Dié laerskool keer tradisionele stelsel op sy kop

Foto: pixabay.com

Foto: pixabay.com

Sun Valley Laerskool in Kaapstad het omtrent mense aan die gons gehad met sy besluit om huiswerk af te skaf. Boonop het dié skool ook ʼn heel ander rigting ingeslaan met hoe leerlinge opgevoed word. Volgens die hoof, Gavin Keller, sien hulle reeds ongelooflike resultate.

Gavin sê dié besluit is nie sommer oornag gemaak nie en volg op jare se navorsing. “Ons is reeds van 2000 af tot nou toe besig om die hele stelsel te herontwerp, maar die besluit om huiswerk af te skaf is eers einde verlede jaar gemaak.”

Gavin meen hulle is besig met ʼn revolusie wat die huidige skoolstelsel heeltemal op sy kop keer. “Die tradisionele skoolstelsel het baie goed gewerk toe jy mense wou voorberei om in fabrieke te gaan werk, maar vandag is ons besig om mense voor te berei om entrepreneurs en denkers, innoverend en kreatief te wees.”

Nero-leermetode het minder druk

Sun Valley is ʼn Nero-leerskool wat alle leermetodes skoei op navorsing oor hoe die brein leer. “Die brein leer nie as hy spanning ervaar nie. Sodra ʼn persoon spanning ervaar, gebruik hy nie die kognitiewe deel van sy brein nie, maar sy ‘oorlewingsinstink’.” Gavin sê die huidige skoolstelsel is baie akademies-gedryf, wat hoë vlakke van spanning veroorsaak en wat kinders verhoed om reg te leer. “Skole produseer mense wat nie take kan voltooi nie, wat sukkel om by ʼn sperdatum te hou en wat nie betyds by die werk is nie.”

Hy meen ook dat huiswerk een van die faktore is wat die meeste spanning veroorsaak – nie net by kinders nie, maar ook by ouers en onderwysers.

Ná ʼn voldag van leer het die kind nog ʼn groot hoeveelheid werk wat hy by die huis moet voltooi. Die ouers, wat ook hul pond vleis by die werk moes betaal, kom doodmoeg tuis en moet dan die kinders ook help met huiswerk.

“Dit plaas ook druk op onderwysers, wat weer hierdie werk moet nasien.” Gavin sê dis alles onnodige spanning en dat daar genoeg tyd bedags is om kinders effektief te laat leer. “As ons kinders by die skool nie kan leer wat hulle moet leer nie, doen ons iets verkeerd.”

Dié besluit is nie ligtelik gemaak nie, en intensiewe toetse het gewys dat kinders beter akademies presteer as daar minder druk is. “Die eerste ses maande van die jaar het ons elke Woensdag toets geskryf, en aan die einde van die termyn het ons ʼn assesserings-week gehad – daar was ongelooflike druk gewees. Die volgende ses maande van die jaar was daar geen weeklikse toetse nie, slegs assessering aan die einde van die termyn en ook geen huiswerk nie. Die resultate is ongelooflik – daar was ʼn groot verbetering in die tweede semester, akademies gewys.”

Konsentrasievermoë

Volgens Gavin kan die mens se brein vir ongeveer sewe minute konsentreer – dit is wanneer daar intensiewe inligting deurgegee word sonder humor, geen beweging of ritme nie. “Navorsing wys dat ʼn sewejarige elke sewe minute moet beweeg, ʼn tienjarige, elke tien minute en ʼn 13-jarige, elke 13 minute. ʼn Volwassene moet na 20 minute beweeg. Dit is normaal vir ʼn gr. 3-leerling om na tien minute in die klas kriewelrig te raak omdat sy lyf vir hom sê hy moet begin beweeg. ʼn Onderwyser sal met so ʼn kind raas en die ouers inroep omdat die kind nie kan konsentreer nie, en die ouers sit dan die kind op medikasie.” Sun Valley Laerskool se metode maak seker dat kinders op verskeie maniere aktief is sodat inligting vasgelê kan word.

