Die krag van ʼn pleegma: ‘Ons sal nooit opgee nie’

Argieffoto

Haar blik flits soekend oor die bedrywige koffiewinkel in Pretoria waar ons mekaar ontmoet. Sy waai en glimlag vriendelik wanneer ons oë oor die gedruis van stemme en klink van koppies ontmoet. ʼn Stomende cappuccino staan reeds voor haar en sy lyk kalm en selfversekerd – asof sy haar geestelik voorberei het om vandag meer oor haar onvoorsiene lewensreis met ʼn vreemdeling te deel.

Sy is nie ʼn heldin nie, val Arina* met die deur in die huis. Ook nie vreesloos nie. Om opgehemel of geprys te word, is die laaste ding wat sy wil hê. Sy het immers baie min van Herman* se verlede geweet toe sy en haar man ingestem het om die seuntjie net vir die vakansie uit die kinderhuis te neem. Maar sy is wel bereid om vandag haar storie te vertel sodat ander meer oor die uitdagings, die slaggate en die vreugdes van pleegouerskap te wete kan kom.

Arina en haar man het in 2014 by die kinderhuis betrokke geraak waar Herman, toe vyf jaar oud, en sy sesjarige boetie gebly het. Arina sê sy het dié betrokke dag die twee seuns ontmoet, maar hulle was net twee van die talle gesiggies met wie hulle gesels en gespeel het. Nooit sou sy kon weet hoe dié seuntjie uiteindelik hul lewe sou verander nie.

Sowat agt maande later het Arina ʼn boodskap van die kinderhuismoeder gekry wat gevra het of sy en haar man dalk belangstel om betrokke te raak as vakansie-ouers. “Daar is kinders vir wie dié kinderhuis-situasie permanent raak, kinders wat daar bly tot hulle 18 jaar oud is en nooit weer teruggaan na hul biologiese ouers nie. Die kinderhuispersoneel probeer om dié kinders ʼn groter ervaring te gee deur hulle vir vakansies by mense te plaas.”

Sy vertel hulle het foto’s gehad van die kinders wat hulle daardie dag by die kinderhuis besoek het, onder wie die twee boeties. En toe laat weet hulle, dis Herman wat sal kom kuier. “Toe sy vir my sê dis hý, was ek klaar lief vir hom.”

Arina sê sy en haar man het dadelik gevra of hulle vir Herman én sy boetie vir die vakansie kan inneem, maar die kinderhuis het dié versoek geweier. Weens die kinders se spesifieke omstandighede wou hulle juis die twee boeties skei en was dit dus net Herman wat ʼn ruk later saam met Arina en haar man op ʼn daguitstappie gegaan het.

“Herman was baie stil. Baie opgewonde, maar baie skaam en op sy plek. Ons kon sien hy probeer om ʼn goeie indruk te maak. Hy het die aandag opgevreet. Hulle almal vreet die aandag op. Dit is eintlik so hartseer.”

Later is Herman toegelaat om langer by die egpaar te kuier. Daar wás aan die begin trane, sê Arina, maar Herman het gou gemaklik geraak en al meer uit sy dop gekruip. Einde 2014 het Herman die hele Desembervakansie by hulle deurgebring. “Ons het reeds belanggestel om as pleegouers vir Herman te dien, maar het nie geweet hoe ons te werk moet gaan om dit te doen of presies wat dit alles sal behels nie.”

Januarie 2015 is Herman terug kinderhuis toe en Arina en haar man het begin met die proses om sy pleegouers te word. Dit was nié ʼn vinnige of maklike proses nie – vraelyste, aansoekvorms, getuigskrifte, finansiële state, tuisinspeksies, onderhoude, pleegoueropleiding, ontmoeting met Herman se biologiese ouers … en uiteindelik weke later ʼn grootoog Herman wat met sy tassie by die voordeur instap.

Herman en sy broer is by hul ouers weggeneem omdat hulle verwaarloos is en hul ouers nie in staat was om vir hulle te sorg nie. “Ek het verwag om kwaad vir sy ouers te wees. Ek het my voorberei vir ʼn gevoel van woede wanneer ek hulle ontmoet. Maar toe ek hulle ontmoet, het ek hulle eintlik net jammer gekry, veral sy ma. Hier sit ek met hierdie seuntjie vir wie ek klaar lief geword het en ek wil net die beste vir hom gee. En hier sit sy ouers, sy ma het lewe geskenk aan hom en hulle kan nie by hom wees nie.”

