Betaal ons ʼn te hoë prys vir wêreldklas skole-aktiwiteite?

onderwyser

Foto: Homeyesterday.com

Hierdie artikel is oorspronklik op Helpende Hand se webwerf gepubliseer en word met vergunning op Maroela Media geplaas. – Red

Dr. Pierre Edwards
Hoof, Afrikaanse Hoër Seunskool

Dit is geen geheim dat onderwys nou al vir meer as ʼn dekade knaend in die nuus is en, veral wat die departement van onderwys betref, is die nuus meestal nie goed nie.

Ek verskuif die klem na goeie nuus: Ons funksionele skole met hul besondere buitemuurse aanbod het – tussen wêreldklasskole – nie hul gelyke nie.

Dat ons in Suid-Afrika blind is vir die wêreldklasopvoeding wat ons ons leerlinge bied, is by my tuisgebring tydens die konferensie van die International Boys’ Schools Coalition in 2011 in Londen. Die samekoms is by een van dié stad se voorste privaatseunskole aangebied.

Een van die sessies het op skolesport gefokus. Die aanbieders was afgevaardigdes van ʼn vooraanstaande seunskool in Sydney. Met die Australiërs wat bekend is vir die standaard van hulle sport en die feit dat ek kort tevore twee hoogaangeskrewe seunskole in Sydney besoek het, maar nie genoeg tyd gehad het om ʼn volledige beeld te kry nie, was ek gretig om meer oor hul skolesport te wete te kom. Groot was my verbasing toe die aanbieding bloot oor ʼn doodgewone Saterdagbyeenkoms tussen twee skole gehandel het. Uit hulle aanbieding het die volgende geblyk: Wat die aantal spanne betref, is daar nie veel wat dit van ʼn tradisionele winter-Saterdag in Pretoria onderskei nie, behalwe dat die klein pawiljoen feitlik dolleeg was – van toeskouers was daar eintlik nie veel sprake nie.

Die afgevaardigdes was in vervoering. Dít het my aan die dink gesit oor wat daar deur die jare in hierdie verband in Suid-Afrika tot stand gebring is.

Ongelukkig het niemand my oor die stand van ons skolesport uitgevra nie. Ons Suid-Afrikaners sou sóveel kon vertel.

Hoe omvangryk ons buitemuurse program is, is verder onderstreep deur ʼn musikale item of twee. Die (redelik beskeie) optrede van ʼn klein ensemble en ʼn sanggroep van die gasheerskool het die gehoor in vervoering gehad. Dawerende applous!

Onwillekeurig het ek gedink aan die hoë vlak van koorafrigting wat in Suid-Afrika, veral by Afrikaanse skole, aangebied word.

Na die optrede van die gasheer se kunstenaars is ek gelukkig nie in ʼn hoek gedruk om komplimente uit te deel of om oor die stand van kulturele aktiwiteite by skole in my vaderland uit te wei nie.

Laat ons  op eie bodem bestek neem. Wat bied ons op buitemuurse terrein vir ons kinders?

Onder die ou TOD het ʼn bestel beslag gevind waaruit ons steeds groot voordeel trek – ʼn bestel waarin die volgende geld:

Kultuur

Ter plaatse is dit nie ongewoon om ʼn skoolkoor met soveel as 80 tot 100 lede en ʼn voltydse dirigent te hê nie. Koorfeeste trek sale vol betrokke ouers. Enige persoon wat al die finaal van ATKV se jaarlikse nasionale koorkompetisie bygewoon het, sal weet op watter professionele vlak koorsang by ons bedryf word en hoe betrokke die skoolgemeenskappe is.

Aan vanjaar se Pretoria Eisteddfod het daar nie minder nie as sewe skoolorkeste en
–ensembles deelgeneem.

Groot skouspelagtige, afgeronde verhoogproduksies (revues, blyspele en operettes) is ook nie vreemd by funksionele skole nie. Vanaf 2015 kan Gauteng se skole ook revue-groepe en a cappella-sanggroepe vir ATKV-kompetisies inskryf.

