Boepie-blues: Die verskil tussen kommentaar en kômmin-taar

(Foto: Pixabay)

(Foto: Pixabay)

Iemand sê nou die dag daar is niemand so wreed soos ʼn persoon wat ʼn slegte dag gehad en boonop toegang tot die internet het nie. Wanneer ʼn mens egter gereeld op ʼn digitale platform skryf, waar die sweet van jou aangesig op die internet gepubliseer word, leer jy bitter vinnig om jou hartjie sterk te maak vir mense se menings en kommentaar en rol dit meer kere soos water van ʼn eend se rug af.

Jou skrywe, wat dikwels ure se navorsing geverg het of soms net die goed is waarvan jou eie kop vol is, soos ʼn blog-inskrywing of selfs in ʼn rubriek, word binne etlike minute vertrap deur vreemdelinge se moddervoete.

Mense wat my ken vra my hoe ek dit hanteer, maar ons elkeen het mos maar ons unieke persoonlikhede. Ek kan dit vat, sê ek dan. As ek in sak en as moes verval elke keer wanneer iemand ʼn berig of rubriek uit my pen kritiseer, sou ek beslis ʼn ander beroep moes oorweeg, en ek is heeltemal te lief vir my werk daarvoor!

Nou ja, dit is dan nou ook so dat ʼn mens gekou sal word as jy jouself uitgee vir ʼn toffie. As jy die waagmoed het om jou persoonlike ervarings met miljoene mense op die internet te deel, dan moet jy ook mos weet dat daardie miljoene mense onmiddellik in sleutelbordkrygers verander wat hul siening oor die dinge wat jy gedeel het, sonder skroom sál kritiseer.

Dit is nie net skrywers op die internet wat deurloop nie. Dieselfde geld ongelukkig ook vir bekendes. Die Britse koninklikes Harry en Meghan en hulle arme, onskuldige pasgebore baba, Archie, het die afgelope week soveel onsmaaklike kritiek op die internet moes verduur dat ek by tye eintlik gebloos het – en glo my, ek het al die vieslikste van vieslike kommentaar in my lewe raakgelees omdat ek so baie tyd op die internet deurbring.

Ons almal sê gereeld dinge waaroor ons later spyt is, maar die sleutelbordkrygers, die mense wat agter hulle rekenaars skuil nadat hulle die mees haglike goed kwytgeraak het, het geen genade nie. Wat my verstand heeltemal te bowe gaan oor kommentaar op die internet, is dat jy nog tyd het om te dink oor wat jy gaan sê voordat jy die “stuur”-knoppie op jou foon of rekenaar druk.

Daarom is ek so verbaas wanneer volwasse, opgevoede mense sekere dinge kwyt raak wat my tot in my diepste wese laat skaam kry. En laat hulle tog ook net nie van mekaar verskil nie, o wee, dan is die krygers op hul agterpote. Volwasse mense wat sal uitvaar oor hoe uiters onaanvaarbaar dit is wanneer 13-jariges selfmoord pleeg deur kuberboelies se toedoen, boelie mekaar op berigte oor mense soos Steve Hofmeyr en Caster Semenya.

Ek wonder dikwels hoe ek my arme, ongebore seun hierteen gaan beskerm. Kom ons wees nou maar realisties – die internet gaan nooit weggaan nie. Ek glo nie ons gaan een oggend opstaan en skielik het die ganse internet van die aardbol verdwyn nie. My kind gaan eendag kan lees en skryf en hy sal ook die internet kan gebruik en hy sal ontnugter word deur die wreedheid van mense se leë woorde teenoor mekaar.

Partykeer wonder ek of mense vergeet dat die internet nie ʼn diep, swart gat is waarin jou lelike, nydige aanmerkings verdwyn nie. Mense met verstand sit aan die ander kant daarvan, hulle sién jou en hulle wéét van jou swart hart. Hoewel jy dink jy kan maar sê wat jy wil oor Bouwer Bosch, Karlien van Jaarsveld, Kim Kardashian en Meghan Markle, want “hulle gaan dit nie lees nie”, is daar wel mense wat dit sien. Baie mense. Ek sien dit, en ons kinders kan dit sien.

