Die abnormale nuwe normaal vir ons kinders

Help jou kind om in die inperkingstyd nuwe vaardighede vir die toekoms aan te leer. (Foto: Annie Spratt/Unsplash.)

Deur Mariesa Candiotes en Jacoleen Vogel

 Daar word deurgaans gepraat van die nuwe normaal waarin ons onsself tans bevind, maar niks hiervan is normaal nie.

Dis geensins ’n maklike situasie nie, maar wat dit my wel geleer het, is dat die mensdom altyd maniere vind om aan te pas. Die beste voorbeeld is sekerlik die aanpassing om op ’n kreatiewe manier die daaglikse take met jou kinders by die huis aan te pak – dit leer ons om veerkragtig te word. Ons vind maniere om met mekaar te kommunikeer op verskeie aanlyn platforms. Skielik is Zoom-verjaarsdagpartytjies en aanlyn ooievaarstees aan die orde van die dag.

Dit is dus so belangrik dat ons hierdie abnormale nuwe normaal gebruik om kernvaardighede by ons kinders te ontwikkel. Ons as ouers word nou die geleentheid gegun om, met die kinders by die huis, daadwerklik vaardighede vir hulle aan te leer – vaardighede van kardinale belang in die vierde industriële revolusie (4IR). Ja, dit is nie ’n maklike taak nie en ek verstaan al te goed dat daar net 24 uur in ’n dag is, maar knyp tog ’n tydjie af en begin aan hierdie eienskappe en vaardighede werk.

Mariesa Candiotes. (Foto: Verskaf.)

Watter sleutelvaardighede kan in hierdie tyd ontwikkel word?

