Boepie-blues: ‘Daar is nog baie tyd’ en ander dinge wat jy nie wil hoor nie

(Foto: Pixabay)

(Foto: Pixabay)

Vandag is ek histeries: Ek is lankal verby die halfpadmerk voor die baba se koms en dit lyk asof sikloon Idai by ons huis in die babakamer ook ʼn draai kom maak het voordat hy aanbeweeg het Zimbabwe toe.

So tien weke gelede, op 13 weke van my swangerskap (toe ek weer vir ʼn slag my kop lank genoeg uit die toilet kon hou en ʼn greintjie van my waardigheid en energie kon herwin), het ek begin om die spaarkamer, waar ek en manlief al vir die laaste vyf jaar ons linne, kussings, bordspeletjies, toiletware, skryfbehoeftes en wie weet wat nog alles gebêre het, met mening uit te sorteer.

Baie ingenome met my eie fluksheid begin ek hopies maak: dié moet geskenk word, dié moet asblik toe, dié moet na my ma toe gaan, dié weet ek nie wat dit is en waar dit vandaan gekom het nie – gooi weg. Hier moet ʼn baba slaap en babas vat skrikwekkend baie plek.

Ek het gedink ek maak lekker vordering en kon bekostig om so paar weke ʼn blaaskans te neem om op my seer stuitjie te rus. Angstig begin ons bababenodigdhede soos ʼn stootwaentjie, ʼn kampeerbedjie, ʼn speelmatjie en ʼn motorstoeltjie aankoop en die piepklein spaarkamer raak weer stelselmatig voller – en hier sit ek nou, binne-in ʼn gemors wat voel asof dit nooit weer gaan skoon kom nie.

As ʼn mens praat of skryf oor ʼn baba wat op pad is, moet jy altyd ʼn voetnota byvoeg vir diegene wat ampertjies wil dink jy is nie dankbaar oor die kleintjie se koms nie. “Jy moet dit maar gewoond raak dat jou huis deurmekaar is,” herinner iemand my nou die dag beterweterig. “Daar is baie mense wat in hutte woon wat nie eens ekstra kamers het nie,” sê sy. (Ek praat nie meer met haar nie.)

Ek is nie ondánkbaar nie, Johanna. Natuurlik is ek kinderlik opgewonde oor my eerste baba, hoe dan nou anders? Gee my asseblief net ruimte om uit te freak sonder dat jy my uit die hoogte bekyk met jou ek-het-al-drie-groot-kinders-en-het-vergeet-hoe-dit-is-as-jy-stres-oor-die-eerste-een-gesig.

Nietemin, toe ek vanoggend my splinternuwe leggings oor my boude trek en dit pas nie (hoe is dit moontlik?!) en ek woedend verby die spaarkamer vlieg en sien hoe al my en my kind se besittings op die vloer lê, bars ek in trane uit. My man skrik so groot dat hy sommer vir my ʼn R50-noot in my handsak druk om vir my lekkergoed by die werk se snoepwinkel te koop. Asof my groot boude dit kan bekostig!

Ek huil die hele ent werk toe. Ek snik nog so toe ek my rekenaar aansit, my arme kollega Tania bied sommer ʼn koppie tee en items uit haar eie klerekas aan.

“Hormone,” sê my kinderlose suster toe ek haar in trane oor my stryd Whatsapp. “Daar is nog baie tyd.” (Ek praat ook nie weer vandag met haar nie.)

Enige swanger vrou sal vir jou sê die laaste woorde wat sy wil hoor wanneer sy in dié histeriese bui is, is: “Daar is nog baie tyd.” Sê jý dit vir hierdie seuntjie wat nog die hele tyd op my blaas sit om my daagliks daaraan te herinner dat die sandjies van die uurglas voor sy koms soos die ganse Suid-Afrika se geduld met Eskom en die petrolprys uithardloop.

Nadat ek my histerie-trane in die badkamer by die werk gaan afdroog het, kry ek ʼn boodskap van my man: “Ek werk vandag by die huis. Ek sal die goed in die kamer opruim, Lyf.” Ek haal diep asem en besef, ek is nie net dankbaar oor my seuntjie se koms nie, ek is dankbaar vir ʼn man wat plan maak as ek huil. En net soos die slagoffers van Idai sal ons ook uiteindelik herbou.

  • Leonie Bezuidenhout is ʼn joernalis vir Maroela Media en vryskutblogger. Sy is 31 jaar oud en tans swanger met haar eerste baba.

Lees alle Boepie-blues-rubrieke op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
Han

Daar is geen vergelyking met die sikloon nie. Daar is lewens geneem mense wat gesinne nog opsoek is. Jy skenk lewe die grootste geskenk van God. Wees dankbaar!!!

Sann

Hoekom is ek sommer op slag lief vir hierdie vreemdeling? ☺️… Baie oulik gesê.

Anna

Leonie, dit is baie oulike. Ek het elke oomblik saam jou beleef soos jy dit skryf en lekker gelag. Jy is ‘n uitstekende skrywer. Ek hoop om meer gereeld van jou berigte te lees.

En vir jou Han… Gaan staan eenkant sy praat nie met jou nie!

Dorothy

Leonie, moet nooit die ouma’s en oupa’s afskeep nie. Behandel hulle altyd met respek al is die hormone op hulle kop. Ons wil ook deel wees van alles.

Nettie

Ag, jinne, hoe erg kán ‘n eerste swangerskap nou wees? Dit is tog net 9 maande, waarvan die eerste 3 seker maar meesal in die toilet/badkamer deurgebring word a.g.v. naarheid. En dan swel jy soos ‘n sak “self-raising” meel wat suurdeeg bygekry het. En daarna kom die “oomblik van waarheid” – dis nou, as jy nie “too posh to push is nie” – daai 3,8 – 4,5 kg lyfie die lewe instoot. En daarna kom die Waarheid: jou lewe is nooit weer dieselfde nie, ten minste nie vir die volgende 18 jaar nie. Dankie tog! Ek was slimmer as dit… Lees meer »