Dit is vir my belangrik dat my kind gedoop moet word, die kerk moet leer ken en groot moet word met Christelike waardes, maar hoe verduidelik ek aan hom dat die oom wat Sondagoggend langs hom in die kerkbank gesit het, dieselfde oom is wat Saterdagaand lasterlike en rassistiese kommentaar gelewer het op Facebook? Hoe leer ek hom dat mense se kru woorde net hol simbole is en klanke sonder melodie? Hoe maak ek sy hartjie sterk?

Die Here het nie Facebook nie, maar Hy weet wanneer daar haat en onverdraagsaamheid in jou hart is. Daarvan is ek oortuig. En dit is iets wat ek my seun sal leer sodat hy sal weet dat dit eintlik baie meer van jouself sê as van die persoon wat jy probeer sleg sê. Dit is tyd dat ons almal verantwoordelikheid begin aanvaar vir dit wat ons op sosiale media kwyt raak – nie net vir onsself nie, maar vir ons nageslag se onthalwe ook.

ʼn Bekende aktrise het onlangs in ʼn onderhoud, toe ek haar vra oor skerp kritiek waaronder sy deurloop deur internetsleutelbordkrygers, gesê sy het besluit om die volgende beginsel toe te pas: “Ek blok jou en ek bless jou.” Nou toe, as daar ooit ʼn frase is wat my seuntjie eendag sal ken, is dit dié een.

  • Leonie Bezuidenhout is ʼn joernalis vir Maroela Media en vryskutblogger. Sy is 31 jaar oud en tans swanger met haar eerste baba.

Lees alle Boepie-blues-rubrieke op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Jozi ·

Ek blok jou en ek bless jou… ek hou daarvan.
Puik artikel en so waar. Filters mense, gebruik asb daai filters voordat die “send” knoppie gedruk word.
Ons hoef nie noodwendig oor alles saam te stem nie, maar ons mag mekaar maar respekteer en deernis hê vir die mense om ons.

Phillip ·

Kômmin-taar sal baie verminder as mense/lesers nie die opsie gegun word om dit onder ‘n skuilnaam te doen nie.

kolla ·

Mens kry dieselfde “houding” van sommige mense as hul in hul motors ry.

Andreas ·

Verminder is nie die antwoord nie, dis die mens se ingesteldheid wat die probleem is. Dan is dit ongelukkig so dat sekere openbare figure is om een af ander rede net nie gewild nie. Ek bv gaan soek nie moelikheid daar nie, ek bly net eenvoudig weg van daardie artikel, die keuse bly joune. As jy verveeld is, gaan lees ‘n boek of werk in die tuin. Maar as mens in die openbaar jou soos op die internet wil laat geld, bring te minste iets positiefs na die tafel toe, al is dit opbouende kritiek.

Ek self het paar jaar Blog vir ‘n Afrikaanse webwerf geskryf, dan is dit so dat as mens nie jou huiswerk gedoen het nie, kan mens verwag iemand sal jou aanspreek, maar dit is verseker nie nodig om neerhalend en persoonlik te raak nie. Iets pittigs en gevat is ook lekker om nou en dan te sien, mens wil ook darem per geleentheid in ‘n glimlag vaskyk.

Ook wat kan help, is as mens jou gedagtes, of dit wat jy wil sê, op ‘n Word dokument tik, daar kan jy sommer jou spelling verifieer, dan lees jy dit ‘n paar maal deur om seker te maak dat jou beredineering reg is en of dit werklik nodig is dat jy dit met die skrywer van die artikel of ander kommentators deel, voor jy dit na die kommentaar oplaai.

