Die APA ken talle grade en sertifikate toe

apa-promosieplegtigheid-2018-bennie-van-zyl

Bennie van Zyl, die hoofbestuurder van die Transvaalse Landbou-unie (TLU SA) is ook tydens die promosieplegtigheid as die nuwe kanselier van die instelling ingehuldig. Foto: Verskaf.

Die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA) het Woensdag BA-grade aan 13 studente toegeken terwyl ʼn verdere vyf studente hulle BTh-graad ontvang het.

Die instelling bied BA- en BTh-programme aan en het hierdie jaar ook begin om die nagraadse gevorderde onderwyssertifikaat aan te bied. APA is by die departement van hoër onderwys en opleiding as ʼn private tersiêre onderwysinstelling geregistreer.

Bennie van Zyl, die hoofbestuurder van die Transvaalse Landbou-unie (TLU SA) is ook tydens die promosieplegtigheid as die nuwe kanselier van die instelling ingehuldig.

“Van Zyl is in landboukringe bekend as iemand wat die landbougemeenskap se belange op die hart dra. Hy het die vermoë om op ʼn besondere wyse en met groot grasie met alle rolspelers in die land in gesprek te kan tree. Dit is daarom vir die APA ʼn voorreg om hom in die nuwe hoedanigheid as kanselier van die instelling werksaam te sien,” het prof. Koos Adendorff, rekor van die APA, gesê.

Daar is ook tydens die plegtigheid sertifikate aan studente van verskillende ouderdomme oorhandig wat deel is van ʼn nuwe opwindende Latyn-projek van die APA. Die instelling het na onderhandeling ʼn bepaalde skool vir Latyn by die Universiteit van Pretoria oorgeneem en ontwikkel dit nou verder.

“Die naam van die kursus is Schola Scripta en dit is ontwerp om enige belangstellende vanaf graad 6 of die ouderdom van 11 aan die rykdom van Latyn en die klassieke wêreld bloot te stel. Ons oudste student is tans 82 en is vinnig besig om die derde kursusvlak te voltooi,” het Adendorff gesê.

Sertifikate vir die inleiding tot programmering en robotika, en kort kursusse in opvoedkunde met ʼn spesifieke fokus op kindertrauma, vroeë kinderontwikkeling, dissipline en kinderdepressie, emosionele intelligensie, spelterapie en leerervaring-stimulasie is ook tydens die promosiegeleentheid toegeken.

“Die APA het soos soveel ander instellings wêreldwyd sy ontstaan te danke aan teologiese opleiding en dit word steeds as die APA se grootste bate beskou.

apa-promosieplegtigheid-2018-dosente

Die span dosente by die AP Akademie. Foto: Verskaf.

“Daar word tot dusver ’n BTh-program aangebied waarby studente van verskeie denominasies ingeskakel het. Die strewe is om klassieke teologiese opleiding aan bedienaars van die Woord uit verskillende tradisies te bied. Na die basiese opleiding kan hulle dan na hul eie denominasies gaan vir afronding,” het hy gesê.

Vanweë die veranderende omstandighede word daar tans ook gewerk aan ’n nuwe teologiese graad waaroor daar in die nabye toekoms meer inligting gegee sal word. In aansluiting hierby is daar mettertyd ook ’n unieke BA-program ontwikkel.

Dit is tans vir die meeste studente by die APA as instelling die eerste stap tot beroepe in die teologie, hoër onderwys, en sielkunde. Dit verleen ook toegang tot ander beroepsmoontlikhede in velde soos menslike hulpbronne, taalberoepe en veelsydigheidsberoepe.

“Saam met ander gerekende private instellings is dit die oogmerk van die APA om ’n wesentlike bydrae te lewer in die daarstel van tersiêre studie in Afrikaans op uitnemende vlak. Die APA is daarop ingestel om ’n klassiek-Christelike tradisie in die Suid-Afrikaanse samelewing met sy verskillende gemeenskappe te bevorder,” het Adendorff bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

jaco ·

die AP Akademie behoort aan die Afrikaanse Protestantse Kerk, ‘n konserwatiewe afrikaanse kerk wat NET wit mense as lidmate toelaat. Ek wonder of die AP Akademie net so ‘n slegs wit mense beleid het?

APA ·

Die APA is onafhanlik van die APK. Enige student wat voldoen aan die toelatings vereistes is welkom. Ons taalbeleid is Afrikaans en kursusse word slegs in Afrikaans aangebied. Die APA is ‘n Christelike instelling, maar ons keuring het niks te doen met kerverband nie en is daar studente van verskeie kerkverbande. Die APA is geakkrediteur deur die Die Departement van Hoër Onderwys en dus word ons grade ten volle erken en kan ons met trots sê dat van ons studente al verder studeer het in die buiteland.

Geen toekoms ·

Wat is daarmee fout. Witmense word oral uitgedruk, dan moet ons mos op ons eie ons eie ding doen. Watter opsie het ons? Ons taal word verag en uitgedruk. Liewe hemel kan jy dit nie insien nie???

JC ·

Mooi so!!!
Ek kan met trots se dat ek DIE wonderlike instansie/ mense elke maand ondersteun met ‘n skenking!
Die drie pilare van Afrikaanse Christelike tersiere onderrig in Suid-Afrika; nadat alle Afrikaanses die deur gewys is deur die polities korrekte staatsinstansies; is:
Akademia, die APA en AROS.
Hoera~! Welgedaan.
Ons sien uit na reuse groei oor die komende 2 jare, en in die verre toekoms.
Jaco, ek is seker jy as bruin Afrikaner sal ook welkom wees by die Afrikaanse Protestantse Kerk, probeer dit gerus, jy sal verbaas wees:)
Die stryd om ons moedertaal te handhaaf…is VER van verby; en die resultate daarvan wanneer iets; wat nog te se van “die Taal”, probeer onderdruk word; is duidelik: “die Taal”; Ons Taal, Afrikaanses se Taal, ons lieflike eiesoortige boompie wat nog so jonk is; blom soos tulpe kom lente in Holland!
Afrikaans Leef!

Oud APA student ·

Knap gedaan APA! As oud student is ek trots om te kan sê dat moedertaalonderrig nie net op Junior Primêre vlak kardinaal is vir akademiese groei en prestasie, maar ook op tersiêre vlak. Dankie vir daardie geleentheid. Seënwense

Voormalige Apa student ·

Baie trots om ‘n voormalige student van Apa te wees. Wonderlike mense en wonderlike ervaring. Baie dankbaar om deel te kon wees van die fantastiese instansie. Knap gedaan Apa!!

Boesman ·

Jaco, ek hoop regtig jy het gelees en verstaan dan wat die APA kommentaar is. Wonder net minder in die lewe, doen iets en dit wat jy nie kan bybring en kan bevorder nie, los dan vir mense en volkere om vooruit te gaan. Wees trots op wie jy is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.