Boepie-blues: As ʼn seuntjie net sy mamma wil hê

reis-met-kinders

Foto: Roughguides.com

Ek haal vroegoggend, nog voor die eerste voëltjies tjirp, ʼn vlug van Kaapstad na Johannesburg. In die ellelange ry bekyk ek die klomp kleuters wat onvas op hulle voetjies maar tog selfstandig hulle eie rugsakkies wil dra, en mammas wat swaar dra aan kleintjies op die een heup en bagasie op die ander.

Een van die dae is dit my beurt om met ʼn ekstra lyfie wat aan my klou vlugte te haal om familie te besoek vir die Paasnaweek.

ʼn Hartstogtelike gehuil klink êrens uit die ry agter my op. Nuuskierige agie wat ek is, en meer paraat oor huilende kinders sedert ek swanger is, kyk ek om. ʼn Hele rits Maleise vroue, pragtig geklee in hul kopserpe en lang rokke, is besig om afskeid te neem van twee familielede, ook vroue.

Op een van die ouer vroue se heupe is ʼn kleuterseuntjie wat saam met die res van die groep vroue afskeid van die ander twee neem. Hy reik sy kort armpies na die jonger vrou uit en tas met sy handjies na haar toe. “Mamma,” ween hy. Die oueres snik in hulle kopserpe.

Aan die manier wat hulle groet en uit die hoeveelheid vroue wat daar gestaan het, het ek afgelei dat Mamma vir ʼn lang tydperk weggaan. Dalk om elders te werk, bespiegel ek. Ek hou haar dop toe sy deur die sekuriteitshekke gaan en ʼn laaste keer vir haar seuntjie waai. Die trane rol oor haar wange en die pyn is sigbaar op haar gesig.

My oë skiet vol trane. Ek het al menige hartseer afskeidstonele op vele lughawens aanskou, maar nog nooit het die knop in my keel so groot geword dat ek self ʼn snesie uit my sak moes grou nie.

Terug in Pretoria maak ek ʼn draai by die salon waar die vriendelike dames wat al vir jare my naels versorg soos vriendinne geraak het. Die ewig borrelende bestuurderes het onlangs teruggekom werk toe ná haar kraamverlof van vier maande. Ek vra uit oor haar babaseuntjie en sy pluk haar selfoon uit om vir my foto’s te wys.

“Ek sien hom nou net elke Saterdag, want hy bly by my ouers in ʼn ander provinsie terwyl ek moet werk,” vertel sy. Haar sprankel verdof effe. Ek kan sien die verlange, en die gewonder oor mylpale wat sy almal misloop, sit vlak. “Ek gaan ook nie Paasnaweek huis toe nie, want die winkel is oop Saterdag en Maandag.”

“Ai, dis baie sleg,” is my leë woorde en ek gee my boepie ʼn drukkie. Hoe moet dit nie voel om jou eie klein mensie vir lang tye te moet agterlaat om elders jou potjie te gaan krap nie? Hoe moet dit nie voel om deur selfoonvideo’s en langafstandoproepe op hoogte te bly van jou kleintjie se doen en late nie?

Sedert die idee van ʼn seuntjie in my huis ʼn realiteit geword het, is ek so bekommerd oor hoe baie hy gaan huil, hoeveel keer ek bloederige handjies en knietjies met Dettol gaan moet skoonvee, hoeveel handboeke ons in die aande na werk gaan moet deurwerk en hoeveel stukke ek gaan moet optel as hy slegte keuses in sy lewe maak.

Nou is ek skielik meer bekommerd dat ek nié daar gaan wees vir dit alles nie. Iemand het een keer vir my gesê: Die dag wat jou kind kan begin stap, stap hy weg van jou af. Ek kan myself nie indink dat ék die een moet wees wat van my kind af wegstap nie.

Tyd is werklik die enigste belangrike ding in die lewe wat ons nie kan terug kry nie. ʼn Kollega-vriendin sê altyd: “Tyd is nie ons maat nie”. ʼn Smekende seuntjie op ʼn lughawe wat net sy mamma wil hê, het my vandag laat verstaan wat sy werklik daarmee bedoel.

  • Leonie Bezuidenhout is ʼn joernalis vir Maroela Media en vryskutblogger. Sy is 31 jaar oud en tans swanger met haar eerste baba.

Lees alle Boepie-blues-rubrieke op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Leentjie ·

Seker een van die seerste seer en trotse oomblik as Mamma is om toe te kyk hoe jou kinders hulle vlerke sprei. Jy weet dat jy kan niks doen om hulle toekoms te verseker behalwe om dit oor te gee aan die Here nie. Ek was n baie bevoorregte Mamma om vir 18jaar by die huis te wees en om te sien na my kinders. Die hartseer toe hulle die huis verlaat is onbeskryflik, maar ek het verstaan dit is tyd, alhoewel ek myself voorberei het, was die werklikheid ‘n groot seer en soms wens ek hulle weer klein veral as die grootmens wêreld hulle pyn veroorsaak.

Sterkte aan elke Mamma wat nie die voorreg het om saam met hulle kinders te groei nie….

Ella Bella ·

Die dag wat jy ‘n ouer word, is jou hart buite jou lyf. Daar is soveel bedreigings maar tog soveel vreugde. Ek treur tans oor my ma en ek wonder dadelik wat ek kan doen om dit eendag vir my kinders makliker te maak

Wielspore ·

Nadat ons 3 kinders grootgemaak het is ek van mening peuters hulle mamma en pappa tye het. My twee dogters het wel deur ‘n pappa fase gegaan en my seun deur ‘n mamma fase. As grootmense is my twee dogters meer mamma kinders, ons seun het nogal ‘n goeie ballans.
Baie lief vir my kinders!

Dries ·

My skoonpa het altyd gesê solank jy hulle onder een kombers kan toemaak, gaan dit goed. Dit is eers as hulle op hul eie bed begin slaap dat jy net kan bid.
Die grootste seer is nie wanneer hulle die huis verlaat nie maar wanneer hulle die land verlaat om vir hulle kinders ‘n beter toekoms te verseker.

Amalia ·

Sjoe dis verskriklik dis nie eers my baba nie en ek sit en huil hier. Ai die arme Moeders my hart gaan uit na hulle

ISABELLA ·

ja nee kyk dis so waar as hulle begin loop loop hulle weg my kids al groot so 20 en 24 my 2 girls het hulle eie rustings in geslaan en ek sal julle se as ek die tyd kon trug draai wens ek hulle was nog klein ek verlang my dood na hulle ek bel en message elke 3uure ai ek kan my nie indink hoe dit moet voel om soneer hulle te wees nie……..

gypsyz ·

Ek wens ouers wat daai klein lyfies elke dag by die huis het besef hoe bevoorreg hulle is en hoe baie ander soms nie die keuse het nie.

LBS ·

Wag tot jy Ouma word, DAN besef jy eers waar die tyd gaan, hulle word te gou groot, en jy probeer elke oomblik, elke nuwe dingetjie wat hulle ontdek met verwondering saam hulle herontdek. Ek sien en doen dingetjies met my kleinseuntjie van 2 wat ek gladnie onthou ek met my eie twee seuns gehad het nie, en ek WAS ‘n vasklou-ma, ek HET hulle nooit voor die tyd grootgewens nie en ek HET elke oomblik waardeer. Ek kan dit net nie so goed onthou nie. Maar ek is seker ‘n Ouma (of sommige Oupas ook) waardeer alles van vooraf vir die wonderwerk wat dit is om daai klein lyfie vas te hou en jou te verwonder aan hulle inelligensie dag vir dag!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.