Daar ís aanlyn oplossings vir leer- en leesprobleme

Foto: pixabay.com

Dit is geen geheim dat ouers uitdagings ervaar met hul kinders se opvoeding weens die Covid-19-pandemie nie. Baie ouers voel moedeloos en uitgebrand om tuisonderrig te probeer balanseer met hul eie werkslading – maar wat gebeur as kinders ook sukkel met taal-, lees- en ander leerprobleme? Edublox ondersoek aanlyn tutorgebaseerde intervensieprogramme vir huishoudings met internettoegang, en deel ʼn paar wenke oor hoe om die bul by die horings te pak terwyl daar nog baie onsekerheid heers ten opsigte van die onderwys.

Volgens Susan du Plessis, direkteur van opvoedkundige programme by Edublox, is meer ouers as ooit tevore daarvan bewus dat hul kinders sukkel om te lees of te leer.

“Baie gesinne het meer gereeld as gewoonlik hardop en saam gelees in hierdie tyd, veral omdat dit vir kinders in ’n emosioneel onsekere situasie kon ondersteun. Voorheen was die rapport aan die einde van die kwartaal soms die enigste aanduiding van presies hoe erg ʼn kind sukkel, maar nou het ouers eerstehandse ervaring van die probleemterreine wat hul kinders akademies kelder.”

Sy voeg by: “Dit is ook van kritieke belang dat kinders ondersteun word in hierdie opsig omdat sekere skole remediërende dienste aanbied, waarby kinders nie in die afsonderingstydperk kan uitkom nie. Uiteindelik sal hul vordering tot dusver tot niet gaan as ouers nie ingryp nie.”

Die goeie nuus is dat aanlyn programme moontlik kan help om ʼn daadwerklike oplossing te bied terwyl daar nog onsekerheid heers oor wanneer verskeie grade weer by skole mag aanmeld – en voordat kinders uiteindelik kan terugkeer na hul normale, propvol programme. Du Plessis deel ʼn paar wenke oor hoe om betroubare verskaffers te kies wat goeie aanlyn ondersteuningsprogramme bied:

  • Al voel dit soos ʼn slegte tyd om met die soektog na ʼn gepaste program te begin voor daar klarigheid is oor wanneer die verskillende grade mag terugkeer skool toe, kan dit vir sommige kinders ’n reddingsboei wees. Dit kan van waarde wees as ʼn kind gemaklik is met ʼn program wanneer hulle ʼn vreemde, nuwe wêreld vol gesondheidsregulasies moet aandurf saam met die druk van ʼn vol skoolprogram.
  • ʼn Professionele diagnose is nie altyd eers nodig om kinders met leer- en leesprobleme te ondersteun nie, maar leiding is broodnodig. Soek verskaffers wat interaktiewe, tuisgebaseerde aanlyn assesserings kan doen en ouers sodoende raad kan gee oor watter produkte of programme van waarde kan wees. Dit is veral belangrik as die koronavirus-vlak in sekere gebiede nie fisieke konsultasies en besoeke toelaat nie. Edublox maak byvoorbeeld gebruik van ʼn interaktiewe aanlyn inhuisassessering wat help om kognitiewe vaardighede wat aandag kort te identifiseer, en doen daarvolgens ʼn aanbeveling oor watter programme kinders kan ondersteun.
  • Ouers voel uitgebrand en sien nie noodwendig kans vir nóg leermateriaal wat hulle self moet aanbied nie. Soek vir aanlyn programme waar tutors of opvoedkundige personeel regstreeks met kinders in klein groepies werk, of aanlyn programme wat die minimum insette van jou as ouer verg.
  • Maak seker dat die verskaffer kundig is in die aanbieding van opvoedkundige materiaal deur aanlyn sagteware soos Zoom, Google Classrooms of Skype. Dis nie voldoende dat personeel net fisiek aan die ander kant van die kamera teenwoordig is nie – lesse moet interaktief en professioneel aangebied word en gepas wees vir die aanlyn medium.
  • Dit is ook belangrik dat ouers programme of kursusse oorweeg wat ná die afsonderingstyd ʼn verskeidenheid opsies kan bied, soos byvoorbeeld die bywoning van fisieke klasse, sou dit die behoefte wees.

“Ons almal se lewe en ons kinders se opvoeding is erg beïnvloed deur hierdie pandemie. Maar ek glo vas dat leer- en leesprobleme steeds opgelos kan word waar kenners en verskaffers hul dienste en toegang heroorweeg vir hierdie nuwe werklikheid. Ouers, daar is hoop – en julle vaar só goed om jul kinders deur hierdie krisis te help,” voeg Du Plessis by.

  • Edublox is ʼn toonaangewende verskaffer van gespesialiseerde lees-, wiskunde- en leerhulp wat bestaan uit kognitiewe opleiding, lees, spel, leesbegrip en wiskunde in die vorm van aanlyn en fisieke klasse. Besoek www. edublox.co.za vir meer inligting of volg Edublox op Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.