Boepie-blues: Swangerskap se stres-nou-al-daaroor-lys

(Foto: Pixabay)

(Foto: Pixabay)

My kind sit op my blaas, sê ek byna halfuurliks voordat ek myself vir die hoeveelste keer uit die kantoor, partytjie of van die etenstafel af verskoon. Hy is nou eers 22 weke oud in my lyf en hy vertrap my reeds. Hoe lyk die vooruitsig van die res van ons lewens saam?

Ek vermoed dit gaan maar ook so wees dat hy vir die voorsienbare toekoms net soveel druk op my beursie gaan plaas soos hy tans op my blaas plaas. Die finansiële verknorsing het reeds begin: die uitgawes vir die nuwe slaapkamer en al die meubels wat ek skielik in ʼn piepklein spaarkamer moes indruk waar die mannetjie in die nag kan skree; die onkostes vir die peperduur ginekoloog- en ander doktersafsprake en dan natuurlik ook die ekstra toiletpapier, pakke doeke en ander benodigdhede wat noodgedwonge met elke spesiale aanbieding van Checkers of Pick n Pay aangeskaf moet word.

Skoolfonds is die volgende belangrike uitgawe op die moet-eers-doen-oor-ʼn-paar-maande-maar-ons-moet-nou-al-daaroor-stres-lys wat miljoene der triljoene rande gaan beloop. Die koste van ʼn klein baba in die kleuterskool per jaar is omtrent dieselfde as ʼn klein motortjie of ʼn vakansie vir twee in Bali. En dan moet jy nog sy eie melkies en doekies en boudsalfies saamstuur skool toe. Vaderland, miskien moet ek ʼn kleuterskool oopmaak, dink ek elke keer as ek die internet deursoek vir ʼn skool wat minstens lyk of die kokkerotte nie daar oor my kind gaan loop nie.

My nou-al-stres-lys raak daagliks langer. Van “Gaan ek dit regkry om te borsvoed?”, “Wat doen ek as ek ná vier maande moet teruggaan werk toe en hy wil nog aan my drink?” tot “Wat as ek nie kan borsvoed nie en hy is allergies vir elke liewe soort melk op die mark?” of “Wat as hy nie aan die 141 soorte tiete en bottels op die mark wil drink nie?”. Verder kan ʼn mens ook dinge soos “wat as sy linkergroottoon op sy regtervoet groei?” en “Gaan hy eendag goeie maats hê wat hom nie aan pornografie en dwelms gaan blootstel nie?” voeg by dié lys.

Nou kyk, ek het nooit geweet ʼn babatjie wat omtrent so groot soos ʼn mango is, kan soveel uitmergeling in die vroulike liggaam veroorsaak nie. Buiten die konstante besoekies toilet toe, is my rug en stuitjie ook af. Waarskynlik morsaf gebreek. Ek sukkel soos ʼn 88-jarige om van enige stoel of bed af te kom en my arme man moet sommige aande grootoog toekyk hoe ek met ʼn halfdooie linkerbeen van die sitkamer na die kombuis toe aansuiker.

So gepraat van suiker… buiten die badkamer is die kombuis die vertrek wat ek die tweede meeste besoek in die huis. Ek het al ʼn klein olifantjie se gewig aangesit sedert die aanvang van my swangerskap en ek bly honger. Mense sê ek gloei, maar dit is waarskynlik van die vetterige kos wat ek konstant eet, wat om my mond agtergebly het. Van groente en vrugte is daar min sprake – ek is honger vir pasta, pizza, brood, grondboontjiebotter, Woollies se karamel-rolkoeke en basies alles wat my en my kind swangerskapdiabetes kan gee. Swangerskapdiabetes op die stres-lys: check!

Ek het een dag só baie suiker geëet, ek kon my hart deur my hemp sien klop. Ek moes ʼn Tinkie eet om te stabiliseer. Daarna het ek besluit ek moet dit rustiger vat met die suiker, want diabetes is ʼn regte, egte probleem. Ek google toe, teen almal plus my dokter se goeie advies, een nag om 02:00 (terwyl my man salig langs my snork) al die goed wat verkeerd kan gaan as kinders diabetes in die baarmoeder ontwikkel.

Ek het die res van die nag trane van skuldgevoelens in my kussing gestort oor die blindheid, doofheid en ander defekte wat ek en my Tinkies vir my arme bloedjie veroorsaak het. Toe die son sy eerste strale deur die gordyne steek, spring (nee, kreun en steun met ʼn halfdooie linkerbeen) ek uit die bed en begin ek deur my splinternuwe kopie van What to expect when you’re expecting blaai. How to reverse diabetes, soek ek, maar niks. Useless bleddie boek. Ek vererg myself en druk ʼn stuk roosterbrood met stroop in my mond.

Terwyl ek vir die derde keer daardie oggend op die toilet sit, wonder ek: Daar is mos nie so baie suiker in stroop nie, is daar?

  • Leonie Bezuidenhout is ʼn joernalis vir Maroela Media en vryskutblogger. Sy is 31 jaar oud en tans swanger met haar eerste baba.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Janita ·

Sjoe! Ek het nou gelag dat die trane loop!! Baie goeie stukkie skryfwerk Leonie!

Vlam ·

Geniet hierdie tyd. Ek en my man het vir rukkie gedink ons verwag ons eerste 1, ons was albei nog nooit getroud gewees nie en op 38 stap ons tyd aan. Maar ongelukkig was dit toe nie so nie, alle sterkte word julle toegewens

Ek weet van. ·

Vlam, al my simpatie. In my middel sestigs is ek vandag nie spyt dit het toe nooit gebeur nie. Sou die ondervinding wou gehad het, maar die verantwoordelikheid? Ek dink nie so nie. Ook gesien wat sommige kinders aan hul ouers doen.
Almal se profiele, foto’s en gesprekke is oor kleinkinders. Mens voel bietjie uit. Ek is vry! Vir my en my man pas dit goed.
Dis nie die einde van die wêreld nie.

Lag nou lekker ·

Sit ek nou en lag verskriklik lekker. My vrou is amper 28 weke swanger en die bogenoemde is so in die kol dat dit as ‘n akademiese artikel kan bemark word.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.