Bemeester hierdie vaardighede om disleksie te oorkom

a-kid-reading_greatbooksacademy_org.jpg

Foto: Greatbooksacademy.org

[promosie-artikel]

Susan du Plessis

Lees vorm een van die belangrikste boustene van leer op skool – ’n kind wat sukkel om te lees, sal ook sukkel om te leer – en ’n intelligente kind wie se leesvaardigheid twee jaar of meer agter is, word dikwels met disleksie gediagnoseer.

Hoewel daar nie ’n kitsoplossing vir disleksie is nie, kan kinders deur opvoedkundige intervensie en hul ouers se ondersteuning bemagtig word om die probleem te oorkom. Daarom is dit belangrik dat ons moet verstaan hoe kinders leer.

Leer vind trappie vir trappie plaas; ’n kind moet dus eers een ding kan doen voordat hy die volgende een kan bemeester. Om te kan leer lees – en gevolglik disleksie baas te raak – is  daar sekere basiese vaardighede wat ’n kind van kleins af moet aanleer.

Oefen en ontwikkel taalvaardighede

’n Kind moet oor goeie taalvermoë beskik om te kan lees. As taal reg ontwikkel word, kan ‘n aansienlike hoeveelheid  lees- en gepaardgaande probleme voorkom word.

Help jou kind só:

  • Lees van kleins af vir jou kind. Vra dan vrae oor die storie, of vra jou kind om die storie vir jou te vertel.
  • Praat met jou kind – benoem dinge en verduidelik wat jy doen.
  • Praat op jou kind se ontwikkelingsvlak, nie babataal nie.
  • Sing liedjies en oefen rympies.
  • Maak seker gehoorprobleme word vroeg geïdentifiseer en dadelik behandel.

Werk aan belangrike nie-verbale vaardighede

Belangrike nie-verbale vaardighede wat kinders moet baasraak sluit persepsie, logiese denke, geheue en konsentrasie in. Dit is belangrik want kinders word nie gebore met die vermoë om alles wat hulle sien of hoor te interpreteer nie – persepsie word aangeleer. Kinders moet ook geleer word om logies te dink, afleidings te maak en te redeneer. Net soos om te leer loop en praat, is konsentrasie nog ’n vaardigheid wat geleer en ontwikkel moet word – terwyl ’n baba ’n aandagspan van 2 sekondes het, moet jou kind teen 6-jarige ouderdom minstens 20 minute lank kan konsentreer.

Help jou kind só:

  • Vir persepsie, speel speletjies met begrippe soos op, bo, links, regs, binne-in. Onderskeid tussen links en regs is veral belangrik en moet daagliks herhaal word.
  • Om jou kind van oorsaak en gevolg te leer, help met logiese denke.
  • Die bou van ouderdomsgepaste legkaarte, asook storietyd wat geleidelik verleng word, sal konsentrasievermoë verbeter.

Natuurlik is ʼn mens nooit te oud om te leer nie, en daarom is dit nooit te laat om die boustene van lees – persepsie, logiese denke, geheue en konsentrasie – te ontwikkel nie.

Volgende week deel ons ʼn suksesverhaal.

Susan du Plessis is ’n onderwyskenner en die eienaar en direkteur van opvoedkundige programme by Edublox, ’n Impak-geregistreerde sentrum.

Artikel verskaf deur Impak Onderwys

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.