In 2015 het daar 185 skooltoneelgroepe, elkeen met ʼn kundige regisseur en tegniese span, aan die ATKV Tienertoneel deelgeneem.

Vanjaar het daar landswyd ongeveer 4 000 leerlinge vir die ATKV se redenaarskompetisie ingeskryf en 540 spanne (dit is 1299 leerlinge) neem aan die nasionale debatskompetisie deel.

Ou nuus! Elke funksionele skool het sy eie koerantjie met ʼn leerlingredaksie en ʼn fotograaf of drie.

Sport

Voor u geestesoog is die volgende tonele bekend:

ʼn Skooljaar wat ingelui word met knap georganiseerde weeklikse atletiekbyeenkomste en volgepakte pawiljoene. Uiteindelik loop die atletiekseisoen ten einde met die interhoërs waar duisende kinders en ouers vasgenael sit.

In dieselfde seisoen is daar swemgalas en waterpolowedstryde en swaai die manne die wilgerlatte op die krieketveld. Woensdagmiddae ry die skoolbussies met gholfspelers om aan die plaaslike ligas deel te neem. Die tennisspelers en tafeltennisspelers is ook bedrywig. Skaakspelers sit met groot konsentrasie teenoor hul opponente. En jukskei is vir baie jongelinge nie uit die oude doos nie.

In die winter speel die laer spannetjies soggens die ryp van die rugby- en hokkievelde af. Skole-derbies – dikwels selfs met TV-dekking – lok tussen 10 000 en 15 000 toeskouers. En daar is netbal en korfbal.

Die fietsrykultuur het ook na skole oorgewaai en die gewildheid van stap en draf het nuwe lewe in skole se landloop- en maratonklubs geblaas.

Ons kyk hier na ʼn baie gesofistikeerde sisteem: toere, toernooie, professionele afrigting, gimnasiums met biokinetici en spesiale diëte – selfs sportsielkundiges is nie vreemd nie.

Al hierdie aktiwiteite het strukture wat interskole reël en ligabepalings ens. bestuur.

Waar kry jy dít alles – op skolevlak – elders in die wêreld?

Vakverwant

Benewens die talle geleenthede wat seuns en meisies op kulturele gebied en op die sportveld gebied word, kan leerlinge verder verryk word deur deelname aan ʼn hele aantal vakverwante buitemuurse aktiwiteite.

Byna elke skoolvak het ʼn olimpiade waaraan hoërskoolleerlinge kan deelneem. Daar is ook vasvrakompetisies, skryfkursusse en –kompetisies. Van laasgenoemde is die SA Akademie se Poort-projek ʼn goeie voorbeeld. Duisende jong wetenskaplike neem jaarliks aan Ekspo deel en die bestes kan selfs oorsee met hul projekte gaan spog.

Saamgevat: ʼn Mens is opnuut beïndruk met dit wat die funksionele skole, benewens baie goeie onderrig, bied om hulle leerlinge op te voed, verder te ontwikkel en te verryk. Sentraal in hierdie suksesverhaal staan natuurlik, in hierdie volgorde, kundige en geroepe onderwysers en meelewende ouers. Geen ander eerstewêreldland is ons in hierdie opsig voor nie.

Maar ons blink munt het ʼn dowwe agterkant …

Ek neem u terug in tyd. Onder ʼn nuwe onderwysbedeling en ʼn nuwe tydsgees twintig jaar gelede het gerugte knaend die ronde gedoen dat die doodsklok vir buitemuurse aktiwiteite, soos dit vroeër onder die Transvaalse Onderwysdepartement (TOD) ontwikkel het, gelui het. Tien jaar gelede het ʼn dosent aan ʼn vooraanstaande Afrikaanse universiteit op die SAOU-konferensie oor die skool van die toekoms gepraat en onder groot gejuig uit sekere oorde voorspel dat skolesport binne tien jaar sou verdwyn.

