Die klein prinsie

prins-en-prinses

Foto: Vborodinova/Pixabay.com

Eendag lank, lank gelede was daar ʼn klein prinsie. Die prinsie het ronde bruin ogies en ligte rooibruin krulhaartjies gehad. Die klein prinsie was lief vir koetse en perdekarre en het graag saam met sy boetie bal gespeel. As sy sussie maatjies gekry het, was die klein prinsie sommer baie opgewonde, want hy het geweet hy gaan dan sussie se speel-speel baba wees en hy gaan swieties gevoer en rondgestoot word in die karretjie en sommer net bederf word.

Saans het die koningin die klein prinsie gebad in die koninklike badkamer en dan het sy hom styf toegedraai in die handdoek, soos ʼn opgestopte worsie. Die klein prinsie het geskreeu-lag van lekkerte. Saans as dit slaaptyd was, het die klein prinsie tussen die koning en koningin ingekruip en hulle het al spelende aan die slaap geraak. Deur die nag het hy graag sy handjies onder die koning se lyf ingedruk en veilig en knus agter sy rug geslaap.

Toe, eendag, kom daar ʼn nare heks. Sy het ʼn geheime mengsel aangemaak wat die klein prinsie vreeslik siek gemaak het. Die koning en koningin het die hele ryk geroep om te help om ʼn kuur vir die siekte te kry. Mense het van heinde en ver gekom om te ondersteun, te dra, te help, te bid. Die klein prinsie is selfs na ander koninkryke gevat vir hulp, maar dit was alles tevergeefs.

Die klein prinsie se hartjie het sy laaste kloppie gegee terwyl die koning sy handjie vasgehou en die koningin se hand op sy hartjie gerus het. ʼn Geweldige storm het om die koning en koningin toegesak met helder, harde blitse. Die blitse het alles om hulle aan die brand gesteek en hulle het geweet dat daar ʼn baie donker rit in die stormweer vir hulle voorlê, terug na hul eie koninkryk waar die klein prinsie se boetie en sussie vir hulle gewag het. ʼn Baie lang stil rit … sonder hulle klein prinsie.

Die klein prinsie se boetie en sussie was platgeslaan. Die skok was oorweldigend. Onwerklik. Seer. Die volgende oggend was dit dag, maar vir die koning en koningin, en vir die klein prinsie se boetie en sussie, het die son dowwer geskyn as gewoonlik, die kasteel was stiller, die kos was smaakloser, die harte seerder, die oë dowwer en die gemis elke dag erger. Want die klein prinsie was nie meer daar met sy skaterlaggies en trippeltoontjies nie.

Die klein prinsie het nie meer bal gespeel met sy boetie nie en hy kon nie weer sussie se baba wees nie. Liefde alleen kon hom nie red nie. Maar hy sal altyd die koning se klein prinsie wees. Hy sal altyd sy boetie en sussie se balmaatjie en speelmaatjie wees, en hy sal altyd die koningin se krulkoppie wees, want sy wortels is diep geplant in hul harte en selfs al groei sy lyfie nie meer by hulle nie, kon die heks se mengsel nie die wortels van sy voetspoortjies uitwis nie. Hy is diep geplant. Geanker. Tot in ewigheid.

  • Louis en Marisa Engelbrecht se rooikrulkopseuntjie, Christo, is op 5 November 2015 op driejarige ouderdom dood. Hy het onverwags siek geword en moes ʼn beenmurgtoets (lumbale punksie) kry. Die toets het komplikasies tot gevolg gehad en is glo nie deur ʼn pediater reg gediagnoseer nie. Hy is gevolglik breindood verklaar en nadat hy twee keer na verskillende Pretoriase hospitale oorgeplaas is, is hy uiteindelik na die Garden City-hospitaal gehaas. Ten spyte van dokters se volgehoue pogings, is Christo dood met sy ouers en boetie, Coert, en sussie, Zanie, aan sy sy.

Meer oor die skrywer: Marisa Engelbrecht

Marisa Engelbrecht se liefde vir skryf het op skool reeds posgevat. Sy skryf graag oor dit wat haar na aan die hart lê en vind inspirasie in die alledaagse doen en late van haar hartsmense. Sy het bykans 20 jaar ondervinding in kommunikasie, skakelwese, bemarking en joernalistiek.

Deel van: Ouerskap, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lisa ·

Baie treffend en hartseer. Sterkte vir die skrywer en haar gesin. Sy plekkie op die aarde is leeg maar in julle harte sal hy altyd voortleef. Niemand kan hom daaruit gaan haal of wegvat nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.