Beskerm die kwesbares in die gemeenskap

omgee-broer-suster-kinders

Foto: Unsplash/Pixabay.com

Kinders is van die mees kwesbare mense in ons samelewing, en hul veiligheid moet van die grootste belang geag word – net onlangs is klein Poppie se ouers gevonnis nadat hul haar mishandel en gedood het.

Hoe kon hierdie tragedie voorkom gewees het? As lede van die gemeenskap dalk vroeg genoeg ingegryp het en die owerhede laat weet het, kon hul stappe gedoen het om die kind na veiligheid te verwyder.

“’n Kind wie se lewe in gevaar is, moet na ’n plek van veiligheid verwyder word en van daar na ’n pleeghuis/-familie geneem word. Dit is nie die laaste hoofstuk vir die ouers nie, aangesien pleegsorg se einddoel is om die kind met die biologiese ouers te herenig,” sê Henda van der Merwe, direkteur van die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) Gauteng-Oos.

“Om ’n kind te verwyder, beteken nie dat die ouers die kind nooit weer sal sien nie – ’n opvatting wat ons maatskaplike werkers gereeld op die lyf loop. Hierdie opvatting beteken soms dat lede van die gemeenskap bang is om die kind te hulp te snel. Dit is hierdie vrees om betrokke te raak, wat beteken dat kinders se veiligheid nie altyd prioriteit geniet nie – en in die ergste gevalle kinders selfs gedood word, soos in Poppie se geval”.

’n Duidelike pleegsorgooreenkoms wat die biologiese ouers en kontak onder supervisie insluit, word opgestel, en die ouers word aangemoedig en bemagtig om hul vaardighede op alle vlakke te verbeter. Hierdie is ’n intensiewe proses wat deur die maatskaplike werker gemonitor word.

Van der Merwe beklemtoon dat kinders ’n reg op veiligheid het.

“Junie, die maand waarin ons op ons kinders en jeug fokus, behoort ons te help om te besin oor kinders se veiligheid in hul huislike omstandighede. Ingevolge die Kinderwet, doen ons alles in ons vermoë om kinders in kontak met hul biologiese ouers te hou, en ons bou altyd op die hoop dat die ouers se omstandighede in so ’n mate sal verbeter dat die kind na sy eie huis kan teruggaan.”

Van der Merwe verwys na die gebrek aan plekke van veiligheid in die Pretoria-omgewing.

“Pleeghuise is ook min en het te min kapasiteit, daarom steun ons sterk op pleeggesinne. Ons dienste in hierdie gebied sluit ook ondersteuning aan pleeggesinne in, aangesien pleegsorg ’n hele gesin se lede raak – hierdie kinders, veral dié wat erge trauma beleef het, plaas ’n emosionele las op almal wat met hulle in aanraking kom.”

CMR Gauteng-Oos ondersteun tans 896 kinders in pleegsorg en het verlede jaar 135 sake in die Kinderhof gefinaliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.