Andreas ·

Deur skuilname te verbied is nie die antwoord nie, dis die mens se ingesteldheid wat die probleem is. Dan is dit ongelukkig so dat sekere openbare figure is om een af ander rede net nie gewild nie. Ek bv gaan soek nie moeilikheid daar nie, ek bly net eenvoudig weg van daardie artikel, die keuse bly joune. As jy verveeld is, gaan lees ‘n boek of werk in die tuin. Maar as mens in die openbaar jou soos op die internet wil laat geld, bring te minste iets positiefs na die tafel toe, al is dit opbouende kritiek.

Ek self het paar jaar Blog vir ‘n Afrikaanse webwerf geskryf, dan is dit so dat as mens nie jou huiswerk gedoen het nie, kan mens verwag iemand sal jou aanspreek, maar dit is verseker nie nodig om neerhalend en persoonlik te raak nie. Iets pittigs en gevat is ook lekker om nou en dan te sien, mens wil ook darem per geleentheid in ‘n glimlag vaskyk.

Ook wat kan help, is as mens jou gedagtes, of dit wat jy wil sê, op ‘n Word dokument tik, daar kan jy sommer jou spelling verifieer, dan lees jy dit ‘n paar maal deur om seker te maak dat jou beredenering reg is en of dit werklik nodig is dat jy dit met die skrywer van die artikel of ander kommentators deel, voor jy dit na die kommentaar oplaai.

Elsje ·

Ek lees n rukkie gelede n artikel waar hulle sê “ons kan nie ons kinders groot maak soos ons ouers ons groot gemaak het nie, want ons ouers het ons groot gemaak vir n wereld wat nie meer bestaan nie”. Ja dis die waarheid dat die wereld verander het, maar ons kan tog die waardes en beginsels aan ons kinders oordra… Selfs die bybel het gesê dat die tong, of in hierdie geval, die sleutelbord, magtiger is as n swaard.
Ek wonder ook gereeld hoe gaan ek my jong kinders gereed maak vir die wreedheid wat ook vryheid van spraak insluit… vir kubber boelies, en ongewensde snedige kommentaar. Dan kom my ma se woorde in my gedagtes op. ” Kinders volg makliker die voorbeeld wat hulle by die huis kry, so sorg dat jou optrede die gedrag weerspieel wat jy eendag in jou kinders wil sien”.

Wessie ·

Jou laaste sin is só waar Elsje! Ouers en betrokkenheid en voorbeeld vir hul kinders gaan al hoe noodsaakliker word.

Elize ·

Groot en waar woorde. Soms kry ek seer omdat mense so ongenadig en uit gesproke is. Wat het van respek geword?

Andreas ·

Voor julle my afskiet is julle welkom as julle weet waar kom diamante vandaan.

ChrisE ·

Baie goeie artikel. Dit slaan my ook dronk hoe mense hulself die reg toe eien om uitsprake teenoor en oor ander mense te maak. Ek is self skuldig daaraan maar het myself al so kondisioneer om eers te stop en dink voor ek praat. Ek is al baie keer goed toegesnou en het nie dadelik terug gekap nie. Ek is gewoonlik so uit die veld geslaan dat ek niks kan sê nie. Ek is seker dan stadig of deur die blare in daardie opsig. Ek steur my in elk geval nie aan ‘n geskinder nie. Ek ontvang ‘n paar jaar gelede ‘n foonoproep van ‘n “vriendin” van my wat wragtag die vermetelheid het om my uit te vra oor ‘n storie wat sy van my by ‘n skool reünie gehoor het. Ek het net vir haar gesê ek is erg bly dat hulle my nog nie vergeet het nie en steeds na al die jare nog oor my skinder. Mense is lafaards, afgunstig en baie het verwronge selfbeelde, dit is hoekom hulle skinder. Ek het my voorgeneem indien ek niks goed van iemand kan sê nie hou ek my opinie vir myself.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.