Besigheidsbytjies se sakeplan: Ontwikkel jou idee

(Foto: Glenn Carstens-Peters/Unsplash.)

Deur Leandie Bräsler

Daar is baie kinders en tieners wat hul eie ondernemings het. Om met jou eie besigheid te begin, het jy eerstens ’n uitstekende idee vir ’n onderneming nodig en tweedens ’n soliede sakeplan.

Die opstel van ’n sakeplan kan gekompliseerd raak, maar dit hoef ook nie te wees nie. Solank jou plan ’n paar noodsaaklike komponente bevat, het jy alles wat jy nodig het om te begin.

Maak sommer nou al van die ekstra tyd in die inperkingstyd gebruik om aan jou sakeonderneming te werk en maak seker dat jy tussen 1 April en 31 Julie 2020 vir AfriForum en AfriVriendelik se Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie inskryf. Hierdie kompetisie word aanlyn bestuur op www.besigheidsbytjies.co.za en inskrywings is absoluut gratis. Laerskoolleerders en graad 8- en 9-leerders kan hiervoor inskryf. Daar is groot pryse op die spel.

Hier is ’n paar wenke om jou sake-idee vorm te gee:

Deel 1: Ontwikkel jou sake-idee

  1. Skryf ’n besigheidsplan neer

In ’n besigheidsplan word daar uiteengesit hoe jou besigheid ’n wins gaan maak en watter tipe produkte of dienste jy gaan verskaf. Die opstel van ’n besigheidsplan kan jou help om jou besigheid so te beplan sodat jy nie net blindelings werk nie, maar ’n doel voor oë het. Dit kan jou ook help om die koste van die opstel asook die bestuur van jou besigheid te bepaal sodat daar nie onverwagse kostes opduik nie. ’n Besigheidsplan sal ook vir ander en vir jouself wys dat jy regtig ernstig is om ’n besigheid te begin.

  1. Skryf al jou moontlike besigheidsidees neer

Dink aan al die spesiale vaardighede wat jy het en oorweeg ook die tipe besigheid wat ’n produk/diens sal voorsien wat jou dorp of gemeenskap nodig het. Jy moet ook dink aan die hoeveelheid vrye tyd wat jy in jou daaglikse rooster het om aan jou besigheid te bestee.

  • Is jy tans besig met skool of het jy vakansie? Dink oor wanneer die werk van jou besigheid gedoen sal word.
  • Oorweeg besigheidsidees wat seisoenaal van aard is. As dit byvoorbeeld naby Kersfees is, kan jy aan idees dink wat geskik is vir daardie teikenmark, soos om geskenkpapier te voorsien, om vir mense geskenke toe te draai of om geskenkpakkies of -bokse te maak.
  • Dalk is dit in die middel van die somer en dan kan jy dalk ’n koeldrankstalletjie oopmaak in die omgewing waar jy bly.
  1. Besluit of jy ’n produk wil verkoop of ’n diens wil verskaf

Soos jy jou lysie opstel, dink aan wat elkeen van hierdie idees sal bied – ’n produk of ’n diens. Skep jy iets wat jy sal kan verkoop? Of voer jy ’n spesifieke aksie uit waarvoor jy kan geld vra?

  • Voorbeelde van produkgedrewe sakeonderneming: koekies bak, die bou van voëlhuisies, die maak van geskenkmandjies, die verkoop van lekkers, die skep van geskenkkaartjies, of om hondjie-lekkernye te maak.
  • Voorbeelde van diensgedrewe sakeonderneming: om karre te was, troeteldiere op te pas, babas of klein kinders op te pas, huise skoon te maak, mense se honde te neem vir ’n stappie, grasperke te versorg (sny iemand se gras), rekenaars te herstel, of om rekenaarvaardighede vir ouer mense te leer, om net ’n paar moontlikhede te noem.
  • Jy moet buite die boks dink!
  1. Kies die idee wat die beste by jou vaardighede pas
  • Is jy dalk baie goed in tegnologie en mal daaroor om met rekenaars te werk? Dit sal dan ’n goeie idee wees vir jou om ’n rekenaarherstelwerkdiens of diens vir die opstel van toestelle te begin.
  • Is jy dalk baie lief vir diere? Oorweeg dit dan om dienste aan te bied waar jy na mense se troeteldiere omsien.
  • Miskien is jy handig en kunssinnig en hou dalk daarvan om handgemaakte juwele of geskenkmandjies te maak. Sulke produkte is baie geskik om te verkoop.
  1. Besluit op ’n naam vir jou besigheid

Wanneer jy eers vasgestel het wat jou idee is, moet jy daarna besluit wat die naam van jou besigheid moet wees. ’n Goeie besigheidsnaam moet beskryf wat jou besigheid bied. Dit moet ook ’n naam wees wat mense maklik sal onthou.

  • Maak dan ook seker dat jou besigheid se naam maklik genoeg is om uit te spreek. Slim en unieke besigheidsname werk altyd goed.
  • Onthou net dat die naam verband moet hou met wat jou besigheid behels (die produk wat jy verkoop of die diens wat jy lewer).
  1. Skryf ‘n kort paragraaf oor wat jou sake-idee en -doelwitte behels

(Grafika: Verskaf.)

As ‘n toekomstige besigheidseienaar moet jy jou besigheid van A tot Z ken. Jy sal die konsep ook maklik moet kan verduidelik en sê waaroor dit gaan as ander mense jou daaroor uitvra – daarom is dit belangrik om jou besigheidsidee te verwoord en neer te skryf.

  • Beskryf wat jy gaan bied en waarom jou besigheid ’n goeie idee is;
  • Lys ook enige spesifieke doelstellings vir jou besigheid; en
  • Skryf neer wat jy dink jou produk/diens uniek maak.

Laai gerus gratis AfriForum en AfriVriendelik se Besigheidsbytjiegids hier af waar jy solank aan jou sakeplan kan begin werk. Besigheidsbytjies is ’n inisiatief van AfriForum.

  • Leandie Bräsler is AfriForum se bestuurder vir junior jeugleierskap

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.