Die storie met rapporte

Argieffoto

Deur Johan Koekemoer

My wekker lawaai en ek staan met ’n swaar gemoed op. Vandag kry ons rapporte. Elkeen in die huis is tjoepstil. Die verwagting hang soos ’n miswolk oor die huisgesin. Ek sit en staar vir my Weet-Bix, selfs vier eetlepels suiker kry nie die bitter smaak uit my mond nie. Die knop in my keel verhoed my om enige iets te sê. Pa roep: “Kom seuns, laat ons ry”.

Op pad skool toe besoek ek ou verskonings en herstruktureer dit sodat dit nuut klink. Daar is net sóveel verskonings en ons is drie seuns, so daar moet genoeg oorbly vir almal. Jongste sit en kou die laaste nael wat hy oor het. ʼn Mens sal nie kan raai dat ons volgende week Uvongo toe gaan nie. Die angs en die spanning loop hoog al probeer ma vir ons in die kryt tree.

Ons stap die saal binne. Elke graad is duidelik gemerk met gelamineerde bordjies waaraan iemand hopeloos te veel tyd bestee het. Ons drie boeties vertak. Graad 8, 10 en 11 onderskeidelik. Elkeen van ons juffrouens begroet ons met lof en ons glimlag sonder dat die velletjies aan die kant van ons oë kraak. Kleinboet het 82%, middelboet het 74% en ek het 77%.

“Nie goed genoeg nie!” skreeu pa bo-oor die radio-omroeper se stem uit. “Maar pa, die klasgemiddeld is 51%”, verdedig kleinboet. Ma sit en kyk vir haar voete. “Jy is nie soos almal anders nie, jy is ’n Van der Merwe”. “Pa, ek het my onderskeiding vir Wiskunde gemis met een persent, ” probeer middelboet. “Een persent is die verskil tussen ’n ingenieur en ’n ambagsman,” roep pa terwyl hy met ’n diep frons vir hom staar in die truspieël. Minute van doodse stilte tik verby. “En jy Waldo, wat het jy vir jouself te sê!?” “Wil pa regtig hoor?” antwoord ek. “Ja, toe. Laat ek hoor”.

“Liewe pa! Pa mis die hele doel van ’n akademiese verslag. Die manier wat pa gereageer het, het geen langtermynwaarde nie en wek net vrees in ons harte. Die hele jaar is pa te besig om ons af te laai vir skool of om net met ons oor ons vordering te gesels. Nou wil pa, kwansuis, alles red met onopgevoede en militaristiese sielkunde.” Ma kyk op en ek sien die kant van haar wang trek na haar oor toe.

waldo1

Gesels met Waldo op sy Facebook-blad by ‘Waldo Wapad’. Grafika: Verskaf.

“Liewe pa! Indien pa werklik die geleentheid wil gebruik om die meeste van die saak te maak, stel ek die volgende voor:

  1. Laat ons die praatwerk doen. Vra ons oop vrae, vrae waaruit pa kan leer. Vrae wat ons as gesin in ’n opbouende gesprek oplossings laat vind.
  2. Moet nie reageer nie. Alles wat in pa se kop inkom, word tans deur emosies gedryf. Sit ’n wag voor pa se lippe. ’n Rapport kan altyd verbeter, maar letsels bly.
  3. Ek weet pa wil die beste vir ons hê. So gee ons die beste. Gee ons pa se tyd. Leer ons hoe om te groei. Help ons verbeter. Stel saam met ons haalbare doelwitte. Wees vir ons ’n mentor in plaas van ’n diktator.”

Waldo se gesprek met sy pa het slegs in sy kop plaasgevind. Ouers, gee jou kind kans om te praat. Werk saam met hulle. Moenie hul huiswerk, take of projekte vir hulle doen dit nie. Wees net die volwasse rolmodel wat jy wens jý gehad het.

Dié is absoluut fiksie. Of is dit?

  • Johan Koekemoer is ʼn navorser by die Skoleondersteuningsentrum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
jaco

trek maar so 15 na 20% af vanaf die 3 seuns se wonderlike persentasies, om dit gelyk te bring aan standaarde uit die ou SA, of om dit gelyk te bring aan standaarde van waartoe hulle eintlik in staat is. Eks deur my kerk op n whatsapp groep waaraan verskeie skoolkinders deelneem. Dis vir my skokkend dat nie een van hulle behoorlik kan spel nie. Ek weier om te glo dat elkeen van hulle ‘n spelprobleem het. Eks ernstig: nie een kan behoorlik spel nie. So as die spelling so lyk, maar die slaagpunt is 82%, dan wonder ek watter… Lees meer »

Willemien

Korrek. n A is lank meer n A nie. Dis nou n C of n D. Ek weet, want ek was in die 60’s op skool en ek het sopas vir Gr 12 klasgegee.

Johan

Standaarde baie af. Waar het jy gesien elke kind kry 5 na 7 onderkeidings. Hier by ons hou n graad 12 kind begin werk met Wiskunde maar hy weet nie eers waarvoor staan π nie . Dis n skande . Die beste is dan kom hy nog uit n privaat skool uit.

Juffrou

Dankie Anna-Marie. Jy slaan die spyker op sy kop! CAPS kurrikulum is in my oë al n groot verbetering (slegs op sekere gebiede), maar in my kop noem ek dit sommer “CRAPS” – powere kurrikulum. Verál taalonderwysers assesseer hulself flou – maar sonder tyd vir vaslegging en inoefening. Dis belaglik.

aj

Rapporte reflekteer slegs die ‘skoolleer’ wat plaasgevind het.

Wat van die ’buite -skoolleer’ wat in die regte wêreld plaasvind?

Die kennis sit in die “wolk’ waar gretige leerders dit kan ‘indrink’!

Ek wonder of ‘gedwonge skolleer’ die moeite, tyd en geld werd is wat daaraan bestee word.

Leergieriges van alle ouderdomme sál alles leer wat hulle wìl weet … of nodig het om te weet!

Dank die INTERNET daarvoor!