Die pad na herstel: Babas wat voor geboorte reeds worstel

(Argieffoto: Unsplash)

Die woorde “Ek is lief vir jou, Mamma” is vir elke ma die mooiste woorde ooit, veral wanneer haar kind dit die eerste keer sê.

Vir ʼn pleegma van ʼn kind wat met Neonatale Onthoudingsindroom (NOS) gebore is, en meer as ʼn jaar gewag het om dit te hoor, is dit soveel meer waardevol.

Steph Jansen* verduidelik: “Ons is ervare pleegouers, wat alreeds nege kinders grootgemaak het. Ten spyte van ons opleiding vooraf, naslaan en video’s hieroor kyk – wat ons laat glo het ons is opgewasse vir so ʼn taak – weet ons nou dat niks ons hiervoor sou kon voorberei het nie.

“Ons moes hulpeloos staan en toekyk hoe die baba ruk, stuiptrekkings kry en vir ure sonder ophou skreeu… en haar probeer vertroos. Ons moes die heeltyd die horlosie dophou, om seker te wees wanneer ons weer vir haar die volgende dosis methadone kon gee om die onttrekkingsimptome te onderdruk.”

Die baba se ma was tydens haar swangerskap aan heroïen verslaaf.

Net meer as ʼn jaar later het haar sussie, wat ook met NOS gebore is, ook by die pleegouers kom woon. Aangesien hulle in verskillende staatshospitale gebore is, was die medikasie wat die tweede baba moes kry, nie dieselfde nie. Sy is met morfien behandel wat, volgens Jansen, blyk om beter resultate te lewer.

Om twee sulke babas in die huis te hê was uiters moeilik – behalwe vir die onttrekkingsimptome wat beteken dat hulle omtrent glad nie slaap nie, het hulle onophoudelik gehuil en die woedebuie (tantrums) van hierdie klein lyfies was onstuitbaar.

Om hulpeloos te voel is deel van hierdie proses, verduidelik sy, en uiteindelik het hul heeltemal hoop verloor. Baba B het tekens van outisme begin toon, maar ten spyte van vele konsultasies en skanderings kon dit nie bevestig word nie. ʼn Besoek aan ʼn oor-neus-en-keelspesialis wat dreineringsbuisies in haar ore gesit het, het sowel haar gedrag as spraakontwikkeling dramaties laat verbeter.

“Ons het Trauma Competent Caregiver-opleiding bygewoon wat ons gehelp het om die ‘angstige brein’ en die impak van die trauma wat hierdie kinders voor hul geboorte beleef, te verstaan. Dit het ons gehelp om die sussies geleidelik uit hul negatiewe programmering te haal. Vandag sien ons twee pragtige dogtertjies wat straal van liefde en geluk, pret en plesier.

“As ouers maak ons steeds foute, ons ken beslis nie al die antwoorde nie, maar ons het gesien hoe liefdevolle vasberadenheid lewe in ʼn kindjie se hopelose omstandighede kan bring – en ons besef dat ons swakhede God se genade en glorie in en deur ons lewens toon,” sê Jansen.

Dina Bosch, die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) se toesighouer in die Silverpark-gebied, sê hul sien NOS-babas en ook FAS (Fetale Alkoholsindroom)-babas – maar dit lyk nie of daar tans ʼn toename in babas met dié soort sindrome is nie.

“Ons is werklik dankbaar dat ons pleegouers het wat bereid is om hierdie babas groot te maak. Dit verg ʼn spesiale ouer om ʼn spesiale baba in te neem, maar ons poog om hulle deurgaans te ondersteun en deurlopende opleiding te verskaf. Sukses verg volgehoue pogings en liefde.”

CMR Gauteng-Oos ondersteun tans 844 kinders in pleegsorg in die Pretoria-gebied.

*Skuilname is gebruik om die ouers en kinders se identiteit te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae