Die koste om ʼn baba groot te maak

Argieffoto (Foto: Free-Photos/Pixabay)

Net so ongelooflik oulik en opvreetbaar pienkvoete kan wees, net so vreet die onkostes om hulle groot te maak ongelukkig aan jou sak. Veral in die eerste jaar, miskien ʼn jaar en ʼn half. Soos wat hulle ouer word raak dit ʼn klein bietjie meer beheerbaar, maar sit dalk daardie ekstra geldjies wat jy spaar maar weg vir hulle opvoeding later.

Niemand kan jou egter voorberei op die hoeveelheid geld wat ewe skielik uit jou sak uit vloei as hulle eers hulle opwagting maak nie. Dit begin ongelukkig selfs soms voor daardie wonderlike oomblik.

Kom ons kyk na ʼn paar uitgawes waaraan mens nie altyd (voor die tyd) dink nie:

Babameubels en bykomstighede:

Argieffoto (Foto: andremergulhaum/Pixabay)

Hier is waar mens al begin uitgee nog voor hulle hulle opwagting maak. Jy kan partykeer só opgewonde raak tydens die swangerskap en dan wil jy net al die mooi en oulike goed koop. Die grootste probleem is dat daar so baie opsies is, dat dit selfs bietjie oorweldigend kan wees. Ek het eenkeer in Baby City in trane uitgebars omdat daar te veel opsies vir “rockers” was… Ek weet dis nie iets om oor te huil nie, maar mens se swangerskaphormone kan soms handuit ruk.
Dankie tog ek het uitgeloop, want uiteindelik het ons een by vriende geleen – dit was die beste besluit ooit. Mens het dit regtig nie vir baie lank nodig nie!

Persoonlik dink ek die volgende items is ʼn moet: ʼn goeie stootwaentjie wat ʼn karstoeltjie insluit, ʼn kot en ʼn tafel wat vir doekeruil ingerig is. Die res is alles ekstras wat óf vervang kan word met goedkoper opsies, tweedehands aangeskaf kan word, óf by vriende en familie geleen kan word. (Natuurlik kan eersgenoemdes ook tweedehands of via die familie aangeskaf word.) Uiteindelik het ons ook gewag dat ons kinders hulle opwagting maak voordat ons goed gekoop het. Mens besef dan wat werklik nodig is of nie.

Ekstras wat nie nodig was nie maar wel ons lewens makliker gemaak het, is: ʼn leunstoel om baba in te voed en ʼn doeke-asblik.

Doeke en natlappies:

Argieffoto (Foto: Designedbypk, Pixabay)

Doeke, doeke en nogmaals doeke… Daar is natuurlik die goed waarsonder mens absoluut nie kan klaarkom nie – behalwe as jy op een of ander manier die “natuurlike” metode wil volg – en dit is weggooidoeke. Almal het dit nodig en jy kan nou maar aanvaar jy gaan deur honderde, indien nie duisende nie. Om nie eens te praat van die hoeveelheid natlappies (“wipes”) nie.

Party dae kan jy nie glo dat daar nog enigiets van so klein lyfie oor is ná jy sien wat wel in die doek is nie, en dit kan maklik aan die begin, enigiets van twee tot tien keer ʼn dag gebeur. Gelukkig skaal dit drasties af hoe ouer hulle word.

Dat dit egter ʼn groot hap uit jou begroting gaan vat, is verseker. Kyk maar vir spesiale aanbiedinge op albei. Groter pakke is ook goedkoper per doek.

ʼn Nuwe tendens die afgelope paar jaar is om terug te keer na die ou lapdoeke, wat ʼn nuwer en mooier voorkoms gekry het en dit natuurlik ook makliker maak om skoon te kry. Hoe gemaklik weggooidoeke ook al mag wees, weet mens dat dit tog ongelukkig nie omgewingsvriendelik is nie. Persoonlik gebruik ek FancyPants, maar daar is verskeie opsies op die mark. Ek het dit ook eers begin gebruik toe ek voel my kind se doek-situasie het begin stabiliseer.

Formule:

Argieffoto (Foto: kasiaczernik, Pixabay)

Kyk, ek glo nog steeds borsmelk is die beste, maar ek weet uit ondervinding dat dit werklik nie moontlik is vir alle ma’s nie. Ek het die voorreg gehad om my een kind te kon borsvoed vir ʼn jaar en die ander een, om persoonlike redes, net vir drie maande.

Daarom kan ek nou met alle eerlikheid sê, indien moontlik, hou aan borsvoed solank jy moontlik kan, sodat jy nie formulemelk (of ʼn groot hoeveelheid daarvan) hoef te gebruik nie.

My persoonlik tong-in-die-kies-opinie is die volgende: Ek is seker ʼn grootkop by die babaformulemaatskappy het saam met ʼn grootkop by die blikverpakkingsmaatskappy gesit en hulle het saam gewonder hoe hulle die wêreld se desperate ouers kan bankrot maak, want jy kry nie klein blikkies babaformule wat jy kan toets nie. Jy koop blik, na blik, na blik om jou kleinding se smaak te probeer akkommodeer. En dikwels sal hulle ná een voeding besluit hulle hou niks van daardie smaak nie, en weier om hulle monde weer daaraan te sit. (Ek wonder net hoe weet ʼn baba van ʼn paar weke oud wat is lekker en wat nie? Hulle het tog geen verwysingsraamwerk nie!)

Dan praat ek nie eens van die formules vir babas met voedingsprobleme soos refluks, allergieë of onderontwikkelde verteringstelsels nie. As die een nie werk nie, dan koop jy maar weer die volgende een, en die volgende een. Hierdie duurder, gesonder opsies is natuurlik ook net in klein blikke beskikbaar wat basies dieselfde prys kos as die groter blikke. Dan moet daar vir refluksbabas ekstra verdikking poeier gekoop word. Ook ten duurste.

