Dié kursus nou ook by Sol-Tech beskikbaar

(Foto verskaf deur Sol-Tech)

Sol-Tech voeg vanaf 2021 ʼn kraakvars gehaltekwalifikasie by sy leeraanbod.

Vanaf 2021 gaan die outo-elektrisiën-ambagkwalifikasie op die nuwe wêreldklaskampus in Monumentpark, Pretoria aangebied word, met die eerste studente wat reeds in Februarie met opleiding kan begin.

Die byvoeging van dié ambagkwalifikasie stel Sol-Tech in staat om nog meer moontlikhede te bied aan leerders wat in ʼn ambagsrigting belangstel, en om in die enorme tekort aan skaars vaardighede in Suid-Afrika te voorsien.

“2021 is ʼn formidabele jaar vir Sol-Tech: dit is die eerste jaar waarin ons DV begin om outo-elektrisiëns op te lei, en ons gaan dit boonop op ons splinternuwe kampus doen!” sê Philip Minnaar, hoof van Sol-Tech. “Sol-Tech het ten doel om jongmense se toekomsdrome deur doelspesifieke opleiding te verwesenlik, en die toevoeging van hierdie kwalifikasie bring ons ʼn tree nader aan die bereiking van hierdie doelwit.”

Die outo-elektrisiënkwalifikasie is spesifiek ontwikkel met leerders in gedagte wat in die instandhouding en herstel van elektriese stelsels en toestelle in voertuie, vragmotors en busse belangstel. Die kwalifikasie rus leerders met kennis en vaardighede toe om foute effektief te diagnoseer en die installering, inspeksie, herstel en instandhouding van elektriese komponente in voertuie te kan uitvoer. Alle ander elektriese toerusting en bykomstighede in voertuie, soos onder andere die ligte, teendiefstaleenhede en alarms, lugversorging, sentrale sluitstelsels, CAN-BUS, digitale paneelbord ensovoorts, is hierby ingesluit.

Studente wat hierdie kwalifikasie deurloop, gaan dit op die suksesvolle en unieke driefase-model van Sol-Tech doen waar die teorie, praktyk en indiensopleiding belangrike boustene van die studente se skoling vorm en hulle uitstekend vir die werkplek toerus.

“Ons studente vaar uitstekend in die praktyk; daarvan getuig ons statistiek, met 94,7% van ons studente wat suksesvol werk kry nadat hul kwalifikasie voltooi is. Ons glo dit sal dieselfde met hierdie kwalifikasie wees.”

Die outo-elektrisiënkwalifikasie is ʼn toevoeging tot die sewe vakrigtings wat Sol-Tech reeds die afgelope dertien jaar met groot sukses aanbied, naamlik Meulmaker, Elektries, Dieselwerktuigkunde, Pas en Draai, Gereedskapmaker, Trekkerwerktuigkunde en Sweis.

Besoek gerus Sol-Tech se webblad vir meer inligting by www.sol-tech.co.za of stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.