Die lekker van die wildtuin in die huis

Argieffoto (Foto: tyca, Pixabay)

“Weg is ons, weg is ons, op ʼn heerlike sonnige dag, weg uit stad, altyd op pad, op pad na die Krugerwildtuin.” Die gesin sing, maar ek is gedaan, want om te beplan vir ʼn lekker wildtuinvakansie is nie kinderspeletjies nie.

Die wildtuin is deesdae anders, jy kan selfs in ʼn Wimpy of Mugg & Bean eet. Ek wil uit die stad, maar die stad se kos het wildtuin toe gekom. Dit pas maar net nie in die wildtuin nie. Dit is nou behalwe vir die invloed van ʼn paar dae se Wimpy-kos op die sak en die rolletjie om die maag.

Daarom beplan ek eerder vir heerlike gesellige buitelugetes, al is die geriewe min en ʼn uitdaging. Met die hulp van die gesin kan wildtuinetes van die oggend tot die aand in ʼn onvergeetlike kuier ontaard. ʼn Groot deel van ons wildtuinsukses is die beplanning, die lekker eet en die lekker kuier.

As die stad se kos wildtuin toe kan gaan (soos die Mugg & Bean), kan die wildtuin se kos sekerlik stad toe gaan. Ons etes by die huis moet ook beplanning, ʼn gesinservaring, lekker kuier en lekker eet wees.

Hier is 10 wildtuinwenke wat jy elke dag by die huis kan toepas.

1. Beplan vooruit

Goeie beplanning vir die wildtuin en huis is nodig. ʼn Spyskaart, wat al die nodige bestanddele en speserye vir elke ete insluit, is noodsaaklik. Die vergete sout en die ruskamp se winkel wat toe is, kan jou vleisie bederf. Behoorlike beplanning van hoe laat en waar geëet word, is belangrik. Goeie gesinskommunikasie is ʼn sleutel tot sukses. As pa mik om 13:00 by Tshokwane te wees en ma beplan vir ontbyt, gaan sussie se maag grom en boetie sommer self grom.

Beplan dan alternatiewe wat by jul roetine gaan aanpas, byvoorbeeld ʼn broodjie en vrug op die pad.

2. Betrek die hele gesin by die beplanning van die spyskaart

Pa, ma en kinders moet help om die spyskaart te beplan. Almal in die gesin dra die verantwoordelikheid om etes te beplan en voor te berei. Die gesin moet eienaarskap neem vir etes sodat die eetervaring soveel lekkerder is. In die wildtuin is dit pret en by die huis moet dit ook só wees. Dit is nie alleen Ma se verantwoordelikheid nie. Maak die kok in jou kind van vroeg af wakker en so word Ma se take in die kombuis vergemaklik. Die kinders leer op hierdie wyse nie alleen van verskillende voedselsoorte, gaarmaakmetodes en dat voedsel ons magies vul nie, maar leer ook van die dankbaarheid, liefde, verantwoordelikheid en omgee wat aan voedsel gekoppel is. Voorwaar ʼn gawe van die Here.

3. Koop net wat nodig is

Koop wat nodig is. Let wel net wat nodig is. Die spyskaart is jou riglyn. Behalwe die feit dat Pa nie van onnodige bagasie hou nie, moet jy onnodige ekstras, soos vleis weer ongedeerd terug huis toe neem. Dis swaar op die sak en veroorsaak ongedissiplineerde eet. Maak verder ook seker dat jy genoeg groente en vrugte koop en dat julle dit lekker vars eet. Verlepte blaarslaai is vir niemand lekker nie, nie eens die skilpad nie. As mens lekker kos vir die gesin voorsit, word die soettand sommer vinnig geblus.

4. Beplan vir lekkernye en tussenin happies

Daar is niks fout met iets lekkers tussenin nie, maar dit moet nie net gebeur nie. Dit moet beplan word. Ons almal soek soms ʼn afwisseling van die gewone. ʼn Verrassing op die pad, soos biltong of ʼn stukkie droëwors, kikker enige grondpad sonder wild op. Pasop vir te veel soet, want dan sit jy later met die wildtuin in die kar.

