Die toekoms van Afrikaanse skole

Paneelbespreking

(v.l.n.r.) Prof Theuns Eloff, Mnr Paul Colditz en Dr Danie Brink bespreek die toekoms van Afrikaanse Skole. Foto: Verskaf

Afrikaans sal nie sommer verdwyn nie. Dít is die mening van onderwyskenners wat by die Helpende Hand Skole-ondersteuningsentrum (SOS) se bekendstelling in die Atterbury Teater gepraat het. Volgens hierdie toonaangewende onderwyskenners sal daar nog teen 2036 Afrikaanse skole in Suid-Afrika wees solank Afrikaanse organisasies verantwoordelikheid vir hul eie toekoms aanvaar.

Mnr. Paul Colditz van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) was een van die gassprekers van die aand wat Afrikaanse onderwysers en skoolhoofde bemoedig het. “Ons moet onthou dat die kleinste bosluis die grootste, hardkoppigste os kan plattrek. Hy moet net op die os wees en hy moet byt! Danksy organisasies soos die SOS en Fedsas is Afrikaanse skole op die os en is hulle reg om te byt.”

Helpende Hand het die Skole-ondersteuningsentrum (SOS) tot stand gebring om aan die groeiende behoefte vir onderwysbystand vir Afrikaanse skole te voldoen. Armoede raak alle mense in die samelewing en kinders word juis die meeste daardeur geraak. Helpende Hand meen dat armoede voorkom en opgehef kan word deur opleiding en onderwys van gehalte. Aangesien Helpende Hand se fokus die voorkoming, verligting en opheffing van armoede is, is die SOS betrokke by die opleiding van onderwysers en leerders.

Tans fokus die SOS-opleiding op wiskunde en Afrikaans (Huistaal), algemene opvoedkundige beginsels soos leierskap en dissipline, asook onderwysers se rekenaarvaardighede en aanwending van tegnologie ter bevordering van leer in die klaskamer. Hierdie dienste is alles breedvoerig op die bekendstelling verduidelik.

Volgens dr. Danie Brink, hoof uitvoerende beampte van Helpende Hand, bring SOS graag hulde aan Afrikaanse skole wat goed presteer. “SOS het ’n punt daarvan gemaak om aan die bes presterende Afrikaanse skole erkenning vir hul prestasies te gee. Afrikaanse skole lewer toppresteerders in wiskunde en wetenskap en vaar feitlik 500% beter as ander openbare skole.”

By die geleentheid is Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria beloon met ’n toekenning vir die meeste onderskeidings in Afrikaans (Huistaal) en Hoërskool Menlopark het die toekenning ontvang vir die meeste onderskeidings in wiskunde. Die tien skole met die meeste onderskeidings ontvang elk ’n sertifikaat van erkenning van die SOS.

Volgens prof. Theuns Eloff, oudrektor van die Noordwes-Universiteit, is daar vraagtekens oor die voortbestaan van Afrikaans op universiteitsvlak, maar volgens hom het Afrikaans op skoolvlak nog ʼn belangrike rol om te speel. Hy het verder gesê dat die voortbestaan van Afrikaanse skole verseker kan word indien ouers steeds, soos voorheen, hul kinders in Afrikaanse openbare skole sal plaas en hulle beskikbaar sal stel om in die skool se beheerliggaam te dien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.