Wéér het Arina en haar man aangebied dat Herman se boetie saamkom; weer is die versoek geweier. “Herman se ouers was nie gelukkig oor ons nie. Veral sy pa was baie besitlik oor sy kinders; daar is baie lelike goed op sosiale media gesê. Hulle het gesê ons vat hul kind weg.”

Herman is toegelaat om een keer ʼn maand by die maatskaplike kantoor met sy ouers te kuier. Volgens Arina moes dié besoeke eintlik onder toesig geskied het, maar daar was nie deurentyd ʼn maatskaplike werker teenwoordig nie.

Ongeveer drie maande nadat Herman in hul pleegsorg geplaas is, het Herman se boetie vir die naweek kom kuier. En dit is toe dat die seuntjies se donkerste geheime aan die lig kom.

“Ons was in die kar toe Herman se broer ʼn onvanpaste opmerking van ʼn seksuele aard maak. En Herman lag. Ek het vir hulle gesê ons praat nie so in hierdie huis nie. Ek het nie geweet hoekom hulle dit sê nie. Ek het net gedink dit is iets wat die boetie by die skool geleer het,” sê Arina.

Daardie aand was Herman en sy broer saam in die bad terwyl Arina se man die kinders gebad het, toe Herman onverwags ʼn seksuele gebaar teenoor sy broer maak. ʼn Rooi vlag het vir die egpaar opgegaan. Dit was egter eers die Sondag dat hulle dit sou hoor.

Herman se broer het aan Arina vertel wat by sy ouerhuis sou gebeur as hulle stout is. Hy het gewys hoe hulle geslaan en gewurg sou word, in die bad gesit word met die kraan oor hulle oopgedraai en in ʼn kas toegesluit word.

En dit is toe dat Herman vertel van die beweerde molestering deur hul pa.

Alles het nie gelyk uitgekom nie, sê Arina. Oor die volgende ses maande het Herman al meer vertel waardeur hy en sy boetie is. Bewerings van verkragting en seksuele misbruik, die betrokkenheid van vreemde mans, ander ooms wat geld betaal en ʼn videokamera**. Bewerings wat Arina en haar man tot in hul diepste wese geruk het.

Sedertdien was hul lewe ʼn warrelwind van polisieverklarings, sielkundige evaluerings, hofverskynings en getuienisse. Drie jaar later sleep die hofsaak steeds voort. Drie jaar later kon Herman steeds nie behoorlike intensiewe traumaterapie ondergaan om dié trauma te begin verwerk nie aangesien die hofsaak nog nie afgehandel is nie en ontlontingsterapie sy herinnering en getuienis van die dade kan beïnvloed.

“Toe ek ongeveer twee jaar terug onverwags swanger raak, het ek en my man vir die eerste keer bekommerd geraak oor hoe Herman se agtergrond ons biologiese kind kan bedreig,” erken Arina. “Herman en sy boetie is gedwing om seksuele dade op mekaar uit te voer; watter verbintenis sou Herman dalk met sy nuwe boetie maak?”

Dié vrese het Arina en haar man net so vir God oorgegee. “Net soos wat ons oor Herman se pad gebring is, net so het God besluit dat hy dan ʼn boetie moet hê. Sodat Herman kan sien hoe dit eintlik moet wees, sodat hy kan sien hoe ʼn huisgesin eintlik moet lyk. Dít het vir ons vrede gebring.”

En ja, erken Arina, Herman bied baie groter uitdagings as haar biologiese seun. Om die twee groot te maak is nié dieselfde nie, maak nie saak hoe graag sy wil hê dit moet wees nie.

“Herman druk ons in dié stadium tot ons uiterste. Hy het gevorder van ʼn baie skaam, teruggetrokke seun tot ʼn voor-op-die-wa, sê-wat-hy-dink soort kind. Ek dink omdat sy pa sy wil weggevat het, wil hy nooit weer hê dit moet gebeur nie. Hy wil hê wat hy wil hê, maak nie saak of dit reg of verkeerd is nie. Hy wil nie gedwing word om enigiets te doen nie,” sê sy.

ʼn Pak slae is nie ʼn opsie vir Herman wat ʼn geskiedenis van aanranding het nie. Om van sy speelgoed weg te vat, het ook nie juis ʼn uitwerking nie – Herman is gewoond aan ʼn kinderhuislewe waar niks in elk geval syne is nie en waar alles gedeel moet word. Weens sy agtergrond van verwaarlosing, kan hy nie aangesê word om alleen in ʼn hoekie te sit as sy straf nie – die emosionele trefslag daarvan is vir hom net veel.

