Beskerm jou kind teen pornografie

Foto: Adrien Olichon/Unsplash

In ’n tyd waar kinders somtyds meer as hul ouers van tegnologie weet, raak dit al hoe belangriker vir ’n ouer om ’n veilige ruimte te skep waarin ’n kind die aanlynwêreld met minimale risiko kan verken. Suid-Afrika is die topselfoongebruiker van pornografie (beskikbaar op Pornhub) een die grootste wêreldwye pornografiese webwerwe.

As dit kom by die tyd wat kykers wêreldwyd op hierdie webwerf spandeer, haal Suid-Afrika die tweede plek, en die kans dat jou 11-jarige kind aan pornografie blootgestel word, is groot. Dis juis oor skokkende statistieke dat ouers nie net meer kan aanvaar hul kinders kan die Internet sonder toesig gebruik nie.

Focus on the Family het onlangs landwyd ’n praatjie aangebied waar twee welbekende ouerskapkenners Rob Parsons en Katherine Hill van Engeland aan ouers goeie, praktiese wenke gedeel het om tegnologiegebruik in hul huis te bestuur.

Hill glo ouers is die skeppers van die atmosfeer in ’n huis.

“Dit help nie om negatief te wees oor jou kinders se gebruik van tegnologie nie. Probeer eerder om betrokke te wees. Neem saam met jou kinders ‘selfies’ en hou die deure van kommunikasie so oop.”

Sy meen dit is egter belangrik om duidelike reëls vir aanlyn- en tegnologiegebruik in die huis te stel. Reëls waarby ouers ook moet hou.

“Ouers moet ’n goeie, gesonde voorbeeld stel van hoe tegnologie gebruik kan word. Dit is ’n goeie idee om, wanneer die kinders hul tienerjare betree, in ’n gesinsvergadering te belê waartydens die huisreëls betreffende tegnologiegebruik vasgestel en bepreek word.”

Sy meen ’n slimfoon of tablet hoort nie in ’n kind se kamer ná bedtyd nie.

“Stel eerder ’n gemeenskaplike herlaaistasie vir al jul toestelle op in die eetkamer of kombuis waar die hele gesin se toestelle gedurende die nag kan bly.” Sy beveel ouers aan om ’n kind se blootstelling so lank as moontlik van ’n slimfoon te weerhou.

“Koop eerder in die begin vir ’n kind ’n goedkoper foon met minder funksies.” Sy glo vas kinders kan nie die aanlynwêreld verken sonder betrokke ouers nie.

“Maak seker jy belê eers in ’n goeie veiligheidsprogram wat jou toelaat om jou kind se tyd aanlyn te monitor, sekere gevaarlike webwerwe te blok en wat jou toelaat om te sien watter webwerwe jou kind besoek en hoe lank hy/sy tyd daarop spandeer.”

Focus on the Family het onlangs landwyd ’n praatjie aangebied waar twee welbekende ouerskapkenners Rob Parsons en Katherine Hill van Engeland aan ouers goeie, praktiese wenke gedeel het om tegnologiegebruik in hul huis te bestuur. Foto: Verskaf.

Wortels en vlerke

Parsons glo ouers moet ’n goeie grondslag vir ’n kind lê, waarop die kind kan terugval as hy/sy besluite moet neem sonder die ouers se teenwoordigheid.

“Ouerskap gaan oor wortels en vlerke.  In die eerste sewe tot tien jaar van ’n kind se lewe moet jy sterk wortels lê sodat wanneer jou kind stelselmatig wil leer vlieg, jy ook die vertroue het om hom/haar te laat gaan.”

Hy meen dit is belangrik om tyd saam met jou kinders te deur te bring en seker te maak julle lag sommer baie saam.

“Sleep jul matrasse na die sitkamer en hou ’n gesinsaand, leer ken jou kinders en bou ’n goeie vertrouensverhouding met hulle, want reëls sonder ’n verhouding kweek net opstandigheid.” Hy meen goeie grense skep vir ’n kind ’n veilige ruimte waarin hy/sy die wêreld kan verken.

“ ’n Kind sal baie maatjies maak oor sy leeftyd, maar hy het net een paar ouers. Jou kinders gaan nie altyd van jou hou nie, maar dit is ons roeping as ouers om verantwoordelike volwassenes groot te maak wat kan bydra tot die samelewing, eerder as om ons kinders se aanvaarding na te jaag ten alle koste.”

Belangrike statistieke

iMe Movement is begin deur Karel and Zoe Willems. Hulle help kinders wat aan pornografie verslaaf is en bestuur ’n veldtog wat ouers inlig oor die gevare van aanlyngebruik. Op die veldtog se webwerf is verskeie statistieke ten opsigte van internetgebruik:

  • 12% van die webwerwe aanlyn is pornografies.
  • 42,7% van aanlyngebruikers kyk na pornografie.
  • 90% van kinders tussen die ouderdom van 8 en 16 wat aanlyn tyd spandeer, word blootgestel aan pornografie.
  • 68% van ouers dink nie hul kinders se aanlyngebruik hou risiko’s in nie.
  • 49% van ouers praat glad nie met hul kinders oor veilige aanlyngewoontes en wat om te maak as iemand hulle digitaal boelie of ontstel nie.

Vir meer inligting kyk die onderhoud wat Errol Naidoo van die Family Policy Institute met hulle gevoer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

RW ·

Nou hoe moet mens dit doen as dit nou deel gaan wees van die nuwe leerplan? Ek sal dit nie kan aanvaar nie. Kinders se onskuld op daardie ouderdom word geskend. Elke ding moet op sy tyd gebeur.

Nee Nee Nee ·

nou wonder ons hoekom is die verkragting syfers so hoog

Johan ·

Ek in die jare 50 grootgeword, en daai was taboe gewees, plaas hulle liewers liewers dinge in die skole inbring soos houtwerk, metalwerk, elektronika soos in die ou dae, tot std 8, en dan kan kinders kies waarmee hulle aan wil gaan , en darem basiese kennis he en makliker by besighede inkom wat ek dink meer aanvaarbaar sal wees

Estelle ·

SA in die tweede plek? Nee komaan mense julle moet begin plan maak, ons moet nommer een wees! Wys die res van die wereld hoe goed julle kan doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.