouers spandeer duisende rande elke maand aan ekstra Wiskunde-klasse of privaat skole waar hul kinders onderrig vanaf die beste onderwysers in kleiner klaskamers kan ontvang.

Die realiteit is egter dat die ekonomie knyp en baie ouers kan nie hierdie ingrypings bekostig nie. Leerders in plattelandse gebiede het boonop nie altyd die luuksheid van uitnemende Wiskunde-onderwysers nie.

Die Wolkskool bied ’n unieke oplossing vir hierdie probleem. Teen slegs R99 ’n maand kry leerders toegang tot gehalte inhoud en video-lesse wat al die inhoud in die kurrikulum dek, boonop in Afrikaans. Leerders kan hulself aanlyn assesseer en het ook 24 uur ’n dag toegang tot ’n hoogs gekwalifiseerde Wiskunde-onderwyser, sou hulle bykomende hulp benodig.

“Wat Wolkskool uniek maak, is dat jy enige plek, enige tyd toegang het tot gehalte Wiskunde-onderwys in jou moedertaal,” sê Valentyn van der Merwe, hoof van Innovasie aan die Skoleondersteuningsentrum (SOS), wat Die Wolkskool dryf. “Leerders in afgeleë dorpe kan deur Die Wolkskool toegang kry tot gehalte inhoud en onderwysers om te verseker elke kind se volle vermoë word verwesenlik.”

Volgens hom lê die toekoms van onderwys in aanlyn leer. “Tegnologie het die wêreld drasties verander, insluitend die onderwys. Binnekort gaan die gebruik van tegnologie in die klaskamer die norm wees.” Volgens hom kan onderwysers met behulp van platforms soos Die Wolkskool alreeds leerders beter diagnoseer en assesseer en die klas-inhoud só struktureer om alle leerders te akkommodeer.

“Omdat tegnologie goed aangewend kan word om beter en vinniger terugvoer van leerders te kry, kan onderwysers verseker dat leerders die nodige leeruitkomste bereik. Leerders kan ook herhaaldelik deur video’s, werkkaarte en aanlyn-toetse werk totdat hulle die inhoud onder die knie kry.”

Mienke Sebriets, ’n graad 10-leerling van die Wes-Kaap, het vroeg vanjaar met Wolkskool begin. Haar ma was raadop toe sy verlede jaar 40% vir Wiskunde behaal het en het boonop nie kans gesien om R2 500 ’n maand vir ’n Wiskunde-tutor te betaal nie. Vanjaar het Mienke meer as 70% vir haar eerste Wiskunde-toets behaal, nadat sy vir slegs ’n paar weke van Wolkskool gebruik gemaak het. “Die video-lesse help regtig en ek verstaan die Wiskunde baie beter as wat ’n onderwyser voor in ’n klas vir my verduidelik,” sê Mienke.

Wolkskool word reeds deur ’n verskeidenheid skole in Gauteng en die Noord-Kaap op die proef gestel. Besoek www.wolkskool.co.za en sluit vandag nog aan!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.