Die belangrikheid van lees

Kinderboeke_boekrak_ouerskap.jpg

Foto: parallaxperspective.com

Lees ontsluit jou verbeelding en die wêreld

Lees is ongetwyfeld een van die belangrikste vaardighede wat ’n kind nodig het om sukses te behaal, op skool én in die lewe.

Byna alles wat ons doen, behels die vermoë om te kan lees. Hoe meer gevorderd die samelewing raak, hoe belangriker word leesvaardighede. Die rede hiervoor is dat gevorderde tegnologie hoër vlakke van opleiding vereis waar doeltreffende lees’n belangrike rol speel. Lees word dus ook ’n instrument van selfverwesenliking.

’n Liefde vir lees kan op ’n jong ouderdom al ontwikkel word – selfs voor ’n kind leer lees het. Om vir jou kinders boek te lees, is heerlike gesinstyd en die belegging in jou se kind se toekoms maak deur ‘n lewenslange liefde vir lees te kweek, is van onskatbare waarde.

Lees is noodsaaklik in ons alledaagse lewens

Voordat jy ’n nuwe speletjie kan speel, moet jy in staat wees om die reëls van die spel te kan lees sodat jy weet hoe om dit te speel. Voordat jy’n projek, stokperdjie of tydverdryf kan aanpak, moet jy kan lees. Jy kan oplees oor hoe om te kook of ’n koek te bak, oor opwindende plekke om te besoek of waar om vakansie te gaan hou. Jy moet selfs ’n spyskaart kan lees voordat jy ’n maaltyd of wegneemete kan bestel.

Lees stel jou bloot aan nuwe dinge

Nuwe inligting verbeter jou probleemoplossingsvaardighede en kan jou vermoë om die groter prentjie te sien, verbeter.

Lees help jou om nuwe belangstellings te verken en verruim die gees

Dit help jou om te bepaal wie jy is en wat jy graag wil wees.

Lees help jou om die wêreld rondom jou te verstaan

Dit wakker jou verbeelding aan en verbeter jou skryf- en redenasievermoë.

Lees verbeter jou algemene kennis

Dit help jou om te verstaan hoe die lewe werk, hoe die samelewing funksioneer en wat menslike gedrag motiveer. Dit wys gevare uit en maniere om dié gevare te benader (of te vermy). Dit wys jou ook hoe verskillende aksies tot verskillende resultate lei.

Lees kan jou vermoë om te kommunikeer verbeter

Jy is in staat om kennis met ander te deel. As jy niks het om te deel nie, het jy niks om te kommunikeer nie. Lees is die belangrikste manier om inligting en kennis op te doen.

W.W. Charters, professor en direkteur van die Buro vir Opvoedkundige Navorsing aan die Universiteit van Ohio, het so ver terug as 1941 reeds die belangrikheid van lees beklemtoon:

“Lees is die mens se magtigste vaardigheid. Daarsonder word sy wêreld deur sy bure bepaal. Al wat hy leer, is dit wat hy uit gesprekke aflei, inligting wat onvolledig oorgedra word en wat deur die stadige deursypeling van mondelinge nuus vertraag word … die massiewe muur van onkunde sluit hom uit die wêreld van koerante, boeke, tydskrifte en pamflette. Lees vorm die hoeksteen van die intelligensieboog wat die skole gestig is om op te bou.”

Outeur:  Wendy Pepler
Artikel verskaf deur:  Impak Akademie

Bronne geraadpleeg:

  • Charters, W.W. 1941. Reading, Educational Research Bulletin, Vol. XX(6):145-146
  • “Why should children read?” retrieved from http://www.readingbyphonics.com/early-start/why-should-children-read.html#.U_Sg2fmSxqU (accessed 2014/08/20)
  • “The importance of reading books” retrieved from http://www.singhrahul.com/2012/08/the-importance-of-reading-book.html (accessed 2014/08/20)
  • “Hoe om kinders te leer lees” retrieved from http://www.thereadingclinic.co.za/kinders-leer-lees.htm (accessed 2014/08/23)

Meer oor Impak Onderwys

Of jy goeie beginsels wil inskerp, meer tyd saam met jou kind wil spandeer of ver van skole af bly, Impak glo net die beste is goed genoeg vir jou kind. KABV-belynde kurrikulum en akademiese ondersteuning van graad R – gr 12. Besoek ons webwerf by www.impak.co.za, of kontak ons per e-pos.

Deel van: Ouerskap, Promosies

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Charles ·

Julle het Facebook reggemaak, maar die opskrif en skakel lees nog steeds ‘belangrikeheid’.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.