Die uitwerking van egskeiding op kinders is groter as wat ’n mens besef

egskeiding-SA-huweliksweek

Wanneer ouers skei is die emosionele gevolge van dié trauma op ’n kind skrikwekkend. Foto: Psychotherapynetworker.org

Van alle kinders wat vanjaar gebore is, sal 50% die effek van hul ouers se egskeiding ervaar vóórdat hulle 18 word. Só blyk dit uit ’n Amerikaanse navorsingsverslag.

Wanneer ouers skei is die emosionele gevolge van dié trauma op ’n kind skrikwekkend. Tieners in enkelouer-gesinne en saamgestelde gesinne is drie keer meer geneig as ander om sielkundige hulp binne die gegewe jaar te ontvang en in vergelyking met kinders wie se huise deur dood getref is, het kinders uit geskeide huise meer sielkundige probleme.

In ’n ander studie deur Resolution, ’n vereniging van gesinsprokureurs in Engeland en Wallis, word die opvoeding van tweederdes van 14 tot 16-jariges wie se ouers geskei is, negatief beïnvloed, en een uit sewe het erken dat die spanning rondom hul ouers se egskeiding hulle tot dwelms of alkohol gedryf het. ’n Vyfde van hierdie kinders het ook nooit weer een of meer van hul grootouers gesien nie.

In reaksie op hierdie verslag, sê sir Paul Coleridge, stigter van The Marriage Foundation: “Kinders presteer bykans nooit volgens hul hoogste potensiaal wanneer hul emosionele lewe chaoties is nie en ’n ineenstorting van die gesinstruktuur is die hoof bydraende faktor. Hoeveel meer studies en statistieke het ons nodig voordat ons almal, insluitende die regering, wakker word en hierdie kwessie ernstig neem? Dit is so onregverdig teenoor die kinders.”

Die uitwerking van egskeiding op kinders is ook langdurig. Navorsing toon dat 70% van langtermyngevangenes grootgeword het in gebroke huishoudings en dat mense uit gebroke huise twee keer meer geneig is tot selfmoord as diégene wat nie uit gebroke huise kom nie. Die kinders van geskeide ouers sal ook meer moeite hê om ’n vaste werk te kry en te behou. Hulle is ook meer geneig om as tieners ouers te word en hul lewensverwagting is korter.

Ongelukkig word die onstabiliteit van huwelike dikwels oorgedra van een geslag na ’n volgende en daarom kan die egskeidingsyfer ook beduidend hoër wees vir toekomstige generasies, tensy ouers die erns hiervan betyds besef.

Die Suid-Afrikaanse Huweliksweek is ’n instelling wat pare wil inspireer om op die welstand van hul huwelike te fokus en sodoende ’n heel gesin en’n gesonde samelewing te vestig. Word deel van SA Huweliksweek van 1 tot 7 September en staan saam met verskeie bekendes op vir huwelike in ons land.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

hartseer ·

Ekt 2 kinders 11 en 7 my man los ons nou al vi di 2de keer. Wat staan my te doen om al die ondersteuning nodig vir my kinders te kry

Tania ·

Daar is gratis kursusse reg oor die land aangebied en juis voorsiening maak vir die trauma waardeur kinders gaan tydens ‘n familie breek. Besoek divorcecare.org. Dit was my saligheid tydens ‘n baie rowwe storm in my lewe, om dié mense te ontmoet en standvastige raad te ontvang. Die ondersteuning het my gedra, en ek wens jou dieselfde troos toe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.