Die huiswerkdebat

 Kind_huiswerk_skryf_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

[promosie-artikel]

Danielle Barfoot

Huiswerk verdeel ouers, opvoeders en ontwikkelingspesialiste regoor die wêreld al jare lank. Terwyl sommige mense voel dat huiswerk onnodig, oordadig en té stresvol vir kinders is, glo ander weer dat dit hulle noodsaaklike vaardighede leer. Wie is reg?

Eintlik is almal reg.

Huiswerk hou verskeie voordele in:

  • Huiswerk verryk die klaskamerervaring en versterk vaardighede en begrip.
  • Dit help kinders om die nodige selfvertroue en selfdissipline te kweek om op hul eie te werk.
  • Kinders kan in ’n omgewing wat spesifiek vir hulle leerbehoeftes ontwerp is, werk en leer.
  • Ouers kan sien wat hulle kinders leer en word bemagtig om meer betrokke te raak by hul kinders se opvoeding.
  • Kinders leer belangrike lewensvaardighede, soos om verantwoordelikheid te aanvaar en hul tyd reg te bestuur.
  • Huiswerk bied aan kinders die geleentheid om meer te leer oor onderwerpe wat hulle interesseer.
  • Dit ondersteun die huis-skool-verhouding.

Huiswerk kan egter ook negatiewe gevolge hê:

  • Dit kan tot frustrasie en uitputting lei – ná ’n lang dag by die skool het kinders tyd nodig om te ontspan.
  • Gesinstyd word dikwels opgeoffer as gevolg van huiswerk.
  • Daar is minder tyd beskikbaar vir kinders om aan sport en ander ontspanningsaktiwiteite deel te neem.
  • Dit kan tot konflik tussen ouers en kinders lei.
  • As die inhoud nie interessant of boeiend is nie kan kinders belangstelling in hul skoolwerk verloor.
  • Huiswerk bied dikwels nie die geleentheid vir betekenisvolle leerervarings nie en is bloot bedoel om kinders besig te hou.
  • Nie alle leerbehoeftes en -style word in ag geneem wanneer huiswerk uitgedeel word nie.
  • In Suid-Afrika moet baie kinders ’n bykomende struikelblok oorkom. Navorsers aan die Universiteit van Suid-Afrika het bevind dat meer as 85% van graad R-leerders nie in hulle huistaal leer nie – ’n situasie wat regdeur hulle skoolloopbaan voortduur. Ten spyte hiervan dring onderwysers daarop aan dat hulle huiswerk doen. Ouers mag ongeletterd of semi-ongeletterd wees, maar daar word van hulle verwag om onder meer vir hulle kinders te lees, met uitspraak te help en huiswerk na te gaan, dikwels in ’n taal wat hulle self nie verstaan nie.

Die ideaal is dat elke leerervaring waaraan kinders deelneem – by die skool of tuis – betekenisvol moet wees, en dat dit komponente insluit wat aan die vereistes van verskillende leerstyle voldoen. Dus behoort die antwoord op die vraag huiswerk of nie, nie bloot ja of nee te wees nie, maar eerder, watter soort?

Die departement van basiese onderwys het nie ’n formele beleid oor hoeveel of watter soort huiswerk gegee moet word nie en skole kan dus hul eie besluite neem. Dit beteken dat daar ’n geleentheid vir onderwysers is om interessante aktiwiteite te ontwerp wat sal help om konsepte vas te lê, die leerervaring uit te brei en om kinders (en ouers) by die leerproses te betrek.

Nog ’n aspek om te oorweeg is gehalte eerder as hoeveelheid. As daar gereeld van kinders verwag word om werk tuis te doen wat hulle nie uitdaag om dieper te dink nie, of wat nie daarin slaag om hulle opgewonde oor leer te maak nie, wat word daarmee bereik?

Artikel verskaf deur Impak Onderwys

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.