Gavin meen daar is ʼn persepsie wat heers dat as ʼn mens nie vir ʼn kind huiswerk gee nie, hy nie verantwoordelikheid gaan leer nie. “Daar is geen navorsing wat dit bewys nie,” sê hy.

Hoewel die kinders nie meer huiswerk kry nie, moet hulle daagliks 20 minute lees. “Ons kry terugvoer van ouers wat sê hulle kinders het nooit ʼn boek in hulle lewe gelees nie, maar dieselfde kinders kan nou nie genoeg kry van lees nie. As ons hierdie nasie wil verander, moet ons ons kinders aan die lees begin kry.”

Gavin meen hy het al kritiek vir sy metodes ontvang, maar hy sê hy praat graag oor dié saak en is nie bang vir ʼn debat nie.

Luister gerus na die podsending om te hoor hoe onderrig in dié skool se klaskamers plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Theresa

UITEINDELIK!! Dankie tog dat iemand die waarheid gesien het in die stelsel en ‘n uitkoms vind wat kan werk EN mense werklik nog met onderrig die skool sal laat verrig.
Die assesserings sal ook sekerlik die lui mens uitwys, terwyl die skaam enetjie en angs gevulde enetjie nou ook dalk pragtig gaan presteer. Bravo! Wil vra dat jul sommer so gou moontlik ook ‘n plan uitdink hoe om boelies vanaf die eerste geval vasvat. Dit is nog ‘n issue wat mense laat swak presteer – dus belangrik om uit te roei.

Daleen

Dit moes jare gelede al gebeur het. Ek staan saam die man. Dit het nog nooit vir my sin gemaak nie, skryf altyd toets en niks anders nie. Een toets week n kwartaal is goed genoeg. Hou op om die kinders in n blik te druk. Praat van bullies! Ek hoop regtig al die ander skole doen dit. Give that man a Bell’s!

Henrietta Klaasing

Ek het “Nero” op verskillende maniere op die Internet gesoek, maar is telkens net na hierdie skool verwys. Ook op die skool asook die “familie van skole” kon ek niks verder daaroor kry nie. Op die blog is net een verhaal van ‘n seuntjie wat skielik lief geword het vir lees. Dit is baie vroeg om nou al dit as ‘n dawerende sukses te verklaar. Ek sien ook die skool glo in klein klassies – natuurlik sal dit baie makliker wees om iets wat in groter klasse tuis gedoen moet word, deur onderwysers self by die skool te doen.

Izzy

Gemengde reaksie wat ek artikel lees.Soveel aspekte speel ‘n rol met huiswerk … * die doel waarvoor dit gegee word – as dit gegee word om nuwe feite ( wat deur die dag vir die kinders geleer is) ‘vas te le’ – goed, * as die huiswerk is om kennis te verbreed – Take (indien KINDERS dit doen en nie die ouers nie) is baie goed, want daardeur moet kinders navorsings werk (lees, opsom, slotsom kom)doen. * Indien huiswerk gedifferensieerd is, werk elke kind op haar/sy vlak/vermoeens . * Dis ‘n goeie gewoonte as jou kind daagliks huiswerk doen (ek… Lees meer »

Leendert van Oostrum

Suid-Afrika het een van die swakste onderwystelsels ter wêreld. Dit sê selfs die onderwysamptenare se verslae aan die minister. Een van die redes hiervoor is dat die oorregulering van onderwys die professionele onderwyser verander het in ‘n tegnikus wat weinig meer doen as om voorgeskrewe prosedures uit te voer. Ons onderwysstelsel is gemik op onderrig – dit wat die onderwyser doen. Dit het weinig te make met leer – dit wat die leerling doen. En, ja, die Finse skoolstelsel gee ook geen huiswerk nie. Daar is ook geen verpligte toetse of eksamens nie. En jaar na jaar word Finland deur… Lees meer »