Die beste Kersgeskenk vir jou kind

Argieffoto (Foto: TheVirtualDenise/Pixabay)

Hierdie tyd van die jaar word ouers gebombardeer met advertensies van kinderspeelgoed en ander kindergeskenke. Ouers wil so graag vir hulle kinders die beste in die lewe gee en daarom word daar onophoudelik na dié geskenk, wat hulle lank sal onthou, gesoek.

Wat is die beste, mees duursame, waardevolle en bekostigbare geskenk wat jy vir jou kind kan gee? Dit is die geskenk van wysheid oor tyd.

Ouers hoor so dikwels dat hulle kwaliteittyd met hul kinders moet spandeer. Ouers voel dat hulle nie genoeg tyd het om aan hul kinders te spandeer nie, want die lewe se eise hou hulle so besig. Behalwe die belangrikheid om in hierdie feestyd tyd met jou kinders te spandeer deur bordspeletjies en bal te speel, is die beste geskenk aan jou kind ʼn ander soort tyd.

Die geskenk van hoe om tyd met wysheid te gebruik is een van die grootste geskenke wat ons aan ons kinders kan gee. Ons moet ons kinders leer daar is ʼn tyd vir alles. ʼn Tyd om te eet, ʼn tyd om te bad, ʼn tyd om te speel, ʼn tyd om dankie en asseblief te sê, ʼn tyd om dankbaar te wees en ʼn tyd om liefde te bewys. As ons vir ons kinders leer dat tyd kosbaar is en dat tyd nie op afbrekende opmerkings, doellose boeliegedrag, tydrowende selfoon en ander skerms en op ongesonde kos verspil moet word nie, dan leer ons ons kinders wysheid oor tyd.

Ons en ons kinders spandeer dikwels soveel tyd in een van die volgende drie kategorieë:

Die Martie Martels: Ander word vir alles wat verkeerd is, geblameer. Dis die juffrou wat die kind so onregverdig in die klas behandel; dis die afrigter wat nie goed genoeg is nie; dis die maats wat lelik is met die kind. Almal word blameer, maar die kind en ouer neem geen verantwoordelikheid vir die negatiewe, afbrekende tyd van hul eie gedrag en optrede nie.

Die Jannie Jammervoel: Ander mense word nie blameer nie, maar Jannie het nooit tyd vir enige iets nie. ʼn Lang lys verskonings is altyd reg om sekere dinge nie te doen nie en daarom kan hy nie gelukkig wees nie. Dié soort mens is altyd besig om ʼn rasionele leuen aan hulself te verkoop en voel goed dat hulle ʼn rede gevind het om nie sekere dinge te doen nie. Enige verskoning doen vir hulle die ding.

En dan kry mens:

Kesie Keusemaker: Hierdie persoon aanvaar die verantwoordelikheid vir sy tyd en leer ook sy kinders om dit te doen. Hierdie persoon is geleer om die positiewe en negatiewe van elke saak op te weeg en dan ʼn besluit te neem. As dinge verkeerd loop, word ander of die omstandighede nie blameer nie, maar dit word as ʼn geleentheid gesien om daaruit te leer en dinge op ʼn ander manier te doen. Tyd word verantwoordelik bestee en elke dag word as ʼn geleentheid gesien om ʼn verskil te maak. Al is die kind jonk, besef hy dat hy uniek en spesiaal is, maar nie meerderwaardig nie. Hy besef dat die Here vir hom ʼn unieke en spesiale tyd op aarde het en dat daar nie eers tyd hoef te verloop voordat hy dit aan ander kan wys nie.

Die beste geskenk vir jou kind is die geskenk om wys te wees met tyd. Gee dit aan jou kind dié Kersfees.

Vrae om te oordink:

  • In watter kategorie spandeer jy en jou kind die meeste tyd?
  • Hoe kan jy jou kind in die alledaagse lewe leer om tyd met wysheid te gebruik?
  • Leer jy jou kinders dat hul unieke en spesiale menswees in die wêreld nodig is?

Bederf gerus jou kind die feesseisoen, spandeer spesiale tyd, maar moenie dat dit ooit die geskenk om heeljaar wys met tyd te wees, vervang nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.