Berei jou kind sielkundig voor op die eerste skooldag

Argieffoto

Die vakansie kom nou tot ’n einde, die feestydperk is verby en die oorskietkos van die Kersete lankal vergete. Vir die meeste mense is dit terug na die daaglikse roetine, maar vir sommige begin ’n nuwe roetine met die aanvang van die eerste skooldag.

Of dit nou kleuterskool, graad R of graad een is, om jou eersteling vir die eerste keer by die skool af te laai, bly ’n emosionele oomblik. Hoe sal kleinding reageer op die afskeid, nuwe gesigte, ’n nuwe plek en nuwe reëls? Hoe gaan Mamma of Pappa reageer? Voorbereiding help natuurlik en daarom moet ouers ’n wedstrydplan vir die dag saamstel. Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) het by Andreas Baron, ’n opvoedkundige sielkundige, gaan kers opsteek om te hoor hoe jy jou en jou kind sielkundig kan voorberei op sy of haar eerste skooldag.

Praat vooraf met jou kind oor die nuwe skool

Begin met jou kind praat oor skool in die weke of dae voor die eerste skooldag. Onderwerpe soos wat is ’n juffrou, wat is ’n skool en hoekom hulle skool toe moet gaan, is alles kwessies wat die skoolstelsel vir jou kind meer bekend kan maak.

Skep opgewondenheid oor die idee van skool toe gaan. Indien moontlik, ry verby die skool. Klim uit, laat boetie of sussie die gebou sien. Vertel vir hulle wat om te verwag van die eerste dag. Wie gaan hulle aflaai en wie gaan hulle oplaai? Maak verwysingspunte vas waaraan hulle kan vashou deur hul dag in die onbekende.

Bly kalm die oggend voor skool

Mamma het sleg geslaap, die koffiewater was nie behoorlik warm nie, die motorhek wil nie ordentlik oop nie, en boetie het sy kous opgeëet (want waar anders kan die vervlakste ding nou wees?)

Kinders voel ouers se spanning baie vinnig aan. Om dinge reg te sit die voorafgaande dag sal help, veral vir die eerste dag. Wees voorbereid daarop dat jy self emosioneel gaan wees. Besef dat dit jou gedrag kan beïnvloed. Hou dit liefdevol dog ferm wanneer jy jou kleinding aflaai. Gee ’n drukkie en ’n soen en wees op pad. Hoe langer ouers talm, hoe moeiliker raak dit vir die juffrou om al die kinders rustig te kry.

Daar kan dalk trane wees, maar dit droog tipies vinnig op. Besef ook dat die eerste dag dalk vir jou as ouer die moeilikste gaan wees, maar dat kinders gewoonlik meer sukkel met die tweede of derde dag. Laat ruimte daarvoor. Voor jy jou oë uitvee, huppel hulle alte vrolik klas toe en wonder jy wat van jou drukkie geword het.

Daar is geen perfekte resep nie

Die belangrikste is egter dat daar nie ’n perfekte resep is om die eerste dag van skool te hanteer nie. Jy ken jou kind. Jy weet of hul kossoorte aan mekaar mag raak, of hulle die blou skoene of die rooies verkies en of hulle vinnig by nuwe situasies aanpas of nie. Elke kind hanteer verandering anders, nes elke ouer anders is. Geniet die dag en hou vas aan die emosies. Alte gou is skool ou nuus en deel van die gewone roetine en glimlag jy saggies en vol jaloesie as jy volgende jaar die nuwe ouers by die skool hul eerstelinge sien aflaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marco ·

Baie sinvolle raad. My kleinding begin die week graad 1 – so dankie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.