  • Empatie: Aangesien die hele wêreld saam vasgevang is in Covid-19, behoort kinders te besef dat hulle nie alleen is nie. Ander se situasies is dalk slegter as hul eie. Dit behoort hulle te leer om aan ander te dink en om simpatie en empatie met ander te hê. Stel kinders ook bloot aan die media (met ouertoesig, natuurlik) om genoegsame begrip te vorm oor wat aan die gebeur is en hoe dit die mensdom affekteer.
  • Gesinsverhoudinge: Die hele gesin is nou permanent in mekaar se geselskap. Leer kinders dat respek en verdraagsaamheid twee baie belangrike eienskappe is. Soos wat die afsonderingstydperk al langer word, voel dit of die huis al kleiner word en daarom is gesonde gesinsverhoudinge en roetine baie belangrik. Dit is nodig om rolle uit te klaar sodat die verspreiding van verantwoordelikhede regverdig is. Elkeen van ons het ’n ander persoonlikheid en daarom leer kinders ook om dinge uit ’n ander person se verwysingsraamwerk te sien. Dit versterk ook empatie.
  • Selfvermaak en selfregulering: Onmiddellike bevrediging en die afhanklikheid van eksterne vermaak is simptome van ons tyd. Dit is belangrik dat kinders leer om hulself te kan besig hou en ook weet hoe om aktiwiteite te reguleer en af te wissel. Deur hierdie vaardighede aan te leer, sal hulle ook besef dat ’n mens soms nodig het om net te “wees”, jy hoef nie ten alle tye besig te wees nie.
  • Kreatiwiteit: Aangesien ’n mens se roetine in hierdie tyd heelwat verskil, moet daar geleentheid geskep word om kreatiewe aktiwiteite te ondersoek, soos mosaïek, teken, bou, ensovoorts. Dit sluit aan by selfregulering en die vermoë om jouself besig te hou.
  • Leer: kook, organiseer, om huistake verrig, ensovoorts. Basiese vaardighede (en verantwoordelikhede) kan nou met vrug aangeleer word. Geen gemorskos en geen huishulp veroorsaak dat die fokus na gesond lewe en opruim verskuif word Betrek kinders by die kosmaakproses, of maak selfs beurte – maak seker dat hulle die basiese vaardighede verstaan. Laat hulle die wasgoed opvou en moenie kritiek lewer indien dit nie perfek is nie – dit is nie die doel van die oefening nie.
  • Speel sonder skermkontak: Aangesien hulle nou meestal aanlyn skoolgaan, is dit baie belangrik om ander dinge sonder skermkontak te ontgin om besig te bly. Dit is makliker gesê as gedaan omdat die skerm met tye ’n “oppasser” geword het, maar laat hulle buite speel, iets ontwerp, bordspeletjies speel of net wees.
  • Leer kinders die waarde van geld: Sente word omgedraai. Maak dus van hierdie geleentheid gebruik om kinders te betrek by begrotings en maniere waarop daar bespaar en gespaar kan word. Dit is glad nie nodig om al die besonderhede met hulle te deel nie, maar rig hul aandag daarop dat ons heelwat brandstof bespaar in hierdie tyd en laat hulle saamdink oor waar daar nog gesny kan word op uitgawes.
  • Gesinstyd: Eet as ’n gesin saam om ’n tafel. Die waarde hiervan is onskatbaar. Gebruik die tyd en laat elkeen die volgende drie dinge noem: iets waarvoor hulle dankbaar is, iets nuuts wat hulle geleer het en iets positiefs. Dit is belangrik om ook een slegte/negatiewe ding uit te lig en dit dan as gesin saam te bespreek.
  • Ontwikkel waardering vir ander: Kinders moet opnuut weer die waarde van onderwysers, die skool, ander noodsaaklike dienste, ensovoorts besef. Dit kan ’n aanknopingspunt wees vir ’n etenstydgesprek.
  • Gee sin aan elke dag – ’n mens verloor perspektief as jy ronddobber, daarom is dit belangrik om sekere doelwitte te stel en dan later daaroor na te dink. Begin saam ’n projek en handel dit af – bou byvoorbeeld ’n 1 000 stuk-legkaart.
  • Geduld: Ons kinders is gewoond aan onmiddellike bevrediging, maar indien beide ouers besig is of moet werk, moet kinders leer om geduld aan die dag te lê. Dit gaan ’n paar keer se voetestamp en rooi gesigte kos, maar op die lange duur gaan ons kinders leer om geduldiger te wees. En, soos daar gesê word, hoe langer ’n mens wag, hoe beter die resultaat of uitkoms.

Sterkte aan elke ouer in hierdie tyd. Dit gaan tyd in beslag neem om aan die abnormale nuwe normaal gewoond te raak. Die gemoedere loop hoog, die kinders verlang na hul maats en die skottelgoed trek vlieë, maar wees gerus dat ons sál oorleef in hierdie onsekere tyd en dat ons met bogenoemde raad en daad sterker, meer gebalanseerde en toegeruste kinders sal kan grootmaak.

  • Mariese Candiotes is ‘n Wolkskool-dosent in natuurwetenskap aan die Skoleondersteuningsentrum en Jacoleen Vogel is ’n opvoedkundige sielkundge wat privaat praktiseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kosie ·

Wat ek net glad nie kan klein kry nie is, almal is vreeslik bereid om aan te pas, maar dit voel vir my niemand bevraagteken hoekom ons moet aanpas nie. Die getal sterftes, die samestelling van die mense wat sterf regverdig nie die nuwe normaal nie, maar almal hardloop rond soos ‘n spul afkop hoenders, en probeer mekaar oortref in hoe “mooi” die reëls gevolg word. Dalk tyd dat ons eerder terugkeer na die ou normaal toe…

Nici ·

Ek stem saam met jou. Eks sooo keelvol om te hoor van ‘nuwe normaal’. Wat tans gebeur is abnormaal en selfs al doen 7 biljoen mense iets abnormaal is dit steeds nie normaal vir mense om so ongesond geisoleerd te lewe nie.

sterk soos n beer ·

ons gaan weer terugkeer na normaal ons moet net vasbyt

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.