“Dissiplinetegnieke is bitter moeilik,” sê Arina. “Ons probeer nou fokus op beloning vir positiewe gedrag, eerder as straf vir ongedissiplineerde gedrag.”

Maar handdoek ingooi is nie vir hulle ʼn opsie nie. “Vandat ons sy pleegouers geword het, vra mense vir ons, wanneer gaan ons hom terugvat? Wanneer gaan ons opgee, wanneer gaan dit te veel raak? Ons gáán nie opgee nie,” sê sy en haar oë skiet vol trane.

“Wat gaan van hom word as ons opgee? Ons is presies op die regte tyd oor sy pad gebring. As ons biologiese kinders gehad het toe ons Herman gekry het, sou ons dalk opgegee het; sou ons dalk gedink het ons sien nie kans hiervoor nie. Maar ons het amper nie van beter geweet nie en was van dag een af hart en siel in hierdie ding.”

Ondanks hierdie uitdagings het die egpaar reeds met die proses begin om Herman (nou 9 jaar oud) aan te neem en hom wetlik en amptelik ʼn lid van hul gesin te maak. Die aanneemproses is tans nog aan die gang, maar hulle hou aan vorentoe kyk en beplan vir die toekoms.

Om Herman te verloor, sal dieselfde wees as om haar biologiese seun te verloor, sê Arina. Sy kan geen onderskeid tref nie – Herman ís haar kind.

Sy voeg by dat Herman se verlede en die omstandighede buitengewoon moeilik is. “Ander sake is oor die algemeen makliker met pleegouers wat ʼn goeie ouerskapbalans met die biologiese ouers handhaaf. Ek wil nie hê ons storie moet ander mense afskrik nie.”

Sy haal diep asem voor sy voortgaan. “Een ding weet ek vir seker, so moeilik as wat dit sal wees om Herman te verloor, sou ek eerder wou gehad het daardie verskriklike dinge moes nié met hom gebeur het nie. As dit wat met hom gebeur het, nooit gebeur het nie en sy ouers se omstandighede verbeter só dat hy moet teruggaan na hulle toe, sal ek nog steeds eerder dít verkies as dat Herman by ons bly met die trauma waardeur hy is. Ek sal altyd eerder kies wat vir hom die beste sal wees.”

Sy bly ʼn oomblik stil en kyk soekend na buite asof sy die regte woorde daar êrens in die parkeerterrein sal vind. “Al wat ek kan dink, is dat daar ʼn rede moet wees hiervoor. Dit is hoe dit bedoel was om te wees. Hierdie kind met alles wat hy deurgegaan het en die ondersteuning wat ons vir hom kon gee en steeds bereid is om te gee … ons is gekies vir mekaar.”


*Skuilname word gebruik om die identiteit van die pleegouers en die kinders te beskerm.
**Herman se pa staan tans tereg op verskeie aanklagte, waaronder verkragting, seksuele aanranding, seksuele uitbuiting van ʼn kind, aanranding en kinderverwaarlosing. Die saak sal in Desember weer hervat word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

32 Kommentare

jongste oudste gewildste
Potties

Arina ek weet presies hoe dit voel ek en my vrou is ook pleeg ouers van n boetie en sussie vir amper 3 jaar die boetie het ook lelike dinge al gesien in sy lewe hy is amper 7 kan net vir jou jou se sterkte.

Anoniem

Ek was ook n pleegouer vir 7 jaar en die maatsjaplike werker het nie haar werk reg gedoen nie toe verval die hofbevelle rn fie ma vind uit en kom gryp.die kinders met m groot baklei en vloek en skel . Haglike omstandighede

Elize

Sterkte aan julle. Ek het ongelukkig nie die persoonlikheid om sulke gedrag in my lewe toe te laat nie

VanAfrika

Ek stem ook nie saam dat die boeties geskei moet word nie, die een kry n huis en die ander bly agter in die tehuis. Neem hulle altwee aan en leer hulle daar is sekere maniere waarop boeties en mense aan mekaar mag vat en sekere maniere nie. Maar moet hulle nie skei nie. As dit vir julle moeilik is om altwee aan te neem moet hulle dan glad nie aan neem nie of moenie een van hulle aan neem nie.

wielie

Julle is engele. Mag God julle lei en krag gee.