Boepie-blues: Die hartseer van ʼn ‘naweek-mamma’

Argieffoto. (Foto: Pixabay)

Ek voel soos ʼn naweek-mamma. Elke Maandagoggend as die wekker afgaan is daar ʼn koue beklemming om my mamma-hart: Die naweek is verby en Baba moet vanoggend weer skool toe.

Die Carte Blanche-gevoel tree al Sondagmiddag in, want ek weet dit is môre weer werk toe met my terwyl die tannie by die skool my rol moet vervul.

Hoewel ek nederig dankbaar is dat daar ʼn heenkome is vir my kind, waar ek weet hy veilig en geliefd is, maak dit my ook hartseer dat ek my dag elders moet deurbring terwyl iemand anders al die lekkerte van my kind ervaar.

Die tannie by die skool ken sy geite en sy giere en eienskappe wat ek net oor naweke van my bloedjie kan beleef. En dit is geensins maklik nie. Al vertrou ek die skool met my kind se lewe, pyn my hart as ek my kind by die skool gaan haal en hy wil nie vir my glimlag nie. As ek hom probeer troos as hy huil en hy wil nie bedaar nie, maak ek myself wys dit is omdat hy my nie ken nie.

Ek begin glo my seuntjie dink ek is net die oppasser wat hom voer en bad in die twee ure tussen wanneer ek tuis kom en voor hy moet gaan slaap. En dit maak seer.

Maandagoggende gaan selde sonder ʼn knop in die keel of ʼn traan verby. Ek weet ek is nie alleen nie – ek is deel van ʼn groot groep mammas wat elke weeksoggend ons kinders moet aangee vir iemand wat vir die res van die dag na sy of haar behoeftes gaan omsien.

Ek hoor hoe party ooms en tannies vir ons jonges vertel hoe dit ons plig is om 24 uur van die dag ʼn ma vir ons kinders te moet wees. Oom, dink jy ek geniet dit om my kind slegs omtrent 60 uur uit ʼn week van 168 uur te sien?

Ons voel hartseer en skuldig genoeg sonder die druk van buite-partye wat nie verstaan dat ons móét werk om vir ons kinders die beste te kan gee nie. Ja, my kind het vir my as ma nodig om daar te wees, maar hoop ek dat hy my nie eendag gaan verwyt daaroor dat ek nie elke minuut van die dag by hom kon wees nie.

Baie van ons het grootgeword met ouers wat voltyds gewerk het, en ons het geweet dit is iets waaroor hulle nie ʼn keuse het nie – ordentlike onderrig en buitemuurse aktiwiteite is ongelukkig nie gratis nie.

Daar is mammas wat hulle kinders vir weke en selfs maande moet los om elders ʼn potjie te gaan krap en die seer wat dit veroorsaak kan vir niemand beskryf word nie. ʼn Kindjie wat in die arms van sy oppasser of ouma veiliger voel as by sy ma omdat sy ma as gevolg van werk afwesig moes wees, is ʼn seer wat nie beskryf kan word nie.

Tog het ek nie raad of ʼn antwoord vir die probleem nie. As jy moet werk, moet jy werk. Elke dag moet ek hard met myself praat en myself herinner hóékom ek moet werk: Sodat ek die beste vir my kind kan gee wat ek moontlik kan. Ek doen ook elke dag waarvoor ek lief is sodat dit my die energie kan gee wat ek nodig het om weer in my kind te stort.

Die tweestryd is ingewikkeld en die aanpassing is enorm, maar ons naweek-mammas het een ding gemeen: Ons wens elke oomblik van elke werksdag ons was by ons kinders. En so lief soos die skooltannie ons kind het, sal hy haar nooit “mamma” noem nie.

  • Leonie Bezuidenhout is ʼn joernalis vir Maroela Media.

Lees alle Boepie-blues-rubrieke op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

PETRO ·

Dis n nuwigheid van ons generasie dat albei ouers voel hulle MOET werk! Ons redeneer altyd dat ons die ekstra inkomste nodig het om vir ons kinders DIE BESTE te gee!!?? En eintlik is tyd saam met Mamma en Pappa al wat ons kinders rerig wil he. So baie van hulle is bereid om al die na-skool aktiwiteite op te gee vir tyd saam met ons. Ek weet maar alte goed daar is ouers wat regtig nie n keuse het nie, ek is een van hulle, maar die hartseer realiteit is, dat daar te veel gesinne is waar dit ‘n keuse is en nie n moet nie!

Mercia ·

Ek het nou die dag die gesprek met iemand gehad. Elke “coin has a flipside” Ek was bevoorreg genoeg om grotendeels tuisbly ma te kon wees vir my 3. Nou is hulle al baie uit die hande….15, 13 en 10…. en vir eerlikheidshalwe moet ek sê so vervullend soos dit is, is daar dele van ‘n tuisbly ma se menswees wat maar ook hongersnood en hunkering ervaar. Ons is almal komplekse wesens met baie verskillende behoeftes aan ons menswees. Tuisbly ma voel soms of sy haarself verloor en wanneer die kinders so bietjie groter is moet sy weer van voor af begin evalueer waar pas sy in. Dis’n eer om vir jou kinders se menswees en sielsgeluk te sorg….maar dis ook jou verantwoordelikheid om vir joune te sorg. Alles gaan OP die ou end oor balans. As ons balans kan hê sal ons kinders eendag gebalanseerde grootmense wees.

Stofbakkies ·

Ek was ‘n werkende mamma, is nog steeds, maar my kind is nou uit die skool. Ek het elke oomblik na werk saam met haar spandeer. Ons het ‘n baie nou band en is mekaar se beste vriendinne en noudat sy ‘n volwasse jong dame is het ek nog my plek in die samelewing en my kind se vriendskap, liefde en ondersteuning. Ja mens moet balans handhaaf en ek was gelukkig om die beste vir nie net my kind nie, maar ook vir myself te doen. So werkende mamma moenie jouself blameer nie, niemand kan ooit jou plek inneem nie.

Gawie ·

Leonie, my hart breek vir jou. Ek het lank saam met ‘n jong mamma gewerk wat nie enige ander keuse gehad het as om te werk nie. Ek kon die hartseer elke dag sien oor haar kind wat deur iemand anders grootgemaak word. Wanneer die kindjie dan nog siekerig ook is, raak dit net erger.
Aan die mense wat so gou wil oordeel – dis ‘n situasie wat vir niemad sal wil toewens nie, want jy voel verskeur tussen jou kind en werk, maar daar is werklik geen ander keuse nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.