Boepie-blues: ‘Daar is nog baie tyd’ en ander dinge wat jy nie wil hoor nie

(Foto: Pixabay)

(Foto: Pixabay)

Vandag is ek histeries: Ek is lankal verby die halfpadmerk voor die baba se koms en dit lyk asof sikloon Idai by ons huis in die babakamer ook ʼn draai kom maak het voordat hy aanbeweeg het Zimbabwe toe.

So tien weke gelede, op 13 weke van my swangerskap (toe ek weer vir ʼn slag my kop lank genoeg uit die toilet kon hou en ʼn greintjie van my waardigheid en energie kon herwin), het ek begin om die spaarkamer, waar ek en manlief al vir die laaste vyf jaar ons linne, kussings, bordspeletjies, toiletware, skryfbehoeftes en wie weet wat nog alles gebêre het, met mening uit te sorteer.

Baie ingenome met my eie fluksheid begin ek hopies maak: dié moet geskenk word, dié moet asblik toe, dié moet na my ma toe gaan, dié weet ek nie wat dit is en waar dit vandaan gekom het nie – gooi weg. Hier moet ʼn baba slaap en babas vat skrikwekkend baie plek.

Ek het gedink ek maak lekker vordering en kon bekostig om so paar weke ʼn blaaskans te neem om op my seer stuitjie te rus. Angstig begin ons bababenodigdhede soos ʼn stootwaentjie, ʼn kampeerbedjie, ʼn speelmatjie en ʼn motorstoeltjie aankoop en die piepklein spaarkamer raak weer stelselmatig voller – en hier sit ek nou, binne-in ʼn gemors wat voel asof dit nooit weer gaan skoon kom nie.

As ʼn mens praat of skryf oor ʼn baba wat op pad is, moet jy altyd ʼn voetnota byvoeg vir diegene wat ampertjies wil dink jy is nie dankbaar oor die kleintjie se koms nie. “Jy moet dit maar gewoond raak dat jou huis deurmekaar is,” herinner iemand my nou die dag beterweterig. “Daar is baie mense wat in hutte woon wat nie eens ekstra kamers het nie,” sê sy. (Ek praat nie meer met haar nie.)

Ek is nie ondánkbaar nie, Johanna. Natuurlik is ek kinderlik opgewonde oor my eerste baba, hoe dan nou anders? Gee my asseblief net ruimte om uit te freak sonder dat jy my uit die hoogte bekyk met jou ek-het-al-drie-groot-kinders-en-het-vergeet-hoe-dit-is-as-jy-stres-oor-die-eerste-een-gesig.

Nietemin, toe ek vanoggend my splinternuwe leggings oor my boude trek en dit pas nie (hoe is dit moontlik?!) en ek woedend verby die spaarkamer vlieg en sien hoe al my en my kind se besittings op die vloer lê, bars ek in trane uit. My man skrik so groot dat hy sommer vir my ʼn R50-noot in my handsak druk om vir my lekkergoed by die werk se snoepwinkel te koop. Asof my groot boude dit kan bekostig!

Ek huil die hele ent werk toe. Ek snik nog so toe ek my rekenaar aansit, my arme kollega Tania bied sommer ʼn koppie tee en items uit haar eie klerekas aan.

“Hormone,” sê my kinderlose suster toe ek haar in trane oor my stryd Whatsapp. “Daar is nog baie tyd.” (Ek praat ook nie weer vandag met haar nie.)

Enige swanger vrou sal vir jou sê die laaste woorde wat sy wil hoor wanneer sy in dié histeriese bui is, is: “Daar is nog baie tyd.” Sê jý dit vir hierdie seuntjie wat nog die hele tyd op my blaas sit om my daagliks daaraan te herinner dat die sandjies van die uurglas voor sy koms soos die ganse Suid-Afrika se geduld met Eskom en die petrolprys uithardloop.

Nadat ek my histerie-trane in die badkamer by die werk gaan afdroog het, kry ek ʼn boodskap van my man: “Ek werk vandag by die huis. Ek sal die goed in die kamer opruim, Lyf.” Ek haal diep asem en besef, ek is nie net dankbaar oor my seuntjie se koms nie, ek is dankbaar vir ʼn man wat plan maak as ek huil. En net soos die slagoffers van Idai sal ons ook uiteindelik herbou.

  • Leonie Bezuidenhout is ʼn joernalis vir Maroela Media en vryskutblogger. Sy is 31 jaar oud en tans swanger met haar eerste baba.

