Boeliegedrag neem toe – wat nou?

leandie-brasler

Leandie Bräsler is AfriForum se koördineerder vir leierskapsontwikkeling. Foto: Verskaf.

Deur Leandie Bräsler, koördineerder vir leierskapsontwikkeling by AfriForum

Boeliegedrag is opsommenderwys verskillende vorme van wangedrag:

  • Afknouery: Aanhoudende en deurlopende skadelike of aggressiewe gedrag – gewoonlik gerig op iemand met minder gesag en selfvertroue as die boelie.
  • Verbale afknouery: Beledigings, dreigemente of op ’n neerhalende wyse die spot met iemand dryf.
  • Emosionele afknouery:Herhalende negatiewe aksies (nie noodwendig fisiek nie) om ander met opset emosioneel seer te maak, (skinderstories; sosiale uitsluiting; besittings steel, vernietig of beskadig; intimidasie deur gebare of dreigemente; asook kuberafknouery).
  • Fisieke afknouery: Die boelie gebruik sy liggaam om af te knou (skop, slaan, knyp, boks). Hierdie vorm is “makliker” as verbale en emosionele afknouery.
  • Kuberafknouery:Die slagoffer word geteister, verneder, gedreig of in ’n verleentheid gestel deur, byvoorbeeld, blitsboodskappe, e-posse of sosiale media. Selfone, tablette en die internet word gebruik om lelike boodskappe te stuur, gemene kommentaar op iemand se foto’s te lewer, haatgroepe te stig en om foto’s van die persoon sonder sy/haar toestemming op te laai wat hom\haar ontstel en skaam laat voel.
  • Anonieme kuberafknouery: Afknouery deur van tegnologie of elektroniese toestelle gebruik te maak om sy/haar identiteit te verbloem. (selfone, die internet of aanlyn).

Op 7 Maart 2019 het The Citizen ’n spotprent gedeel van skoolkinders wat in die straat verby ’n lamppaal stap met ’n advertensiebord van The Citizen wat lui “Schools turned into war zones”. Die leerders se gesigsuitdrukkings kom wreedaardig voor – tande wat op mekaar kners, oë wat op skrefies trek en ’n prominente frons op die voorkop. Elke leerder dra ’n wapen – ’n mes, ʼn pistool en ’n skêr.

Die kabinet het onlangs kommer uitgespreek oor die styging van afknouery, geweld en rooftogte wat in sekere skole plaasvind. Sedert die begin van die jaar was daar verskeie voorvalle van afknouery en geweld tussen leerders of tussen leerders en onderwysers.

  • Madan Motlhamme (13) is deur ’n klasmaat by die Mateane Primary School in Noordwes met ’n mes in die maag gesteek, wat uiteindelik tot sy dood gelei het.
  • Vyf leerders tussen 15 en 16 jaar oud van Flora Park in Polokwane het Thoriso Themane aangeval en vermoor.
  • ’n Sestienjarige leerder van die Mpeko Primary School in Peddie is in die rug gesteek ná ’n argument met ’n medeleerder op die speelterrein.
  • Twee leerders van die Lenasia Secondary School is geskors nadat ’n video op sosiale media versprei is oor hoe ’n leerder ’n onderwyser aanval.

Hierdie is slegs ’n paar van die gebeure wat tot dusver vanjaar plaasgevind het. Meer hieroor by:

Iets wat onlangs opslae gemaak het, is die sogenaamde Momo-uitdaging. Dit is ’n tipe boelietaktiek wat aanlyn plaasvind en na bewering kan veroorsaak dat kinders hulself óf seermaak óf hul eie lewe neem. Momo word geïdentifiseer, volgens inligting wat op sosiale media versprei is, as ’n gedrogkarakter met ’n groot aansitglimlag en groot oë wat op die selfone en rekenaars van kinders verskyn.

Hierdie uitdagings word op YouTube, WhatsApp en Facebook gedeel, en die opdragte moet uitgevoer word sodat jy in verbinding met Momo kan tree. Daar is nog geen bevestiging van die Momo-uitdaging in Suid-Afrika of iets wat daarmee verband hou nie, maar ouers moet steeds en betyds paraat wees vir hierdie tipe fenomene.

Parent24 het onlangs berig dat ouers paraat moet wees vir YouTube-video’s wat moontlik onderbreek mag word deur selfmoordwenke. Dit is vir ouers uiters belangrik om te weet wat hulle kinders mag kyk en wat hulle nie mag kyk nie.

Daar is ouderdomsbeperkings vir programme op TV, videospeletjies en flieks, maar die internet maak hierdie tipe dinge ’n bietjie meer ingewikkeld. Fox 4 Now meen dat hoewel video’s op ’n app dalk na animasie lyk, bevat party van hierdie video’s ingelaste gedeeltes wat nie noodwendig vir kinders (of enige persoon) geskik is nie – maar dit is op kinders gemik.

Die YouTube-poetsbakker Filthy Frank se video word hier gewys waar hy selfmoordwenke aan kinders gee (nie vir sensitiewe kykers nie).

Boelies kan strafregtelik vervolg word – of dit nou fisieke, verbale, emosionele of kuberafknouery is. Volgens Megan Harrington-Johnson, besturende vennoot en stigter van HJW Attorneys, is afknouery as sodanig nie noodwendig ’n misdaad nie, maar gedrag wat in hierdie kategorie van afknouery val, kan as misdaad gekategoriseer word. Sy noem ook dat ’n minderjarige wat aan afknouery skuldig bevind word, nie noodwendig tronkstraf sal kry nie, maar dat die minderjarige ’n afleidingsprogram sal moet bywoon wat oor die bestuur van woede handel, terwyl die minderjarige ook berading sal ontvang.