Van hierdie voorspelling het daar niks gekom nie. Om die waarheid te sê, die destydse model C-skole het hulle buitemuurse aanbod na vlakke gelig waar dit nie vantevore was nie.

Vra jy egter laer- en hoërskoolhoofde na hulle mening oor die huidige stand van buitemuurse aktiwiteite, is die algemene gevoel dat daar tans daarmee oorboord gegaan word. Een hoof verwoord die klemverskuiwing soos volg: Die primêre opvoedingsdoel met sport en kultuur (om gebalanseerde volwassewording te verseker) het in prestasiegedrewe deelname ter wille van die skool se naam en die ouer se prestige verander.

Voorbeelde: Kinders word dikwels deur ouers wat absoluut in hulle diens staan, van een aktiwiteit na die ander gejaag. Hierdie kinders het weinig tyd om net kind te wees en leef onder groot prestasiedruk – tuis en by die skool. Daar is laerskole wat reeds so vroeg soos September rugby begin oefen – vir die volgende jaar se seisoen wat in April open. Seuns twaalf jaar oud en selfs jonger, doen reeds gimnasiumwerk. By sommige laerskole speel spannetjies 50 rugbywedstryde. Ironies: slegs 2% van laerskoolseuns wat Cravenweek speel, draf uiteindelik vir ʼn provinsiale span uit. Iets is fout.

Publisiteit dra tot die probleem by. Dit is per slot van rekening wenne en prestasies wat nuuswaardig geag word en publikasies haal. Geen prestasie … geen publikasie. Ter wille van prestasie koop ouers byvoorbeeld toesprake vir hul kinders vir soveel as R1 000 per toespraak in ʼn poging om hulle na ʼn volgende ronde van ʼn kompetisie deur te kry. Wat het die kind hierby gebaat?

Onderwysers word uitgebuit. Hulle kurrikulêre verpligtinge is meer as genoeg om ʼn normale werksdag te vul, maar hulle word soms onder onmenslike druk geplaas om veel verder as die spreekwoordelike ekstra myl te loop met kursusse, toere, klinieke, afrigtingsessies, skeidsregterskursusse, ens. En, ten spyte daarvan dat hulle hulle beste onder die omstandighede gegee het, gaan  felle kritiek dikwels daarmee gepaard as die gewaande uitkoms nie bereik is nie.

Ouers en selfs beheerliggame wat nie altyd opvoedende onderwys in fokus hou nie, bepaal soms skole se buitemuurse aanbod sonder inagneming van onderwysers se primêre belading as leerkrag en is soms voorskriftelik oor prestasievlakke wat bereik moet word. Om sake te vererger, skuil sommige hoofde met eie agendas agter hul beheerliggame en beskerm nie hul personeel teen misbruik nie.

Die wyse waarop die hantering van buitemuurse aktiwiteite skeefgetrek het, lei verder tot spanning tussen skole – juis in ʼn tyd waarin wedersydse ondersteuning so nodig is. In die woorde van een van my gespreksgenote: Ons lê in die loopgrawe en skiet op mekaar, terwyl daar ʼn groter stryd is om te stry – ʼn stryd wat werklik die heil van ons kinders raak … ons taal, ons kultuur en opvoedende onderwys.

Aanbeveling

Ek wil die geleentheid gebruik om in die bres te tree vir hoofde en personeel, veral met die oog op die aanslag van owerheidsweë teen Afrikaanse skole.

Ouers sal moet besin oor prioriteite. Die omvang van buitemuurse aktiwiteite en ouers se toenemende aandrang op onderwysergedrewe spesialisasie (veral op sportgebied) is myns insiens nie volhoubaar nie. Een skool het in hierdie verband die lig begin sien: Hulle het ʼn kinderontwikkelingsprogram in sport (in skooltyd?) van stapel gestuur wat kinders twee keer per week fisies help ontwikkel. Dit het tot gevolg dat afrigters minder tyd hoef te spandeer aan fiksheid, soepelheid, ens.

