Daar’s niks fout met mislukking nie

fout-sien-hoor-sê-verkeerd-groen-paddas

Foto: Alexas_Fotos/Pixabay.com

Deur Danielle Barfoot

Uitdagings en foute kan jou kind help groei.

As ouers wil ons ons kinders beskerm – teen gevaar, ontsteltenis, teen dinge wat verkeerd loop en veral teen mislukking. Maar ons moet besef dat dit nie net aanvaarbaar is nie, maar noodsaaklik, vir ons kinders om te misluk en foute te maak.

So moeilik as wat dit vir ons mag wees, kan ons nie ons kinders teen nederlae, hartseer, angs of berou beskut nie. Maar ons kan hulle help om dit in ʼn veilige omgewing te ervaar. Deur aan kinders geleenthede te bied om foute te maak en die daaropvolgende gevolge te dra, is noodsaaklik in die grootmaak van volwassenes wat uiteindelik die lewe se aanslae met vertroue kan verduur.

In teendeel, navorsing het bewys dat kinders wat nie geleenthede het om te struikel en te herstel nie, laer selfvertoue en ’n swakker selfbeeld het. Hulle is ook banger vir mislukking en dus huiwerig om nuwe dinge te probeer.

Foute maak hou die volgende voordele vir kinders in:

  • Ontwikkel selfvertroue: Wanneer kinders toegelaat word om hul eie besluite te neem, ontwikkel hulle selfvertoue. Dié selfvertroue help hulle om nie so bang vir mislukking te wees dat hulle nie bereid is om nuwe uitdagings aan te pak nie.
  • Bou lewensvaardighede: Kinders ontwikkel belangrike lewensvaardighede wanneer hulle moeilike situasies ervaar. Hulle leer veerkragtigheid, hoe om negatiewe emosies te hanteer, selfbeheersing en hoe om om verskoning te vra.
  • Neem verantwoordelikheid: Kinders wat toegelaat word om hul eie keuses te maak, het ook die geleentheid om die nagevolge daarvan te hanteer. Hulle gaan soms swak besluite neem, maar dit leer hulle om verantwoordelikheid vir hul aksies te aanvaar. Hulle sal ook die natuurlike gevolge ervaar en sal (hopelik) in die toekoms wyser besluite neem.
  • Probleemoplossing: Omdat dit makliker is, of omdat ons nie daarvan hou ons kinders te sien sukkel nie, spring ons dikwels in om te help voordat ons kinders ’n kans het om hul eie probleme op te los. Maar, eerder as om jou kind te “red”, moet hy/sy die geleentheid gegun word om te probeer – maak nie saak hoe lank dit neem nie – totdat hy/sy iets self regkry. Só sal jou kind baie meer van hom-/haarself en sy/haar vermoëns leer.

Die lewe verloop nie altyd volgens plan nie

Die lewe is propvol teleurstellings en mislukkings – van swak punte of ’n onderonsie met ’n vriend tot ’n belangrike wedstryd wat verloor is. Maar, eerder as om op die fout wat gemaak is of die vermeende mislukking te konsentreer, is dit beter om te oorweeg wat jou kind geleer het. Persoonlike groei en ontwikkeling moet die fokus wees.

Wanneer dinge verkeerd gaan – en dit sal – wys jou aanvaarding en ondersteuning. Laat jou kind weet dat almal foute maak en dat foute nie noodlottig is nie… al voel dit dalk asof sy kan sterf van verleentheid.

  • Hierdie artikel is deur Impaq Education (voorheen bekend as Impak Onderwysdiens) voorsien. By Impaq weet ons dat persoonlike groei en ontwikkeling ‘n belangrike deel van die opvoedkundige reis van enige kind is. Ons bied innoverende en toeganklike onderrigoplossings om leerders te help om vir die lewe in ‘n moderne samelewing voor te berei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Casper Labuschagne ·

Daar is juis groot fout daarmee om te misluk. ‘n Mislukkings is bloot ‘n aanduiding dat jy aanpassings moet maak om vorentoe sukses te kan bereik. Al die eer lê in sukses en die les wat almal moet leer is dat om sukses te kan bereik dit duisende en duisende mislukkings sal verg.

In vandag se postmoderne wêreld waar die waarheid vervang word deur ‘n postwaarheid wat op gevoelens en nie op feite gebasseer word nie, word nou waarde in mislukkings asook persoonlike groei en ontwikkeling gesien, ‘n wêreld waar almal ook bevrediging sal vind deur te misluk.

Vandag is daar agt miljard mense op die aarde en slegs die halwe persent suksesvolle persone wat die lesse uit hul mislukkings gebruik het om sukses te behaal, sal kan uitstyg bokant die massa. Ons moet strewe na ‘n verdienstelike meritokrasie, nie na ‘n gelykheid waar die verloorders ook uitblinkers is nie, want dan het ons ‘n staat van ware kommunisme bereik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.