Lees alle Boepie-blues-rubrieke op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Han ·

Daar is geen vergelyking met die sikloon nie. Daar is lewens geneem mense wat gesinne nog opsoek is. Jy skenk lewe die grootste geskenk van God. Wees dankbaar!!!

Suster Sê ·

Han, as jy mooi gaan lees (verder as die eerste paragraaf), sal jy sien daar is menigde sinne en paragrawe waar sy sê hoe dankbaar sy is. Moenie altyd net die lelik (wat glad nie lelik bedoel is nie, as jy net verder lees sal jy dit sien), raak sien nie.

Sann ·

Hoekom is ek sommer op slag lief vir hierdie vreemdeling? ☺️… Baie oulik gesê.

Anna ·

Leonie, dit is baie oulike. Ek het elke oomblik saam jou beleef soos jy dit skryf en lekker gelag. Jy is ‘n uitstekende skrywer. Ek hoop om meer gereeld van jou berigte te lees.

En vir jou Han… Gaan staan eenkant sy praat nie met jou nie!

Dorothy ·

Leonie, moet nooit die ouma’s en oupa’s afskeep nie. Behandel hulle altyd met respek al is die hormone op hulle kop. Ons wil ook deel wees van alles.

Nettie ·

Ag, jinne, hoe erg kán ‘n eerste swangerskap nou wees? Dit is tog net 9 maande, waarvan die eerste 3 seker maar meesal in die toilet/badkamer deurgebring word a.g.v. naarheid. En dan swel jy soos ‘n sak “self-raising” meel wat suurdeeg bygekry het. En daarna kom die “oomblik van waarheid” – dis nou, as jy nie “too posh to push is nie” – daai 3,8 – 4,5 kg lyfie die lewe instoot. En daarna kom die Waarheid: jou lewe is nooit weer dieselfde nie, ten minste nie vir die volgende 18 jaar nie.

Dankie tog! Ek was slimmer as dit – geen man, geen kinders nie.

Paula ·

Ag, Han, jy’s duidelik ‘n man. Sterkte, Leonie! Jy gaan die beste ma wees.

Nettie ·

@Tannie – ek het té veel babas die wêreld sien inkom – van die verkeerde kant af (onder gestaan en hulle ‘gevang’).

Oe nee, eina, so verniel ek nie my lyf nie. Buitendien, nóú is ek hopeloos te oud (amper 50)!

Marinda ·

Dis so waar,en wanneer baba kom skrop ons eers nes – geniet dit – en vat al die hulp wat jy kan kry!

Sharees de Wit ·

My 1st is nou 7 maande. Ken daai gevoel al te goed. Het my sommer tranerig gehaad. Baie sterkte.

Amper tannie ·

Sit so in dieselfde booitjie. my kleinsus is op haar laaste (ons wag in spanning). Sy bly by ons. Sover is ons gelukkig en het net 1 of 2 keer die “hormone” beleef. Sy het baie hulp en ek praat maar moed in. My huis begin lyk soos ‘ crech… my kombuiskaste oorgeneem… alles orals. Maar so opgewonde. Ons koop maar die luxury roompies en dinge vir haar en knyp maar die oee toe….hou mama kalm hou die baba kalm. Sterkte hoor.

MS ·

Hi Leonie, my tweede kind is op 30 weke gebore en toe het ek letterlik niks gehad nie, nie ‘n slaapbed, bottel of enige klere nie, so ek voel jou “pyne”. Ek is bly manlief help jou want vir die eerste ruk voel mens maar baie alleen. Baie sterkte vir julle!

Tognognmamma ·

Kyk… Ek lees hier en dink terug aan n paar maande terug waar my eie “vriendin” deur die dinge is, Jy as buitestaander probeer moed inpraat deur te se daar is nog baie tyd, daar is nog n nanyshower, jy sal alles he moenie worry nie, Lees ek hier bo raak ek eintlik woedend, ek is seker maar selfsugtig maar magtig kom oor jouself, miskien gaan jy so aan dat ou Johanna al keelvol is en al te dankbaar is dat jy nou nie meer met haar praat nie, as jy nie die aandag wil he nie hoekom so aangaan? Ek is moeg vir mense wat dink hulle kan se en doen net wat hulle wil oor omstandighede in hul lewens. Jy kan nie. Jy word een van die dae n ma dan gaan jy n voorbeeld moet wees, nie n bederfte brokkie op haar perdjie nie, jy herinner my te veel aan die “vriendin” wat dink het sy doen die wereld n guns om hier te wees, om geboorte te skenk, sy is so great want sys mooi. mense soos julle maak my naar tot in my onderste are. Wees swanger maar wees ten minste gemanierd. Miskien sal jy actually dan mense he wat die pad vir jou makliker maak. Ek vermoed ook jou babyshower gaan maar leeg wees as jy almal wat in jou lewe is so min ag met jou wonderlike teenwoordigheid.

