Boelie is nie net kinderspeletjies nie

boeliebeleid-boelies

Foto: Argief.

Die nooddiensorganisasie, ER24, het in ʼn onlangse verklaring gesê ouers moet kinders wat geboelie word, meer ernstig opneem ná ʼn jong seun byna sy eie lewe geneem het as gevolg van boelies by die skool.

Die 15-jarige seun het in ʼn brief aan sy ouers gesê hy neem sy eie lewe omdat hy geboelie word. Sy ouers het dié brief gelukkig vroegtydig gekry en kon die seun met behulp van berading anders oortuig.

Henning Jacobs, trauma ondersteuningskoördineerder van ER24, sê ouers moet aandag gee aan die gedrag van hul kinders om te bepaal of hulle geboelie word.

“Ouers moet bewus wees daarvan dat boelies in elke graad is. Die intensiteit neem toe met ouderdom. Dit is noodsaaklik dat stappe onmiddellik geneem word om ʼn kind wat geboelie word, te help. Dit is ook noodsaaklik om onmiddellik en effektief stappe te doen teen die boelie,” het hy gesê.

Jacobs het ook gesê kinders se persoonlikhede kan verander weens boelie by die skool. ʼn Kind wat altyd borrelend en gelukkig was, kan stil en depressief raak weens boelies. Ouers moet ook op die uitkyk wees vir leidrade soos ʼn verandering in skoolpunte of kinders wat paniekerig raak wanneer hulle moet skooltoe gaan.

“In uiterste gevalle kan dit veroorsaak dat die kind selfmoord pleeg. Afknouery kan selfs ook lei tot moord. Dit is noodsaaklik dat ouers ʼn vertrouensverhouding met hul kinders het. Ouers en onderwysers moet verseker dat kinders weet hulle mag hulp vra wanneer iemand hulle afknou,” het Jacobs gesê.

Jacobs sê boelie kan enigiets insluit soos dreigemente, terg of beswaddering, die verspreiding van gerugte of om ʼn persoon fisies skade aan te doen.

“Emosionele afknouery is outomaties deel van die trauma wat ervaar word wanneer kinders fisies geboelie word. Boelie gaan altyd gepaard met emosionele afknouery. Dit begin gewoonlik verbaal en emosioneel en dan loop dit oor na fisiese wangedrag,” het Jacobs gesê.

Jacobs herinner ouers ook daaraan dat boelie verskeie negatiewe effekte oor die langtermyn het. “Boelie kan sommige mense vir die res van hul lewe emosioneel beskadig. Kinders kan slegs die emosionele skade van boelie oorkom wanneer dit stopgesit word. Ouers moet net besef hoe ernstig dit is.”

Besoek ER24 se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Oom Boer ·

Ek het ‘n verwronge smaak aan hierdie “Boelie” aktiwiteite. Tans ervaar ons hierdie aspek met ons 13jarige kleindogter waar sy geboelie word en te bang is om met alles vorendag te kom. Sy was ‘n aangename en borrelde kind, baie gesteld op voorkoms en netheid met goeie akademiese punte, maar skielik het sy onttrek, tree aggressief op teen boeties en sussies asook ouers. Haar skool punte het verswak van 85% plus na 50% en haar konsentrasies het ook verswak. Sy wil nie meer skool toe gaan, sluit haar in kamer toe en gee ook nie meer om met voorkoms. Hierdie geboelie het so ‘n groot sielkundige impak op haar en ouers het nie die finansieële gelde tot professionele of sielkundige hulp nie. In my hart dra ek ‘n bitterheid en aggressie teenoor hierdie boelie aktiwiteite, want sy was so pragtig en die letsels wat dit laat is nie herstelbaar. Na vele gepraat met Onderwysers, Skoolhoof, briewe skryf ens het dit niks opgedis en al wat gesê word, dit is maar net kinders en sekeres se ge-aardheid is sterker as ander of dit moet nie lei tot kwade gevoelens tussen Ouers want kinders is maar soms geniepsig. My skoonsuster was verplig om ook haar seuntjie van 10jr oud uit skool te haal in 2016 en huis onderrig (Home schooling) toe te pas weens hierdie boelie aktiwiteite.

Veritas ·

‘N boelie is inherent ‘n swakkeling wat dit met sy boelie-optrede probeer verdoesel. Dit kan net op een manier genees word. ‘N sterker kind moet hom voor die ander verneder. Al die sielkundige behandelings help net mooi niks.

chris ·

Die onderwysers moet hierdie tipe van ding tog raaksien , of kyk hulle ook deesdae ander pad, in my dae was daar altyd n onderwyser wat toesig gehou het, veral gedurende pouses, wanneer die boelie sy kansvat.

Hannelie ·

Boelies is kinders wat in ‘n totale minderwaardigheidskompleks lei. Hul kry geen aandag by die huis OF hulle moet veg vir wat hul wil hê. MAAR ek het ‘n ding teen boelies. Die meeste boelies is meisiekinders. My meisiekind is op hoërskool geboelie so erg dat ek haar van skool wou laat verander. Maar toe ek hoor wie die kind is, het ek net gedink ja-nee die kind is ‘n druipgeval in die skool, sy rook en drink en hang naweke by pubs uit. Haar ouers is nie veel beter. Ek stem saam met Veritas dis ‘n swakkeling. En ons moet maar kyk wat word van daai tipe kyk. Sterkte aan al die kinders daar buite wat elke dag boelies moet trotseer. Want ek weet jul word meer getreiter as jul sê jul gaan jul ouers sê. Soms wens ek lyfstraf kom net terug!~!

Karma ·

Ek is op skool geboelie – name genoem, gekoggel ens. Net omdat ons gesin ‘n “kerfie bo die res” was – my pa was in ‘n senior bestuurspos in die maatskappy wat grotendeels die area waar ons gebly het, ontwikkel en besit het. My ma het ‘n goeie pos as posmeesteres gehad. Ons het in een van die grootste maatskappy-huise gebly en my pa het ‘n maatskappy-motor gehad. Ons het elke jaar met lekker vakansie gegaan … alles dinge wat sekere mense (en hul kinders) dwars in die krop gesteek het.

So het dit aangegaan; ek is in die skoolrye rondgestamp, my hare is getrek, op my gespoeg, ek is ou “Gifpot” genoem, my boektas is weggesteek ens. ens. My ma het haar nie aan my klagtes oor ‘n geboelie gesteur nie en ek het toe besluit om vir myself op te staan. Eendag het ek die “hoof-boelie”, Ilse Pretorius, een moewiese SNOTKLAP gegee dat sy eintlik op haar vuil boude te land gekom het …. en daarna was dit oor. Ons kinders moet geleer word dat jy maar vir jouself mág opstaan en jouself verdedig.

Kim Bester ·

Ek weet nie of ek regtig saam stem met die dat mense se boelies het n swak selfbeeld of kry nie aandag by die huis nie. Ons as kinders het bitter swaar en arm groot geword. As gevolg daarvan is jou selfbeeld maar swak. Was in n koshuis omrede my ouers nie vir ons kon voorsien nie. Het met staats toelae oor die weg gekom. By die koshuis het ons ook nie baie aandag gekry. Wie wil nou met so arm persoon meng. En nie een van ons kinders was boelies nie. N boelie in my oe moet net n goeie pakslae kry elke keer wat hy afknou. N boelie is n onopgevoede kind . Al die soet stories oor hoekom n boelie n boelie is n twak. Neek hom reg.

Esmarie Pretorius ·

Nie seker hoekom my kommentaar verwyder was nie, mag seker nie advies gee om die boelies namens jou kinders uit te sorteer nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.