5. Eet as gesin saam en maak dit ʼn kuierfees

Die ete moet nie net roetine (veral nie op die bank voor die TV nie) wees nie, maar ʼn kuier-ervaring. Dit is die plek waar die gesin kan bind en bid. Wat kan nou lekkerder wees as ʼn gesin wat saam onder die sterreprag eet? Elkeen het iets van die dag se opwinding en teleurstellings te vertelle. So hoor Ma en Pa dan ook dat Sus dit nie gaaf vind as die ander kinders haar oor haar vrese vir die olifante spot nie.

6. Eet voordat jy die kampwinkel bestorm

Om etes te beplan is een ding, maar om sorg te dra dat dit wel geëet word, is ʼn ander ding. Moenie etes oorslaan nie, jy word dan net só honger dat enige logiese denke jou verlaat en die impulsiwiteit jou tref, wat tot gevolg het dat jy ʼn kampwinkel bestorm en alles eet wat voorkom. Dit doen nie jou gemoed of sak goed nie.

7. Vars groentes en vrugte ʼn moet

My kinders hou van lekker eet. Die arme goedjies is volgens sommiges al so geïndoktrineer dat vrugte en groente lekker is. Ek stem mens moet nie gesond eet te vêr vat nie. Maar ʼn goeie gewoonte was nog nooit ʼn slegte ding nie. En wie kan nou stry dat ʼn vars lemoen in ʼn warm kar nie die lekkerste ding is nie? Geen ander smulhappie kan daarby kers vashou nie.

8. Water

Genoeg water deur die hele dag is ʼn noodsaaklike deel van ons eetplan. In die wildtuin raak die pad lank en die kar warm. Water by ʼn watergat is ʼn heerlike strelende lafenis vir elke dier, so word jou mond ook droog en jy soek net water om jou dors te les. Geen koeldrank kan daardie droë mond so verlig soos heerlike koue water nie. Maar Ma sorg asseblief tog dat elkeen sy eie waterbottel het.

9. Vitamiene D

Van gratis vitamiene D is daar ʼn oorvloed in die wildtuin. Ons kinders kry dikwels heeltemal te min van hierdie vitamiene D (sonlig) in. Ons kinders weet nie meer wat buite speel is nie. Hulle is net heeldag met al die “i”-goed soos, iPhone, iPod en iPad besig. Moedig stap, speel, swem en kuier in die buitelug aan. Maak ʼn reël dat tegnologiese toestelle slegs op spesifieke tye gebruik mag word, anders mis hulle dalk die leeu wat oor die pad stap. Sit al die tegnologiese toestelle bietjie eenkant en detoks daarvan. Ek verseker jou, hulle sál dit oorleef en die gevolg daarvan sal wees dat hul stresvlakke verlaag, wat ʼn meer positiewe mens tot gevolg het. Hierdie aspek sluit ook aan by die laaste punt.

10. Verlaging van stres

In die wildtuin raak alles net rustig. Jy leer om weer mens te word en die stres af te skud. Almal het ʼn tydjie in die wildtuin nodig, sodat jy jou batterye kan herlaai en jy na die vakansie weer jou volle mens in die wêreld kan wees. So moet jy doelbewus jou rustige ‘wildtuintydjies’ by die huis beplan. ʼn Ontspanne gesin eet en kuier net soveel lekkerder saam.

Pas gerus die wildtuin in die huis toe en maak eet ʼn lekker ervaring vir die hele gesin!

Dr. Elsha Hermann het onlangs Elsha Kinderterapie (EK), die eerste praktyk in Suid-Afrika wat op oorgewig kinders fokus, oopgemaak. Vir meer inligting of om ʼn afspraak te maak, besoek www.ekterapie.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

moira ·

dankie!!!! maak my sommer lus om nuut te dink oor hoe om deurmekaar druk in elke dag se lewe beter te bestuur b d huis!!

Didi ·

Ai wens kan weer bietjie Kruger Lug inasem.. was jare laas daar voor Wimpy en M&B… dit is hartseer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.