Kinders kan vanaf die ouderdom van so jonk soos tien jaar vervolg en van afknouery aangekla word. Ouers en hul kinders kan dus self ’n hofbevel ingevolge die Wet op die Beskerming teen Teistering teen boelies verkry.

Afknouery is waarlik ’n ernstige probleem in ons samelewing. Onlangs het ’n 13-jarige meisie van Pretoria-Noord haar eie lewe geneem nadat sy blykbaar op WhatsApp afgeknou is.

Wat kan ek doen as ek die slagoffer van anonieme kuberafknouery is?

  1. Laat jou stem hoor – Maak seker dat jy iemand vertel wat besig is om aan te gaan. Dit kan ’n vriend wees of ’n volwasse persoon wat jy vertrou. Dit is bitter belangrik dat jy nie alleen en in stilte moet ly nie.
  2. Moenie terugantwoord nie – Persone wat ander mense anoniem afknou, wil gewoonlik ’n reaksie uitlok, maar deur nie op die boodskappe te reageer nie, verseker jy dat die boelie nie enige vorm van bevrediging beleef nie.
  3. Bewaar die bewyse – Dít is baie belangrik vir ingeval die afknouery vererger. ’n Foto of skermgreep is ’n doeltreffende en vinnige manier om bewyse te stoor.
  4. Rapporteer – Die meeste sosiale netwerke het ’n manier om negatiewe inhoud op hul platform te rapporteer. Maak seker dat jy weet waar dit is en moenie bang wees om dit te gebruik nie. Dit is vinnig en effektief om enige aanstootlike boodskappe of foto’s af te haal. Indien jy afgeknou word waar selfone gebruik word, kan jy ook met jou selfoonnetwerk skakel, wat jou verder sal lei in hierdie verband.
  5. Blokkeer – Die meeste sosiale netwerke het ’n blokkeer-opsie wat jou toelaat om interaksies met ander gebruikers stop te sit. Inligting oor hoe dit gedoen kan word, verskyn gewoonlik in die platform se veiligheidsentrum. Op selfone kan dit gewoonlik onder “Settings” gedoen word.
  6. Privaatheidstellings – Met die meeste sosiale netwerke kan jy jou privaatheidstellings só verander dat jy nie interaksie met mense kan hê met wie jy nie wil kommunikeer nie.
  7. Polisie – Wanneer jy dink dat ’n voorval ernstig genoeg is om as ’n strafbare oortreding beskou te word, kan jy jou plaaslike polisiekantoor skakel en die saak rapporteer. Skakel die polisie by 10111 of Childline South Africa by 08000 55 555.

AfriForum se teenboelieveldtogspan besoek laerskole ter bewusmaking van boeliegedrag en wat gedoen kan word om afknouery in skole hok te slaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

7 Kommentare

Lekker ·

Ja daar is mos fout met ‘n goeie paksla. Wat weet ons mos. Nou pluk die slim mense die vrugte.

Maro ·

Die lewe is nie meer geballanseerd nie. Ouers moet heeldag werk om die pot aan die kook te hou. Baie kinders word aan hul eie genade deur die dag gelos. Daar is te veel enkel ouers. Almal is te moeg in die aand om met mekaar te praat. Wens daar was ñ makike oplossing….dit raak baie ingewikkelder as net dit wat ek hier noem.

Renier ·

Boeliegedrag neem toe? Jy kan dit in die pers wêreldwyd lees. Dit is onmoontlik dat die tendens skielik eenvormig ‘n wêreldwye tendens is. Daar steek iets anders agter hierdie propaganda. Een of ander sosiale manipulasie deur owerhede?

Sias ·

Veertig jaar gelede ook maar gebeur.
Daar is net deesdae meer metodes en hulpmiddels wat boelies kan gebruik. Die swakker dissipline in die skole glo ek maak dinge erger. Boelies teiken graag andersheid. Soms word boelie ondersteun deur die meerderheid in ‘n groep. Die slagoffer “verdien” om geboelie te word. Ek was daar. Ek kon egter die boelies later in my lewe ontgroei. Dit was egter na skool en te laat.
Dalk moet potensiële slagoffers uitgeken en beskerm word of geleer word om hulleself te kan verdedig.
Dalk ook ‘n anonieme boelielyn instel.

Gustav ·

Dis maar net deesdae se kindertjies (eintlik die hele mensdom) wat al hoe meer sensitief raak. Wat anders verwag jy wanneer mans velprodukte begin gebruik?

Stripes ·

In my tyd op skool het ons boelies gevat ek hulle geboelie tot hulle baie mooi verstaan het. ‘n dropper is nie net vir lyndraad nie.

honourable member ·

Wat mens bekommer van vandag se kinders is hoe aggressief hulle is. Hulle pluk baie maklik n mes of iets uit om die ander een aan te val. Boelies raak al hoe meer n algemene gedrag want daardie kinders loop met soveel aggressie in hulle rond en boelies is maar gewoonlik die kind wat uit n disfunksionele huishouding uitkom. Dis eintlik hartseer want die kind moet ander boelie om beter oor homself te kan voel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.