Borsvoeding kos aansienlik minder, dis altyd die regte temperatuur en onmiddellik beskikbaar.

Medisyne en dokterskostes:

Argieffoto (Foto: jarmoluk, Pixabay)

Tensy jou mediese skema alles insluit, is daar nogal baie goed wat jou mediese rekening die hoogte in kan laat skiet. Babas het ʼn baie swak of geen immuunstelsel nie, wat verstaanbaar is. Hulle is dus vatbaar vir enige “werklose” kiem en virus wat besluit hulle soek ʼn huis.

Hierdie kieme, party met amper onuitspreeklike name soos Coxsackie-virus of Impetigo steek hulle kop uit – jip, hierdie virusse het al ons pad gekruis. Dan moet mens dokters betaal en elke moontlike stroop of room op die mark koop totdat een uiteindelik werk.

Vitamiene word dus elke dag gegee om te keer dat sukkelende kieme hulle aantreklik vind en dit dra natuurlik ook by tot die totale koste.

Dan is daar ook medisyne wat gereeld deur dokters voorgeskryf word vir sekere probleme, maar daar is nie regtig bewyse dat dit werklik werk nie. Ek glo die dokters doen die beste wat hulle kan, maar daardie medisyne kan ʼn massiewe impak hê op die maandelikse koste van ʼn ouer. Uit persoonlike ondervinding moet ek egter erken dat mens soms moet wag dat die tyd sekere goedjies in ʼn baba self uitsorteer. Daar is werklik niks wat jy daaraan kan doen nie. Soms moet ʼn baba net groot word, en dit ontgroei.

Maar ons wil die beste vir ons kinders hê en ons betaal dus maklik hierdie kostes sonder om te kla. Dit is egter belangrik om alle opsies van mediese skemas te oorweeg of ʼn persoonlike mediese spaarrekening te hê vir sulke onvoorsiene uitgawes, en so ver moontlik vir hulle ʼn gesonde dieet te gee wat hulle immuunstelsels op ʼn natuurlike manier sal aanhelp en bou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Riena ·

Ek stry nie met die feite wat hier heel gemaklik tong-in-die-kies aangebied word nie en mens is vandag geneig om werklik sake in Rand en sent te beredeneer. Maar die genot wat kinders bring, die plesier van kleinkinders en die samesyn van `n familie is darem onberekenbaar.
Ek stem ook saam met die stelling dat dit van jou beste beleggings is om kinders te kry en hulle naby jou groot te maak. Elke sent die moeite werd!

Hanlie ·

Ek stry glad nie…..om kinders te he en groot te maak is baie duur. Ek verruil my kinders waarvoor ek 15 jaar moes wag vir geen geld in die wye wereld nie. Hulle is elke sent wat ek op hulle spandeer werd. Sonder hulle in my lewe sou my lewe maar droog en oninteressant gewees het.

Derik ·

Om baba’s groot te maak is werklik nie so duur nie. Meeste van die meubels is onnodig, ons het ‘n tweedehandse kampkot vir R500 gekoop (maar nuwe matras teen R200, ou matrasse is blykbaar al verbind met SIDS). Die houtkot wat ons ten duurste aangeskaf het is nog nie een keer gebruik nie, twee jaar later. ‘n Tafel spesifiek vir doeke ruil is onnodig, ‘n gewone lae laaikas kan werk.

En soos die skrywer tereg noem, borsvoeding is beste! En met alle respek, want ek weet sommige ma’s het nie goeie melkproduksie nie, maar meeste ma’s val terug op formule vir hulle eie gemak. My vrou het self gesukkel met produksie, maar sy het vir twee jaar uitgehou voordat sy opgehou het.

Die regte bekommernis kom as hulle skool toe moet gaan. Met die agteruitgang in publieke skole en aanval op Afrikaans as onderrigtaal blyk dit privaatonderrig is ons voorland. En dan kom naskoolse opleiding en Universiteit ook nog.

Nettie ·

Dit is vandat swangerskappe in “siektes” omgeskakel is en kind-grootmaak ‘n wetenskap geword het, dat kostes om kind te hê die lug in geskiet het.

Wat het ons oumas voorheen gedoen? Swanger geword (sommige jaar-na-jaar-na-jaar), nog steeds al die huiswerk gedoen en (ander) kinders grootgemaak, gekraam by die huis, die nuwe baba geborsvoed en met huis-medisyne gesond gedokter waar daar ‘n kwaal was en kinders grootgemaak met Boere-sielkunde (hand op die agterent).

Vandag se mammies het “too posh too push” geraak en die verloskundiges verkies om ‘n C-seksie te doen, eerder as om te wag tot die baba sy/haar verskyning self maak. Gedurende die swangerskap is dit dán dié toets, dán dáárdie toets/ondersoek of skandering, bottels en bottels vol vitamiene en wat-nog-alles.

As die baba nou deur ‘n gerieflike C-seksie in die wêreld gebring is, in ‘n privaat hospitaal waar Mammie 5 dae deurbring ná die operasie, dan moet daar weer oor 6 weke weer by die gynae uitgekom word vir opvolgtoetse, inspuitings en wat-nog-alles. En watwou doeke uitwas soos ons voorsate – weggooidoeke is mos alteveel geriefliker, tesame met bottel-formulemelk-in-die-mond-druk vir Baba.

As Baba net hik, dan word hy/sy dadelik dokter toe geneem, wat weer allerlei stropies/pilletjies voorskryf. En so gaan ons aan en aan en verdramatiseer ons kinders kry en -grootmaak baie!

Linda van Mosselbaai ·

As boekhouer het ek ‘n lys met pryse en ‘n totaal verwag ……………..

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.