Bespaar op jou kind se skryfbehoeftes vir skool

Skryfbehoeftes-vir-die-skool

Die aankope van skryfbehoeftes vir die nuwe skooljaar is maklik en goedkoop as jy daarvoor begroot het. Foto: Argief.

Die aankope van jou skoolkinders se skryfbehoeftes hoef jou nie ʼn arm en ʼn been te kos nie. Maroela Media het gaan uitvind hoe jy op dié uitgawe kan bespaar.

Suid-Afrikaners beskou onderwys en opleiding as een van die top drie redes om te spaar en terwyl ouers gereeld voorsiening maak vir groter uitgawes soos skooluniforms en handboeke, laat hulle dikwels die koste van skryfbehoeftes buite rekening, of onderskat dit.

Volgens Eunice Sibiya, hoof van FNB se verbruikersopleiding, kan die aankope van een van elkeen van die items wat op ʼn kind se skryfbehoeftelys verskyn, maklik tot R400 beloop. Sy glo die volgende wenke kan jou help om op die kostes van skryfbehoeftes aan die begin van die jaar te besnoei:

• Koop skoolvoorraad stuk-stuk aan:
“Voeg skryfbehoeftes by jou maandelikse of weeklikse inkopielys. Dit maak die aankope daarvan ligter op jou sak en jy kan so ook op die uitkyk wees vir winskopies terwyl jy net die basiese items in Januarie sal hoef aan te koop,” sê Sibiya.
Maak sommer ook van die geleentheid gebruik om jou kinders te leer van ʼn begroting. Verdeel jou skryfbehoeftes se aankope in afdelings, stel ʼn begroting op vir elkeen van hierdie afdelings se inkopietogte en vra jou kind om te help om rond te soek vir winskopies en beste pryse voordat julle die winkels besoek. So leer jou kind ʼn hele paar waardevolle finansiële lesse soos beplanning rondom uitgawes, hoe om by ʼn begroting te hou en die beginsel van vertraagde bevrediging omdat sommige van die items eers met die volgende ronde van inkopies aangekoop kan word.

• Bou ʼn kas vir skryfbehoeftes op:
ʼn Kas, laai of rak vir skryfbehoeftes met ʼn voorraad van penne en skryfblokke kan dikwels goedkoper uitwerk as om te probeer kapitaliseer op die winskopies alleen. “Moenie vergeet om voorraadopname van elke kind se skryfbehoeftes te doen aan die einde van die jaar nie,” herinner Sibiya. “Almal wil graag nuwe skryfbehoeftes hê vir die nuwe jaar, maar daar is dalk ʼn paar items wat nog bruikbaar is – hergebruik dit of ruil dit onder die kinders uit.”

• Kyk uit vir veeldoelige geskenke:
Tegnologie word deesdae meer en meer dikwels in die klaskamer aangewend. Terwyl kinders in die laer grade nog nie tabletrekenaars gebruik nie, is dit moontlik dat hulle hierdie soort rekenaars of ʼn skootrekenaars in die hoërskool gaan benodig. In plaas daarvan om die aankope van hierdie rekenaar in die nuwe jaar te doen, kan ʼn mens dit vir ʼn verjaardaggeskenk aankoop. “Alternatiewelik kan jy die voorstel aan jou kind maak dat as hy of sy vir die helfte, of ʼn derde, van die rekenaar se prys kan spaar, sal jy die bykomende gelde vir die prys bydra. Hierdie tegniek leer jou kind van ʼn spaarkultuur en help ook dat hulle eienaarskap van die rekenaar neem omdat hulle bygedra het om daarvoor te betaal,” sê Sibiya.

• Onthou van geskenkbewyse en belonings op lojaliteitsprogramme:
Meeste winkels het deesdae ʼn lojaliteitsprogramme wat jou kontant teruggee op jou aankope of jou die kans gee om punte bymekaar te maak op jou aankope. Gebruik hierdie punte vir die aankope van wit skoolhemde of kosblikkies. Alternatiewelik kan jy ongebruikte geskenkbewyse vir die aankope van skoolvoorrade aanwend.

• Beplan vir die res van die jaar:
Die skooljaar is gewoonlik vol aktiwiteite wat bykomende uitgawes kan beteken. Voorkom hierdie ekstra kostes deur daarvoor te begroot. Vra die skool se kalender aan met die aktiwiteite wat vir die jaar beplan word en begroot rondom items soos die sportseisoene, skooltoere en ander aktiwiteite soos ʼn Valentynsokkie of matriekafskeiddans.

“Laat dit jou lei om te bepaal hoeveel geld jy per paar maand in ʼn spaarrekening moet wegsit vir hierdie aktiwiteite. Dit gaan jou nie net rus vir jou siel besorg nie omdat jy weet daar is geld beskikbaar vir hierdie aktiwiteite nie, maar jou geld sal ook groei danksy saamgestelde rente. Daar is geen rede om onverhoeds betrap te word deur skooluitgawes, wat relatief klein is in vergelyking met maandelikse skoolgeldfooie nie, ʼn begroting en ʼn paar slim spaartegnieke is al wat jy benodig om op hoogte van die uitgawes te bly,” meen Sibiya.

* Hoe bespaar jy op jou kind se skooluitgawes soos skryfbehoeftes? Ons hoor graag wat jy doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Boesman ·

Ek het alles by Checkers gekoop. Hulle is die goedkoopste en ek kry nog eBucks ook terug daarop!

Naomi ·

Ons bly in n klein dorpie. Ek het by een punt begin en deur die dorp geloop met my 4 kinders se lysies. Ek het elke winkel se pryse neer geskryf en toe weer terug gegaan na die goedkoopste winkels. My kinders se skryfbehoeftes het my R1200 uit die sak gejaag. Ek moet bylas dat dit skoolkouse, oortrek papier, plastiek alles insluit. Al my nuwe graad eentjie se goed ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.