Die trane wat ʼn ma net agter ʼn toe deur kan huil

Argieffoto (Foto: Pixabay)

Die dag as jy ʼn ma word, ontvang jy ook hartchirurgie. Soos wat die babatjie in hierdie lewe inkom, of dit nou natuurlik of met keiser is, gaan jou hart saam met hom/haar.

Jou hart kry voete en arms, en begin buite jou liggaam rond hardloop.

Dit raak erger wanneer jou hart begin om te vermenigvuldig. Nie net kan mens nie glo dat jy soveel liefde vir meer as een mens kan ervaar nie, dit beteken ook dubbel/trippel die bekommernis.

Die grootste uitdaging is egter daardie tye wanneer jy jou hand op jou hart sit en dan moet besef dis nie meer daar nie… Jy kyk na hom in lewende lywe voor jou en jy weet dat jy net kan toekyk en niks doen aan die situasie waardeur hulle moet gaan nie. Die trane wil loop maar jy weet jy moet dit nie stort nie, omdat dit dalk vir hulle die oomblik selfs moeiliker kan maak en hulle moet ongelukkig soms op die harde manier leer, sodat dit hulle toekoms makliker sal maak.

Dit begin al vroeg wanneer hulle huil oor die nuwe lewe wat so skrikwekkend en vreemd is en jy vir hulle wil sê: “Dit gaan alles oukei wees.” Jy sal leer om die lewe te hanteer en besef dat elke wind en hik nie die ergste is wat in die lewe kan gebeur nie.

Om hulle dop te hou terwyl hulle stoei om die eerste keer op hulle rug te draai. Dis soos om te kyk na ʼn skoenlapper wat probeer om uit sy kokon te kom. Jy wil so desperaat graag help, maar weet jy moenie waag nie, want anders gaan hy nooit leer om sterk genoeg te wees om dit op sy eie te doen nie. Dis trane wat jy so graag wil huil.

Om te sien hoe hulle begin sosialiseer op ʼn soms ongemaklike manier. Om hulle toe te laat om weggestamp te word deur ʼn maatjie wat nie besef hulle wil ook deel wees van die speelproses nie, deur eerder die huis wat die maatjie gebou het om te stamp in plaas van om te help bou. Of om te sien hoe die maatjies hulle ignoreer as hulle met ʼn wye glimlag nader staan om ook saam te speel. Dis trane wat ʼn ma moet terughou omdat hulle moet leer daar gaan altyd mense in die lewe wees wat nie noodwendig hulle goedgesind sal wees nie en hierdie situasies sal hulle sterker maak daarvoor.

Wanneer hulle dieselfde knie vir die vyfde keer in ʼn ry oopval dat dit bloei en die trane loop, dan moet jy drukkies en soentjies gee, en jou trane sluk, totdat húlle trane opdroog.

Om te moet groet wanneer jy werk toe gaan, terwyl hulle trane en “Mamma!” jou agtervolg, dan kom loop die trane maar as jy daardie deur agter jou toetrek.

Om by hulle op hulle bed te sit in die middernagtelike ure, en troos omdat hulle nie verstaan wat ʼn keelseer of hoofpyn, as gevolg van ʼn hoë koors is nie, terwyl jy met jou hele hart wil saam huil, maar weet jy mag nie ook nou in trane uitbars nie, want jy moet hulle s’n afdroog.

Ek is nog in die vroeë tye van my kinders se lewens. Hoe oorleef mens dit wat kom? Daardie tye wat mens agter ʼn toe deur jou oë wil gaan uit huil?

Die dag as hulle nie vir die span gekies word nie. Die dag as hulle maats hulle onsensitief uitskuif omdat hulle opstaan vir iets waarin hulle glo. Die dag as hulle eerste liefde hulle afsê. Die dag as hulle hulle werk verloor of nie die werk kry wat hulle so graag wou hê nie.

Die dag as hulle húlle trane gaan moet terughou om agter die toe kamerdeur te gaan huil, oor húlle harte (kinders) se uitdagings in die lewe…

Wat moet ʼn ma doen met daardie trane, behalwe om dit te gaan huil agter ʼn toe deur…?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

