Die dag toe ons meer word

Argieffoto (Foto: Pixabay)

Niks en niemand kan jou voorberei vir die dag as jou gesin uitbrei nie. Daar is baie dinge wat mens daardie dag besef en wat verander. Sommige mense sê jou lewe is verby die dag as jy kinders kry.

As iemand wat daarvan hou om persoonlike tyd te hê en baie te reis, kan ek met eerlikheid sê hoewel jou lewe nooit weer dieselfde gaan wees nie, is dit darem nie verby nie. Inteendeel, jy was moontlik nog nooit so na-aan die lewe soos nou nie want as jy slaap of selfs net vir ʼn oomblik laat los, druk die kleinding iets in sy mond soos ʼn akkedisstert wat die kat ingedra het (ware storie) of hy wurm homself op vyf weke al self van die bank af en val hard op die teëlvloer (ook waar). Ek belowe ons probeer goeie ouers wees.

Daar is ook nie lesse wat ek kan deel nie, miskien is dit eerder waarnemings.

Die eerste waarneming is daar is nie so iets soos ʼn geboorteplan nie. 99% van die tyd verloop dit heeltemal anders as wat jy beplan het.

Ek het die droom gehad van ʼn natuurlike geboorte. Ná 16 uur sonder ʼn epiduraal – want ek wil mos nou sterk wees – kry ek toe maar wel ʼn epiduraal, en nog enkele ure later, uiteindelik ʼn noodkeiser omdat baba nommer een besluit het hy wil met ʼn stewige 4.5 kilogram die eerste lig aanskou.

Die bulletjie het my geboorteplan by die kraamsaal se deur uitgeboender.

En dit was oukei.

Met nommer twee weet mens van beter en probeer jy nie meer slim wees nie. Jy aanvaar jy kry groot kinders, maar hoop tog om weer die normale geboortepad te gaan – wat bekend staan as ʼn “VBAC”. Als loop goed, die skanderings en die dokters is aan boord. En toe besluit boetie Nuwejaarsdag is sy geboortedag, drie weke te vroeg. Weer ʼn soliede 4 kilogram-kleinding wat die droom van ʼn “VBAC” verpletter.

Weer is dit oukei.

Nog ʼn waarneming van die dag toe ons meer word, is niemand is ʼn beter ouer as iemand wat nog nie ʼn ouer is nie. Op dag een reeds laat vaar jy elke moontlike teorie, mening, reël en oordeel wat jy ooit gefel het op ander ouers.

Ouers doen gewoon die beste wat hulle kan. Jy doen soms wat jy moet om deur die dag te kom. Om nie te praat van die nagte nie.

Mens besef ook die dag as nommer twee kom, is die laaste dag wat jy nommer een as ʼn baba sien. Hy word binne ʼn paar uur groot. Want hy moet. Maar so leer hy ook dat die wêreld nie net om hom draai nie. ʼn Waardevolle les wat mense dalk vroeër as later moet leer – of hy nou wil of nie. En soos hy deel word van sy boetie se lewe, is dit een van die wonderlikste gesigte.

Onvoorwaardelike liefde wat niks terugvra nie.

Waarneming nommer drie. Die raad wat my suster vir my gegee het: Jy moet ʼn “nuwe normaal” vind. Dit gaan dol. TV-reekse kyk, boek lees, aandete voor nege-uur in die aand – dis maar van die utopiese gewoontes wat by die venster uit is toe boeties by die deur inkom. Maar, daar is iets beters wat jy kry in ruil vir die opofferings.

ʼn Mens begin weer die klein vanselfsprekende dinge in die lewe waardeer. Jy sien als weer asof vir die eerste keer – deur die oë van ʼn kind. ʼn Motorrit na Spar raak nou die grootste avontuur. Die onderdele van ʼn motorfiets of die inhoud van jou Tupperware-kas kry nuwe aandag. Goeie vriendskappe waar jy mekaar onderskraag en moed in praat, los jou met ʼn warm gevoel in die hart wat jy miskien al vir ʼn ruk vergeet het hoe dit voel.

Hulle sê ook as jy wil hê iets moet gedoen word, gee dit vir ʼn ma om te doen. ʼn Mens leer effektief multi-task, in die kortste tyd moontlik. Dit voel soms of ek ʼn seekat is met agt arms. Soms wens ek ek was!

Miskien moet ek effe bieg. Kinders leer ʼn mens ook om minder selfsugtig te wees … Jy besef eers hoe selfgesentreed jy as mens kan wees die dag as jou kinders hulle opwagting maak en dié appelkar omgooi. ʼn Baba in jou lewe beteken eenvoudig jou Instagram-foto’s gaan nie weer vinnig van jou in ʼn gimnasium met ʼn Kauai-sappie wees nie. Of iewers op ʼn eiland met ʼn sambreeldrankie nie. Nee. Die fokus verskuif nou na iets anders as jouself vir 23 uur van die dag. (Dis nou as jy daardie laaste uur van die dag dalk ʼn slapie kan inkry.)

Soos my man sê, daar’s niks wat jou so afbring aarde toe soos om te wonder of jy jou hande gewas het na jy ʼn doek geruil het nie – terwyl jy ʼn bak chips in jou mond stop.

En dit is ook oukei. Want jy sal dit nie anders wil hê nie.

Paasfees het ewe skielik vir my nuwe betekenis gekry die dag toe ons meer geword het. Vir my was die grootste wonder die realiteit van die onbaatsugtige liefde wat God vir ons as mense het. Ek het besef ek sal my kinders enige iets vergewe as hulle my om vergifnis vra.

Ek sal graag alles vir hulle doen om hulle gelukkig te sien en ek sal so streng moontlik wees om hulle teen die leed en seerkry van die lewe te probeer beskerm. Hulle sal dalk nie van my hou weens die reëls wat ek daar stel nie maar ek ken darem effens die lewe en ek weet wat vir hulle die beste sal wees. Eendag sal hulle terugkyk en my hopelik bedank daarvoor.

Die dag toe ek my kinders in my arms vashou, het ek eers geweet hoekom God sy enigste Seun gestuur het om ons, sy kinders, te kom red van ons sonde. Ek sal my alles gee vir my seuns. Ek sou met liefde in my kinders se plek sterf as die lewe dit van my sou vra. En daarom kom sterf God, as die Seun, in ons plek…

As ʼn ouer weet ek nou daar is geen groter liefde as die liefde van ʼn ouer nie. Ons vir ons kinders. En God vir ons.

Dit álles het ek besef, die dag toe ons meer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

charmaine ·

Alles hier bo so waar! Almal wat nog nie geboorte gegee het dink om normal geboorte te gee maak van die baba die volgende president(hahah) toe nie, want dis ook nie waar nie hoe hulle gebore word deur te druk of met n mes dis hoe jy daardie kind groot maak, ook borsmelk maak van jou kind in geniaal, nee in teen deel daardie kinders word toe meer siek as die blik en beesmelk baba. So ja daar is nie n manual nie en ons ploeg maar deur. Maar nou is myne 22 en 24 jare oud en dis nou die lekkerste tyd van ons lewe. Nou gaan ek die man al alleen met vakansie ek kan boeke klaar lees en lekker met hulle kuier. En hulle word vinnig groot!

Jo ·

Ek dink nie mens is veronderstel om so iets te lees by die werk nie…. want ek het sommer trane in my oë gekry. Dis pragtig en spesiaal gestel.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.