Dié oorbruggingskursus bied avontuur en balans

Deur Andrea Erasmus

Foto: www.iala.co.za

Foto: www.iala.co.za

Voornemende studente weet nie altyd met die intrapslag wat om te gaan studeer nie. Daarom is ʼn oorbruggingsjaar ʼn goeie keuse om ʼn mens ʼn bietjie meer tyd te gee vir daardie belangrike besluite.

Maroela Media het met Jan Heenop van die Internasionale Akademie vir Leierskap deur Avontuur (IALA) gesels om vas te stel hoe die oorbruggingskursus wat hulle bied studente kan help om hierdie besluit te neem.

Volgens Heenop word studente gedurende hierdie 40 week lange avontuur gehelp om op ʼn gebalanseerde manier rigting in hul lewe te kry. Sodoende word hulle voorberei vir hul loopbaankeuse en verdere studie.

Foto: www.iala.co.za

Foto: www.iala.co.za

Die vereistes vir hierdie oorbruggingskursus sluit in dat die student tussen 18 en 22 jaar oud moet wees en óf reeds klaar is met matriek óf op ʼn manier besig is om matriek te voltooi deur byvoorbeeld spesiale vakke. Die student moet ook daar wíl wees en lief wees vir die buitelug.

IALA se basis is in Stilbaai en studente sal ongeveer 18 tot 20 weke op die kampus deurbring. Die res van die tyd sal gebruik word om te toer, sodat studente nie te min blootstelling kry omdat hulle slegs op een plek bly nie.

Foto: www.iala.co.za

Foto: www.iala.co.za

Heenop meen die oorbruggingskursus bied balans aan die studente. Een van die grootste terreine waarop gefokus word, is individuele leierskap. Die personeel wat met die studente werk, gee persoonlike aandag aan elkeen. Geen student word gedwing om enige aktiwiteit te doen waarmee hy/sy nie gemaklik voel nie. Hoewel daar ʼn vasgestelde leerplan van tussen tien en 12 avonture is, is alternatiewe beskikbaar indien iemand ongemaklik voel met ʼn spesifieke oefening. Wanneer daar gejag word, kan die student byvoorbeeld besluit om eerder veldkennis op te doen. Ander aktiwiteite sluit in skubaduik en bergfietsritte.

Studente word ook deurlopend geëvalueer op twee wyses. Die eerste is ʼn vyfpuntskaal waar instrukteurs hul mening oor die studente gee en hulle evalueer in terme van vaardigheid. Die tweede is ʼn teoretiese en praktiese evaluering waarin studente hul kennis moet weergee wat hulle gedurende die oorbruggingskursus opgedoen het (byvoorbeeld skootplasing en die verskillende spore van bokke). Praktiese evaluering vind plaas wanneer studente na ʼn teiken moet skiet of ʼn sekere afstand op ʼn fiets binne ʼn bepaalde tyd moet kan aflê.

Foto: www.iala.co.za

Foto: www.iala.co.za

IALA is al nege jaar in die bedryf en was een van die eerste aanbieders van oorbruggingsprogramme in Suid-Afrika. Hulle het al ongeveer 250 studente voorberei vir hul studie en loopbaankeuse.

Die koste van hierdie avontuur kan vergelyk word met ʼn jaar se studiegeld. Registrasie geskied op die webwerf en die program word grotendeels in Afrikaans aangebied.

Meer besonderhede is te kry by die webwerf of andersins by Jan, [email protected] of 082 455 2875.

Wees ook op die uitkyk vir hul app wat eersdaags beskikbaar sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jan Slabbert ·

My seun is vanjaar, 2016, deel van iALA se oorbruggingsjaar. Ek het in 2015, as ouer, my huiswerk gedoen en met 2 Pa’s gepraat, wat tussen hulle 3 seuns het, wat iALA se jaar voltooi het. Beide van hulle was BAIE tevrede met die groei wat daar by hulle seuns was, tydens hulle iALA-jaar.

My en my vrou se verwagtinge vir ons eie seun, is reeds ver oortref. Elke keer as hy my bel en van hulle avonture vertel is ek “groen” van jaloesie. Ons seun het reeds van sy vrese oorkom en so het sy selfvertroue in dit waartoe hy fisies in staat is reeds gegroei. Die gereelde oefening, wat deel is van die program, geniet hy BAIE.

Emosioneel word hy ook uitgedaag. Die jongmense wat saam op die program is, deel NIE noodwendig dieselfde waardes NIE. In ‘n vryer omgewing as toe hy in matriek was, maar wat darem bepaalde grense het (bv. die gebruik van dwelms is verbode, maar alkoholverbruik nie), moet hy self kies met wie hy gaan assosieer. Ons is dankbaar dat sy eerste treë na VOLLE onafhanklikheid, in so ‘n semi-gekontroleerde omgewing is.

Hierdie Avontuurprogram is amper soos ‘n Dienspligjaar, net meer beskaafd?!!

Ons is nog NIE een oomblik spyt dat ons ons seun, op die iALA-oorbruggingsjaar gestuur het NIE. Inteendeel, dit is besig om een van die beste beleggings te word wat ons in sy ontwikkeling as jong man bestee het!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.