Beroepskeuse kan ’n groot kopseer wees

Infografika-beroepskeuse

Die volgende infografika gee ook raad oor hoe om by die regte beroepskeuse uit te kom. Grafika: Verskaf.

Om ’n loopbaanrigting – selfs net in die algemeen – te kies, is een van die moeilikste en belangrikste besluite wat enige mens (dikwels nog ’n kind) moet neem. Dit bepaal die rigting wat jou lewe van ’n spesifieke punt af inslaan.

Regsgeleerdheid as ’n loopbaankeuse lê byvoorbeeld vir alle praktiese doeleindes in die teenoorgestelde rigting as ’n loopbaan in die mediese veld. Indien ’n student reeds twee jaar lank regte studeer het en dan agterkom dat dit ’n fout was, is dit moeilik, tydrowend en baie duur om van rigting te verander. Boonop kan menige ouer dit doodeenvoudig nie bekostig nie.

Die regte beroepskeuse het nie net ’n invloed op jou eie lewe nie, maar bepaal ook die rol wat jy in jou omgewing gaan speel: Elke persoon het ’n spesifieke plig wat hy of sy in die lewe of in ’n gemeenskap moet vervul – dit werk amper soos die funksies van die verskillende dele van ’n liggaam: As die voet probeer om ’n hand te wees, gaan dit die voet, die hand en die res van die liggaam negatief beïnvloed.

Dit is dus baie belangrik om sover moontlik te probeer om seker te maak dat jy die regte loopbaanrigting kies.

Volgens Marnelle du Toit, bedryfsielkundige, verseker die regte besluite rondom loopbaankeuse lewensgeluk en selfvervulling en gee dit betekenis aan jou lewe. Sy beklemtoon dat dit belangrik is dat jou persoonlikheid, vermoëns, intelligensie en belangstellings realisties is en dat jy jou kan vereenselwig met die beroep wat jy op die ou einde kies.

Verder sê Marnelle is dit ook belangrik om kennis te neem van die ekonomiese  lewensvatbaarheid en skaarsheid van die beroep. Vra jouself, met ander woorde, die volgende vrae: “Is daar ’n aanvraag vir persone wat in hierdie beroep gekwalifiseer is? Sal ek maklik werk kry? Sal ek vir myself en my gesin kan sorg indien ek hierdie beroep kies? Wat kan moontlik gebeur as die ekonomie só versleg dat mense nie meer my diens of produk kan bekostig nie? Is daar ’n wye verskeidenheid van werkgeleenthede in hierdie beroepsveld?”

Die volgende skakels na artikels, publikasies en webwerwe gee inligting wat moontlik kan help met die proses:

Kry allerlei inligting by www.careerplanet.co.za of www.careernavigator.co.za.

Lees ’n artikel oor beroepe waaraan daar ’n tekort in Suid-Afrika is.

Laai ’n gratis publikasie af: Careers Unlimited for Learners.

Kyk na raad van Unisa se kant: How do I make a career choice?

Besoek http://helpendehand.co.za/loopbaan/ vir bekostigbare beroepsvoorligting.

Sluit by JuniorTukkie aan of besoek sommer net hul webwerf vir hope inligting en raad oor ’n wye verskeidenheid onderwerpe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.