Christa ·

@tognogmamma
En so is ons elkeen geregtig op ons eie opinie. Die skrywer het dit goed gedink om haar ervaring met ons te deel, en soos ek kan aflei, is daar ‘n groot deel van die kommentare wat dit oulik vind en ook kan “relate”. Ontspan. Dit is net jou opinie dat die persoon is soos wat jy sê. In my opinie dink ek die berig is heel oulik en gee ‘n blik op die feit van vrou wees. Ons almal is anders, soms ervaar almal net ander emosies soos hul deur die lewe se ervarings gaan. Gun die vrou haar trane en ook die gevoelens wat sy het.
Hier is my opinie oor jou, ek dink jy is besig om n suur knol te wees, relax en aanvaar dat almal net ‘n mens is, as jy nie van die berig hou nie, hou verby, moet nie verplig voel om NASTY te wees nie.
Live and let be!

Suster sê Alweer ·

Tognognmamma, lyk my jy is net baie onsteld oor die manier wat jóú vriendin jou hanteer het tydens haar swangerskap. Dalk moet jy tog dinge met haar uitpraat want jy het waarlik in n suur knol verander. Die berig is heel duidelik tong in die kies, met humor geskryf. As mense dit tog net besef. Sy deel maar net met ons haar ervaring. Gaan drink n glas wyn, lyk of jy dit nodig het. Sterkte daar.

GM ·

Anna en Nettie, ek lag lekker vir jul kommentare ??
Nettie, jy het als mooi opgesom, behalwe, as ek nou na my eie lewe moet verwys, stem ek nie saam dat die lewe beter is sonder ‘n man en kinders nie. Ek is vreeslik dankbaar vir myne, al maak hul dat ek soms my hare uit my kop wil uittrek. Daar is niks so lekker soos daai kleine armpies wat sommer so uit die bloute om jou kom vou nie. Al was hul hoe stout, jou hart smelt dadelik.

Maar, so is ons almal anders, en als kom teen ‘n prys, of mens nou kinders het of nie. Geniet jou vryheid ;-)

Nettie ·

@GM – nee wat, ek los daardie ‘vreugde’ van armpies wat om jou vou, maar vir ander mense. Met mý geluk is daar handjies aan die onderkant van daai oulike armpies – wat òf vol taai sjokolade/modder/toffie is en haastig oppad is om aan my hare te vat of my in die gesig te vat …….

En man? Nee, daai los ek óók maar vir ander – die probleme wat ek in my lewe het, is my eie, dankie. My ekwivalent van ‘n man is: ‘n hond, ‘n kat en ‘n papegaai – en ek het al drie. Die hond knor vir my, die kat loop snags rond en die papegaai vloek my.

Nicolene ·

Ek is tans ook 31jaar oud, 32 weke swanger met my eerste baba (seuntjie). Ek verstaan presies waardeur Leonie gaan. Dit is meer stresvol as wat mense besef, en ek dink mens besef dit regtig eers as jy self deur dit gaan. Gelukkig vir ons ken ons mans ons die beste en weet net hoe om te troos. Dankie vir die berig, voel nou nie alleen hulpeloos nie.

Gelukkigemamma ·

@tognognmamma. Ek het jou kommentaar gelees, asook Leonie se berig. Persoonlik dink ek moet jy asseblief weer haar berig lees. Dit is positief geskryf en nie afbrekend nie! Waarom dan ‘n negatiewe opmerking?

Corlia ·

Baie oulike stukkie die! Als is so waar en die wat dink dis niks om ‘n baba te kry moet maar weer gaan dink daaroor. Dis die grootste mees onbaatsugtige ding wat mens kan doen. Niks van jou is meer dieselfde daarna… Die dae van gou in jou kar klim en net brood en melk koop – verby. Slaap in die nag – verby. 2 minute alleen in die badkamer – verby!
Hou aan so goed skryf soos wat jy doen en baie sterkte met die kleintjie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.