My hart ·

Ons huil maar almal, ons harte breek maar almal .. ons cringe elke keer as ‘ n maatjie lelik is met jou kind en sy trane loop, of hy klein is of groot is en iemand hom verlaat, ‘n ma se trane is dieselfde. Leer hom om sterk te wees, leer hom om in homself te glo. Nog lank voordat die leerlingraad gekies is het ek vir my ‘n kind ‘n brief geskryf en vertel wat ‘n wonderlike blessing hy vir ons was, wat ‘n fantastiese kind en goeie presteerder hy is en dat ek nie vir beter kon vra nie, en dat hy moet weet sou hy nie vir die leerlingraad gekies word of vir die eerste span krieket/rugby nie DIT HOM NIE DEFINE NIE. Die sportspanne, die prestasies DEFINE hom nie, dit wie hy is define hom, sy omgee, die liefde in sy hart, die dinge waarin hy wel presteer en waarvoor hy lief is .. Kinders verskil, maar ons moet ons kinders ook voorberei vir die harde werklikheid en harde lewe wat voorle, maak seker hulle weet JY is aan hulle kant en met watter oe JY na hulle kyk. Die lewe is ongelukkig nie net maanskyn en rose nie, jy moet baie dorings op die pad uittrek. Sterkte .. mooi stukkie!

Marinda ·

Wanneer hulle groot en uit die huis uit is, huil ons nog steeds. Veral as hulle ver van jou af bly en jy sien hulle een keer ñ jaar in lewende lywe as jy gelukkig is. Skype is nie dieselfde nie.
My oudste sê vanoggend vir my:
“Mom, you need to relax and you need to let go. I’m no longer 11. You don’t have to worry about me anymore.”
Ja, my kind. Ek is jou ma, of jy nou 2, 32 of 82 is. Ek is en bly jou ma. Selfs wanneer ek nie meer daar is nie, sal ek nog steeds jou ma wees.

NetmaarMa ·

Wanneer trane en woede en opstand en hartseer en bekommernis een word, leer ons eers werklik die diepte van ‘n moederhart (of ouerharte) ken. As jou kind met die verkeerde lewensmaat getrou het teen al jou waarskuwings en openlike en hoopvolle raad en gesprekke in. As jy moet hoor hoe sy verval het tussen die gemors van die lewe waarin haar man haar gelei het en waaraan hy haar bekend gestel het. As jy besef jou kind is soos die verlore seun wat op ‘n ashoop sit en peule eet saam met die varke, dan kom die trane van diep binne, bitter trane. Trane van wanhoop. Waar gaan dit alles eindig vir haar? Gaan sy eendag besef dat haar lewe besig is om uitmekaar gepluk te word deur hulle bandelose en argelose bestaan? Gaan sy eendag wakker word en terugverlang na ‘n normale lewe waarvan sy eens deel was? Gaan sy ook eendag ‘n lewe van’n mamma en ‘n pappa en kinders met ‘n kat of ‘n hond en mooi huis begeer? As dit so sal wees, hoeveel jare van haar lewe sal sy al gemors het? Is daar nog omdraai kans vir haar? Is sy al te ver heen deur verslawing aan ‘n klomp bose dinge wat haar elke dag omring? Die trane van ‘n moeder….

Annakapat ·

Drie volwasse seuns verder en die trane het nog nooit opgehou nie… nie die trane van blydskap saam met hulle oor prestasie nie en nie die middernagtelike trane in jou kussing oor hulle hartseer nie.
So sleg as wat dit was om hulle in jou arms toe te vou en jou trane te moes terughou vir hulle seer in hul grootword jare so lekker is dit om te erken dat die blydskaptrane op ‘n stadium die hartseertrane oorskry – dis wonderlik om ons drie seuns met hulle vrouens en kinders te beleef en om die trots en blyskaptrane met hulle te deel.
Dis wanneer jou kinders foute maak wat hulle jou die nodigste het – wees maar net altyd op die agtergrond al dink hulle hulle het jou nie meer nodig nie, hulle het!

Lizette ·

Stem saam en ai die 1 keer n jaar sien ken ek dit breek die moeder hart.

Snowball ·

Geseënd, al het ek net een van 22 wat weg van die huis af studeer, maar my hart breek nog elke keer as ek moet groet na ‘n kuier en soms lê ‘n dag in ‘n leë huis soos ‘n berg voor jou. Ons ma’s huil omdat ons bang is hulle kom iets oor, magteloos is as hulle sukkel, bly is as hulle suksesse ervaar, hartseer is as ons hulle kinderarmpies mis wanneer hulle groot is en ons huil as ons so vreeslik verlang, maar al loop jou hart buite jou rond, gee moederskap ander dimensies aan jou menswees, want jy kry die moed van ‘n leeu om hulle te beskerm, die geduld van Job om hulle te help, die wysheid van Salomo om hulle raad te gee en jy leer gee die mees onselfsugtigste liefde, ‘n liefde wat seker die naaste is aan God se liefde vir ons, want niks het so lief soos ‘n ma haar kind het nie. Saam met die trane agter die deur gee God sy skouer vir jou om op te huil.

Koos1 ·

Moet asb nie van ons pa’s vergeet nie. Ek is baie nou betrokke by beide my kinders en kan ook assosieer met die stuk.

