Berei nou al voor vir die eksamen

eksamen 4 matriek toets uitslag

Argieffoto.

[promosie-artikel]

Danielle Barfoot

Die eindeksamen is om die draai. Om te verseker dat jou kind alles wat hy deur die loop van die jaar geleer het met vertroue kan weergee, is dit belangrik om lank vooruit met voorbereiding te begin.

Jy kan die volgende doen om jou kind aan te moedig en te ondersteun om hard te leer en sy beste te lewer:

Beplan vooruit

Skole sal binnekort die eindeksamendatums bekend maak. Sodra jy die datums ontvang, gaan sit saam met jou kind en stel ’n realistiese studieprogram op. (Ouer kinders moet aangemoedig word om hul eie skedule op te stel, maar jonger kinders het hulp nodig.) Neem die hoeveelheid werk, asook enige vakke waaraan jou kind dalk meer tyd sal moet bestee om deeglik voor te berei, in ag.

Wenk: Moenie leersessies van langer as 45 minute op ’n slag beplan nie.

Begin vroegtydig met hersiening

Om te beplan om te leer is maklik, maar om dit uit te voer is moeilik, veral as die eksamens eers oor ’n paar weke plaasvind. Hoe gouer jou kind egter met hersiening begin, hoe makliker – en minder stresvol – sal dit wees. As hy vroeg met hersiening begin, sal hy probleme of werk waarmee hy sukkel kan identifiseer, met genoeg tyd om sy onderwysers vir hulp te vra.

Wenk: Vra jou kind se onderwyser of soek aanlyn vir vorige vraestelle of hersieningsblaaie. 

Skep ’n gepaste leeromgewing

Skep ’n toegewyde ruimte waar jou kind kan leer, maar rig dit in volgens sy leerstyl. Hoewel byna enige omgewing gemaklik en geskik kan wees vir leer, is die ideaal dat jou kind kan studeer waar daar die minste afleidings is. Maak ook seker dat jou kind al die gereedskap het wat hy benodig, bv. skryfbehoeftes, papier, notaboeke, ens.

Wenk: ’n Paar nuwe penne en ’n kraakvars notaboek mag dalk jou kind inspireer en motiveer.

Bestuur stres

Om oor studies te stres is teenproduktief, want ’n kind wat stres kan nie konsentreer of onthou wat hy geleer het nie. Help jou kind om eksamenstres baas te raak deur seker te maak dat hy ’n gesonde, gebalanseerde dieet volg en dat hy genoeg rus. Moedig hom ook aan om aktief te bly –fietsry of balskop sal hom help om beter te konsentreer, én hy sal beter slaap.

Wenk: Verskuif die fokus van sy studies af deur iets prettig saam met jou kind te doen, of deur hom af en toe met iets lekker te bederf.

Bied ondersteuning

Wanneer jou kind vir die eksamen voorberei, help hom om realistiese doelwitte te stel en bied dan die nodige ondersteuning en aanmoediging om hom te help om hierdie doelwitte te bereik.

Wenk: As hy weet dat jy belangstel en sy harde werk ondersteun, sal hy moontlik gemotiveerd wees om meer moeite te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.