Boeke so belangrik soos borsvoeding

Foto: Jaco Jacobs

Foto: Jaco Jacobs

Deur Jackie Pienaar-Brink

Die sleutel tot gesondheid en intellektuele ontwikkeling lê in die eerste 1 000 dae van ʼn kind se lewe opgesluit.

Van die begin van die swangerskap tot met ʼn kind se tweede verjaardag vind ontwikkeling op fisieke, intellektuele en emosionele vlak die vinnigste plaas en vergroot die brein met 80%, sê prof. Mariana Kruger, uitvoerende hoof van die Departement Pediatrie en Kindergesondheid in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch.

In Suid-Afrika word baie kinders egter die reg op die beste versorging in hierdie tydperk ontsê. Die negatiewe kettingreaksie wat dit ontketen, vind tot in volwassenheid en in die samelewing as geheel weerklank: Chroniese wanvoeding lei tot swak breinontwikkeling wat weer swak skoolprestasie meebring en uiteindelik lewenslange armoede tot gevolg kan hê, verduidelik Kruger.

“Swak voeding het ʼn nadelige uitwerking op ʼn land se bruto binnelandse produk, wat 2% tot 3% swakker kan wees,” voeg sy by. “Wêreldwyd word die direkte koste vir gesondheid jaarliks op nagenoeg $20 tot 30 miljard dollar geraam.”

Wanvoeding gaan egter nie noodwendig hand aan hand met armoede nie. Dít word bewys deur die feit dat lande soos Suid-Afrika, Botswana en Mexiko, met ʼn relatief verhoogde nasionale rykdom, nie goed vaar op hierdie gebied nie, terwyl die teendeel geld in arm lande soos Malawi, Madagaskar en Peru.

In Suid-Afrika moet vele uitdagings oorkom en fokusareas ontwikkel word.

Gesinsbeplanning en borsvoeding

Wat geboortebeperking en gesinsbeplanning betref, is daar min leiding, sê Kruger. “Goeie geboortebeperking is belangrik sodat kinders in arm gesinne nie te vinnig ná mekaar gebore word nie.”

Boonop word geboortebeperkings- en gesinsbeplanningsklinieke swak besoek. Oningeligtheid, afstand en koste speel ʼn groot rol, met vroue wat dikwels ʼn dag by die werk moet afneem om daar uit te kom en soms weggestuur word omdat hulle op die verkeerde dag opgedaag het.

In die eerste 1 000 dae is die gesondheidswerker dikwels die toegangspoort tot inligting oor verbeterde voeding vir ma en kind, higiëne en behandelbare siektes soos diarree.

Eksklusiewe borsvoeding is die enkele belangrikste stap vir kinderoorlewing in die eerste ses maande ná geboorte, benadruk Kruger. Trouens, in ontwikkelende lande gee dit ʼn baba ʼn ses keer groter kans op oorlewing as kinders wat nie geborsvoed word nie.

Feit is egter: Die vigspandemie in Suid-Afrika en die gepaardgaande vrees dat die MI-virus van ma na kind oorgedra kan word, het daartoe bygedra dat borsvoeding plaaslik in groot mate op die agtergrond geskuif is. Omdat die staat lank alternatiewe voedings verskaf het, het dit die wanpersepsie gevestig dat dit die manier is waarop dinge gedoen behoort te word. Die siening het selfs ontstaan dat dit is hoe “ryk” mense te werk gaan, verduidelik Kruger.

Dwerggroei

Ná die eerste ses maande het die baba toegang tot gebalanseerde voeding nodig. In Afrika suid van die Sahara is dwerggroei (swak groei lengtegewys) egter aan die toeneem. Dit is ʼn onherstelbare toestand wat aan chroniese wanvoeding in die eerste periode toegeskryf kan word. Tans word meer as ʼn derde van alle kinders – 17 miljoen wêreldwyd – hierdeur geraak. Daar word geraam dat gesonde voeding tot op die ouderdom van 12 maande hierdie probleem met 20% kan verminder.

Gesondheid kan egter nie in isolasie gesien word nie, benadruk Kruger. “As ons ʼn kind in sy eerste 1 000 dae wil red, gaan dit nie net oor oorlewing nie, maar ook oor ontwikkeling en leer. Ons het net geslaag as ons ʼn kind in ʼn selfstandige individu ontwikkel het wat uiteindelik ʼn werk kry en daardie werk behou.”

Belang van lees

Kruger sê dit verstom haar dat bitter min ouers besef hulle kan al voor geboorte vir hul kinders begin lees om hulle te stimuleer. “In Suid-Afrika is ons baie goed met die voorkoming van vigs by babas, maar skolasties word daar nie genoeg vir kinders gedoen nie. Trouens, baie Xhosasprekende ma’s weet nie eens dat kinderboeke in hul eie taal bestaan nie. En ons weet kinders se onderwysuitkoms is net soveel beter as hulle in die eerste twee jaar op boeke ingestel is.”