EerstekeerMamma ·

Marianne, jou publikasie praat met my vamiddag. Ek sit met trane in my oë. My baba is oor ‘n paar daggies 1 jaar oud. Vandag was vir my vreeslik erg om my baba by die kleuterskool te gaan aflaai en te ry nadat ek net moes omdraai en wegloop van ‘n huilende rooigesiggie wat so diep in my kyk. Veral nadat ek en my man gisteraand ‘n bytmerk op haar armpie gekry het. My hart is gebreek. Hoe kan ek haar beskerm as ek nie daar is nie? Is sy okay? Ek wens ek was daar vir haar toe sy gehuil het na die maaitjie haar gebyt het. Dit moes seer gewees het mamma. Ai my lief mamma is so jammer.
Dis maar net die begin. Daar gaan nog erger dinge met my patata gebeur, dis ‘n wrede werêld daar buite my liefie, wees sterk.

Inge ·

Wow, dit is presies hoe ek voel en hoe dit is vir ons ouers. Dit is so mooi gestel. ‘n Wonderlike stuk.

Conrad ·

Marianne, waarom agter ‘n toe deur gaan huil?

Maak die deure oop. Jy mag dalk vind jou man staan buite en huil.

Sandy B ·

Conrad – dit is so mooi gestel. Dankie vir die wonderlike pa’s wat ons as ma’s troos as die seer te veel raak. Gelukkig het ek ‘n man wat altyd aan my sy staan deur alles. Hy maak my las net soveel ligter.

Blommie ·

My ouma het altyd gesê “kind groot maak” is 3 woorde maar ‘n lewenslange taak. Dit is vir my so so moeilik. 2 van my kinders met hulle gesinne is oorsee en sien is maar min. Skype help darem. My seerste wegsteek trane was toe ons tweede kleinkind net 3 daggies geleef het en jy nie jou behoorlik kan troos oor hulle 1ste se dood. Ek weet GOD dra elkeen van ons en HY droog die trane af. Hy weet van elke seer. Vertrou net op HOM. Baie dankie vir die pragtige skrywe Mariaan

JAN ·

JEREMIA 31: 15 –22. ….”
die laaste skepping! die vrou sal die man beskerm.”
Lees gerus wat ons beleef mbt vroulikheid / feminisme..

sherise ·

So mooi gestel en geskryf..ai ons harte hardloop daar buite rond sonder om te besef hulle hou dit aan die klop.
My kinders, my lewe, my alles ….Bly altyd veilig in Jesus se hande..

Marietjie ·

Ai hierdie stukkie le swaar.op my hart vanoggend. Om n enigste na 24 jaar aan God terug te gèe is letterlik en figuurlik agter n toe deur te huil. Na amper 7 jaar huil ek steeds dag en nag agter daai toe deur. Die terug dink aan al daai dingetjies wat vir jou nou net herrinneringe geword het maak baie seer. As die Hemel maar net n nommer gehad het of Skype sou ek baie tevrede gewees het nie. Vandag sit ek met n lee moederskoot en nie net n hart nie maar n lyf, n lewe vol pyn. Ek het nie meer nodig om te wag vir die trane nie, my oe huil lankal voor my brein vir my hart se jy moet hartseer wees. Trane agter n toe deur oor alles wsy was, is en wat kon gewees het. Dankie dis n uitstekende stukkie en gaan beslis n plekkie in my Scrapbooking kry

Didi ·

Ai… almal laat die druppels nou rol… ek ook mamma vir ‘n 2jr… daar wag nog baie. Maar sjoe mis ek nou my mamma se arms om my, het hul 7 jaar laas gevoel maar onthou hul goed. Nou dat ek self eers ‘n mamma is besef ek werklik haar liefde vir my.

ANKE ·

Hoe seer is my hart vandag nie….gister lees ek hierdie en besef nie hoe ek ook gaan stil trane huil. My dogter werk in `n teater en daar het bloed in haar oog gekom en dadelik moet sy die medikasie gebruik wat HIV pasiënte gebruik, sy bel my om dit te sê en ook dat haar kêrel haar ook sommer dieselfde dag gelos het….hoe tel ek my dogter op….sy is moeg en siek van die medikasie en saam is haar hart gebreek….haar hele vriendekring is hy deel van hoe sê ek vir haar dit sal alles reg wees….my pragtige dogter wat so voorbeeld vir ander is oor al haar harde werk en die mens wat sy is is stukkend….en ek weet nie hoe om haar te troos nie….

Sandy B ·

As hy dit gedoen het verdien hy haar in elke geval nie. Sy sal opstaan en die persoon ontmoet saam wie sy eintlik moet wees. Wees net daar vir haar soos jy is Anke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.