Indien ʼn skool se buitemuurse aanbod meer tyd en geld as sy akademiese program in beslag neem, is dit vir daardie instansie belangrik om ʼn waardeherbesinning te doen. Die hoofsaak moet die hoofsaak gehou word.

Wat buitemuurse aktiwiteite betref, swaai die stert waarskynlik, soos dit dikwels op ander terreine ook gebeur, die hond rond. Waarskynlik word die oordrywing van buitemuurse aktiwiteite deur slegs 10% van die betrokkenes gedryf. Goeie nuus: Uit ervaring weet ons dat 90% van die betrokkenes (ouers, hoofde, beheerliggaamlede, ens.) hulle ten doel stel om te sorg dat kinders gelukkig is en ʼn gebalanseerde opvoeding kry.

Mag hierdie 90% se stem toenemend hoorbaar word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Henk Venter ·

Ek is van mening dat daar te veel gemaak word van sport in ons skole. En dit skole die hef in die hand laat om ouers liederlik uit te buit! Ek praat in die week met ‘n vriend van my wat twee kinders op skool het en wat in besonder BAIE goed presteer – akademies en sport. Die seun speel rugby, word in die Cravenweekspan ingesluit en dit kos hom R7500-00. Sy dogter word in die provinsiale hokkiespan ingesluit, sy is vooraf aangese om R1000-00 saam te bring indien sy ingesluit sou word. NET vir registrasie. Sy word in ‘n uitsoek atletiekgroep ingesluit vir ‘n toer na Europa, R45000-00 later, sakgeld uitgesluit! Wat dan nou van die arm kind wie se ouers dit NIE kan bekostig nie? Daardie ou is heelwarskynlik beter as baie ander, maar weens die feit dat ons skole in winsgewende organisasies verander het en nie meer op die kind gevestig is nie, sal hy nooit die geleentheid kry nie!! Maak dit dan nou van ons skole Wereldklas skole?

ouer ·

Henk stem 110% saam en glo daar is meer middelklasouers wat selfde al lankal agtergekom het. UITBUITING!

Leendert van Oostrum ·

‘n Dringend-noodsaaklike en gesaghebbende vermaning van Dr Edwards.

Ek dink egter dat ook die blink kant van sy munt nie so blink is as wat hy beskryf nie. Ek meen dat, vir die grootste gros, skoolsport soos volg onthou word: Die eeste week van die skooljaar word volledig daaraan gewy om die 90% leerlinge te identifiseer wat NIE vir die skool medaljes gaan inbring nie.

Hulle word op die paviljoen geplaas om vir die res van die jaar te skree en te vreet.

Daarom lê die kern van Dr Edwards se boodskap vir my in sy pleidooi om “waardeherbesinning”. Maar dit geld elke aspek van die onderwys, insluitende die idees en aannames waarop die skool self as instelling gegrondves is.

John ·

Dit is veral sekere sekondere skole wat sport bo akademiese prestasie stel. Dit is nie net skole nie maar ook baie ouers wat behep is met sportprestasies. Sport is gesond en dit sorg vir volronde persoonlikheidsontwikkeling, maar dit bring selfs vir die bestes net kortstondige loopbane en daarna sukkel hulle met die nagevolge van beserings. Depressie volg omdat hulle nie voorsiening gemaak het vir die alledaagse lewe van swoeg vir sweet nie. Wat is die teenoorgestelde van roem?

Emile ·

Hoe min ek ook al hou van die swaar klem op sportprestasie, dink ek dit moet ook in die lig van die huidige politieke klimaat van marginalisring van blankes gesien word. Ouers wil he^ hul kinders moet ‘n selfstandige toekoms he^ en probeer om hulle voor te berei vir toegang tot die minder-wordende geleenthede vir blankes – hetsy in provinsiale/nasionale spanne of in die arbeidsmark. Daarom ook die uitermate hoe” druk op akademiese prestasie. Met kwotastels in universiteitstoelating is dit slegs die beste blanke presteerders wat toelating kry.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.