Dr. Miemie du Preez, ʼn neonatoloog in dieselfde fakulteit, meen boeke is net so belangrik vir ʼn kind se toekoms as borsvoeding, inenting en toegang tot gesondheidsorg.

Sy is nou betrokke by ʼn leesprojek in die Tygerberg-kinderhospitaal, met mediese studente, verpleegkundiges of ander vrywilligers wat ma’s en kinders van alle ouderdomme aan boeke blootstel.

Saamlees (wanneer ouers aan hul eie kinders voorlees) word op verskeie maniere aangemoedig, selfs vir premature babas. “As dit gereeld gedoen word, kan die struktuur van die ontwikkelende brein verander,” sê Du Preez. “Elke baba wat in ons neonatale sale toegelaat word, ontvang ʼn kinderrympieboek in die ma se moedertaal en die ouers lees daagliks vir hulle. ʼn Droom is genoeg boeke sodat elke kind wat tot die Tygerberg-hospitaal toegelaat word, sal weggaan met ʼn prenteboek.”

Du Preez wys daarop dat 75% van alle vyfjariges in die Wes-Kaap volgens ʼn onlangse studie nie skoolgereed is nie. “Ons kan die skoolstelsel blameer, maar die eenvoudige waarheid is dat maksimale breinontwikkeling in die eerste drie jaar plaasvind en dat verlore geleenthede en ʼn gebrek aan stimulasie nie omgeswaai kan word nie.”

Politieke wilsbesluit

Uiteindelik is ʼn politieke wilsbesluit vir doeltreffende strategieë nodig, sê Kruger. Landswette, beleidsrigtings en regulasies moet verbeter word om beter omstandighede in die eerste 1 000 dae van ʼn kind se lewe te bevorder. (Met die veldtog “Regte begin, blink toekoms” was die Wes-Kaap vanjaar die eerste provinsie wat dít ʼn prioriteit gemaak het.)

Kruger lig borsvoeding weereens uit as van kardinale belang. ʼn Kopskuif is volgens haar nodig, met ma’s wat toegelaat moet word om in die werkplek te borsvoed en openbare vervoer wat toegerus moet word met sitplekke spesifiek vir borsvoedende vroue.

Ander laekoste-oplossings sluit in goeie higiëne (voorkom sterftes weens diarree), toepaslike aanvullende voeding, asook aanvullings soos sink, yster (verbeter weerstand teen infeksies) en vitamiene A (voorkom blindheid en verlaag die risiko van sterftes aan algemene kinderinfeksies).

Vennootskappe tussen die openbare en die private sektor kan help verseker dat die nodige voedingsplanne vir ma’s en kinders ingestel word.

In Suid-Afrika is primêre gesondheidsorgklinieke in die praktyk verpleegstersgedrewe, maar die geweldige tekort aan verpleegkundiges en onvoldoende opleiding bly ʼn knelpunt. “Dis belangrik om in gesondheidswerkers te belê, veral diegene wat betrokke is tydens swangerskap en by primêre gesondheidsorgklinieke,” sê sy. Hier kan veral gekyk word na Malawi en Nepal, wat uitsonderlike sukses behaal deur gesondheidswerkers strategies te plaas.

“En ouers met ʼn goeie opvoeding maak ʼn drastiese verskil,” benadruk Kruger. “Ons het ʼn hoë voorkoms van tienerswangerskappe en ma’s wat nie matriek haal nie. Toekomstige ma’s moet wanvoeding met die nodige kennis kan beveg, met die ideaal dat alle meisies volledig geskoold moet wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Andrea ·

So baie, baie waar! Ekt aldrie my kinders geborsvoed vir meer as n jaar en onophoudelik vir hul gelees. Ekt hul ook geleer foneties lees voor hul skooltoe is omdat ek in die “Phonics Approach” tot leesaanlering glo. Vandag pluk hul die vrugte oor en oor.
Dankie aan my wonderlike vakhoof, prof Jan Snyman, wat my toegelaat het om soveel tyd by my kosbare kinders deur te bring.

Maria Van Dieweeck ·

‘Lees vir jou Hasie en jou Hasie lees eendag vir jou.!!!’

E.K. ·

Meeste ouers lees gewoonlik self nie meer, wat nog te sê lees vir hul kinders! Hulle wens sekerlik hul kan ‘n ipad of ‘n ding in baba se hand stop dat hy kan besig bly en hul niks hoef te doen. Ek het ook van net na geboorte sommer hardop uit tydskrifte ens vir my kinders gelees, toe hul self kon regop sit is daar badtyd die sg “plasboekies” (van plastiek en dus waterdig) vir hul gelees plus nog kort storie en stukkie uit die Bybel. En ja, soos Andrea hierbo, het ons die vrugte gepluk. My dogter het haar honneurs ge-Cum (beste student in haar fakulteit daardie jaar en medalje gekry) en beskik ook oor ‘n Meestersgraad. My seun was ook alty din die akademiese top tien op skool (ongelukkig in gr 10 oorlede). Mense moet tyd maak, almal werk, is besig en moeg maar daardie rukkie saam-tyd kan geen geld koop nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.