Bemagtig jou kind met dié mensgerigte vaardighede

Foto: residential-treatmentcenters.com

Foto: residential-treatmentcenters.com

[promosie-artikel]

Danielle Barfoot

Vandag (15 Julie 2015) is die eerste jaarlikse World Youth Skills Day, ’n dag wat deur die VN aangewys is om bewustheid te skep van die belangrikheid van tegniese en beroepsopleiding en vaardigheidsontwikkeling onder die jeug.

Met die groeiende behoefte wêreldwyd na vaardigheidsontwikkeling – veral bemarkbare vaardighede – word daar gehoop dat die beklemtoning van dié kwessie sal bydra tot die vermindering van werkloosheid en werkskaarste onder die wêreld se jeug. Hoewel die bewustheidsveldtog hoofsaaklik op tegniese en beroepsvaardighede fokus, is daar ’n ander stel vaardighede wat nie geïgnoreer moet word nie.

Nes tegniese en beroepsvaardighede is die ontwikkeling van mensgerigte vaardighede ook noodsaaklik – die persoonlike eienskappe en gedrag wat ons toelaat om doeltreffend en eensgesind met mekaar oor die weg te kom. Anders as tegniese en beroepsvaardighede kan mensgerigte vaardighede van jongs af aangekweek word.

As ouer kan jy die fondament lê deur vir jou kind die volgende mensgerigte vaardighede te leer:

Kommunikasie:

Sukses in feitlik elke veld hang af van ons vermoë om met ander te skakel. Leer jou kind om doeltreffend te kommunikeer – dit beteken hy moet nie net duidelik moet kan praat en skryf nie, maar ook aandagtig moet luister en relevante vrae moet vra.

Spanwerk:

Spanwerk en samewerking is noodsaaklike aspekte van werk en die lewe. Leer jou kind om na ander te luister en hulle te respekteer, selfs al verskil hul sienings. Deur spansport te speel, by klubs aan te sluit en aan groepsaktiwiteite deel te neem, kan spanwerk aangemoedig word.

Probleemoplossing:

Probleemoplossing en vindingrykheid is uiters nuttig wanneer onverwagse situasies opduik – in die lewe en by die werk. Leer jou kind hierdie waardevolle vaardighede deur aan hom die geleentheid te bied om sy eie probleme te hanteer. Gee leiding, maar laat hom toe om dit self op te los, maak nie saak hoe moeilik dit is om te aanskou nie.

Taaiheid:

Terugslae is deel van die lewe, veral by die werk. Leer jou kind dat mislukking slegs ’n tydelike terugslag is deur hom aan te moedig om weer te probeer as hy misluk.

Verantwoordelikheid:

In die werksplek is dit die mense wat eienaarskap neem van hul verantwoordelikhede neem wat geneig is om bo uit te kom. Leer jou kind om verantwoordelik te wees deur spesifieke take aan hom toe te vertrou en hom aanspreeklik te hou vir die voltooiing van daardie take.

Deernis:

Deernis beteken om vir iemand anders as onsself om te gee. Leer jou kind om met empatie en goedgesindheid teenoor ander op te tree. ’n Klein bietjie welwillendheid is dikwels verreikend.

Verdraagsaamheid:

Om met mense wat anders is in kontak te kom kan ongemaklik wees, maar dit is ’n onvermydelike deel van die lewe. Leer jou kind dat dit nie net aanvaarbaar is om anders te wees nie, maar dat mense se verskille gevier moet word.

Passie:

’n Kernbestanddeel vir sukses is passie. Leer jou kind om sy passie na te streef deur sy belangstellings aan te moedig. Leer hom ook waarom dit belangrik is om iets deur te voer as hy hom daartoe verbind het.

Deur jou kind van kleins af te help om hierdie vaardighede te ontwikkel, sal hy beter voorbereid wees vir skool, die werksplek en die lewe oor die algemeen.

Artikel verskaf deur Impak Onderwys

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.