Die vele gedaantes van ’n ouma

Foto: popsugar.com

Foto: popsugar.com

“Dis ʼn soort omhelsing wat ek nooit ten volle sal kan beskryf nie. Sy was altyd warm en haar reuk was amper soos ʼn tuiskoms. Sy was wys en sag en sy het my uit my maag laat lag. Dis hoe ek my ouma onthou.”

In elke kultuur word die rol van die ouma verskillend geïnterpreteer – sommiges word voorgestel as ʼn matriarg wat as hoof van die familie staan en ander as ʼn skaduwee, half vergete in die agtergrond. Party oumas bly ver en ander sal nooit die voorreg hê om hul kleinkinders te leer ken nie. Maar sommige grootouers is so deel van die gesin dat hulle afsterwe vir lank betreur word. Dis dié wat gewoonlik so deel was van hul kleinkinders se lewens en wie se invloed nooit gemeet sal kan word nie.

Die wêreld vandag lyk heeltemal anders as destyds – selfs die dinamika van die gesin lyk anders. Oumas en oupas wat altyd skelm sjokolade verskaf het moet nou ook help met huiswerk en sorg dat kinders by die skool gehaal word. Die rol van die ouma is veral meer prominent as jare gelede – sy het amper ʼn kombinasie van ma en ouma geword. ’n Mens sou dink dat dié ’n uitdaging sal wees omdat daar nou ’n fyn lyn is tussen iemand wat nie net bederf nie, maar wat ook moet opvoed en dissipline handhaaf. Maroela Media het met ’n paar oumas gesels om te hoor of hulle dié balans al bemeester het.

Karin Hepburn sê die rol van ʼn ouma lyk baie anders as jare gelede. “Vandag se oumas is baie meer betrokke by hul kleinkinders en moet baie meer uithelp – in die verlede was dit nie so gewees nie.”

Met ouers wat deesdae heeldag werk bied oumas die nodige liefde en ondersteuning wanneer kinders van die skool af kom – iets wat vandag se ouers baie graag wil gee, maar wat omstandigede net nie toelaat nie. Karin sê die ouma het nou ook meer van ʼn opvoedingstaak.

“Soms moet ’n mens maar ʼn hou of twee gee want hulle ore skuif partykeer so bietjie af. Dis nie baie lekker nie, maar ’n mens moet dit doen.”

Al word daar soms gewiks, meen Karin dat baie meer toegewings met kleinkinders gemaak word as toe haar kinders klein was. “Dis nie reg nie, maar dit is so. ʼn Ouma laat baie meer toe.”

ʼn Hele paar oumas kon dié stelling beaam.

Barbara de Beer, ouma van twee, sê haar tweejarige kleindogter draai haar om die pinkie en dat sy baie strenger met haar eie kinders was. “My kleinkind kom partykeer met moord weg.” Sy vertel hoe haar kleinkind altyd kom troos soek as mamma en pappa geraas het. “Die ouers moet raas en ouma moet troos, dis wat oumas doen. Ek hou haar styf vas, vee haar traantjies af en dan speel ons verder.”

Dit wil voorkom of oumas die riem ʼn bietjie verslap as dit kom by dissipline, maar Coosie de Beer sê hoewel daar ʼn bietjie meer vryheid by ouma en oupa is, word dissipline tog toegepas as haar kleinseun kom kuier. “Daar is sekere reëls wanneer ons eet, wanneer hy gaan bad en oor hoe laat hy moet gaan slaap. Hy verstaan dit baie goed. Dieselfde reëls moet gevolg word as by sy eie huis, maar ouma slaan net nie so gou soos mamma nie.”

Vir Emsie van Vuuren, ouma van vier, is dit soos om ‘n tweede kans te hê. “As jy ’n ouer is, moet jy streng wees want jy wil jou kind opvoed en jy wil hê hy moet volmaak grootword, maar as jy ‘n ouma is, kan jy jou kleinkinders net geniet.”

En as dit kom by bederf?

Coosie sê sy doen dit nie met lekkers en speelgoed nie, maar sy bederf haar kleinkind met haar tyd – iets wat sekerlik meer kosbaar is. “Ek dink ʼn ouma het baie meer tyd vir haar kleinkinders. Mamma en pappa moet werk, dis hoe vandag se lewe is. So wanneer my kleinseun my vra om te speel, dan gaan speel ek.” Met ʼn sportiewe kind wat lief is vir die buitelewe is dit dalk moeilik om by te hou, maar dié ouma is min gepla. “Ons speel krieket, rugby of sokker. Of partykeer speel ons cowboys en crooks. Dis vreeslik lekker.”

Emsie vertel ook hoe sy moeite doen om ʼn veilige atmosfeer vir haar kleinkinders te skep sodat elkeen net homself kan wees. “My kleinkinders het verskillende eienskappe en ’n mens moet elke kind se verskillende geaardhede raaksien. My kleindogter is baie opgewek. As sy kom kuier probeer ek goedjies doen wat opwindend is en waarvan sy sal hou. My een kleinseun is weer saggeaard en sy boetie hou baie van teken, as hy kan teken is hy op sy gelukkigste.” Sy vertel ook van haar kleinseun wat graag styf teen sy ouma kom sit sodat sy vir hom storie kan lees. En só kry elkeen ʼn plek in ouma se huis.

Dit is baie duidelik dat daar meer by ouma se huis is as net ekstra lekkers en speelgoed. Die oumas sê hulle kleinkinders het die vryheid om te wees omdat ouma en oupa alles al gesien het. Hulle skrik nie sommer maklik vir bloed nie, hulle raas nie sommer as daar te luidrugtig gespeel word nie en is nie te bekommerd oor te veel suiker ná 18:00 nie. Hulle vertel van ʼn ander soort veiligheid as by mamma en pappa se huis: geheime word onder ʼn tent van komberse gefluister, hartsbegeertes en vrese word makliker gedeel met ʼn ekstra lepel roomys en krytprente op die muur word vinnig (sonder pakslae) afgevee. ʼn Prentjie word geskets van ʼn veilige warm borrel waar die verloop van tyd nie eintlik prioriteit is nie.

Iemand wys en onbekend het ʼn mooi opsomming vir ʼn ouma: Sy is ’n bietjie soos ʼn ouer, ’n bietjie soos ʼn onderwyser en ’n bietjie soos ’n beste vriend…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

CHRISTA ·

Ja Ouma’s waardeer julle kleinkinders. Hulle word so gou groot!!! Een van myne sit nou in Australië!

ladybug ·

my kleinkind is amper 2 en as sy ma sê hy is stout, dan keer ek wild, maar met my eie kinders was ek soooo streng. ja die kleingoed draai mens op jou pinkie en jy sal enigiets vir hul doen.

ek hol agter myne aan al sien hy my so min dat hy my “tannie” noem .. DIT breek my hart en ek wens ek kon hom ook elke week sien soos sy ander oupa en ouma.

Maar Liam bly sy ouma se hart se punt en sy sal berge vir hom verskuif, as sy kan …

Andre' de Bruin ·

Ons bly in die VSA (Beaufort, SC) en het twee klein seuns (Liam en Rylan), twee regte klein Amerikaners…….Ai, ons is sooooo lief but hulle!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.