Die waarde van geografie in ons lewens

geografie_kinders_aardbol_sustainablesanmateo-org.jpg

Foto: sustainablesanmateo.org

[promosie-artikel]

Erika Hertzog

Geografie is ʼn onmisbare deel van ons lewens. Ons is immers afhanklik van die aarde waarop ons bly en word dus sterk geraak deur natuurverskynsels, geologiese gebeurtenisse en atmosferiese stelsels. Die behoefte om die wêreld rondom ons te verstaan, is ʼn wesenlike deel van wie ons is. En om meer te leer oor ons wêreld is presies wat geograwe doen.

Geografie word in twee hoofareas verdeel: menslike geografie fokus op die ruimtelike aspekte van die mensdom se bestaan, terwyl fisiese geografie daarop toegespits is om klimaatpatrone, landvorme, plantegroei, grond en water te bestudeer.

Geograwe gebruik heelwat verskillende instrumente en tegnieke in hul werk, en het al baie tegnologiese hulpbronne ontwikkel wat ook in ander sektore nuttig is. Sulke tegnologiese hulpbronne sluit in Geografiese Inligtingstelsels (GIS), Globale Posisioneringstelsels (GPS), afstandswaarneming en aanlyn kartering soos Google Maps. Hierdie tegnologiese hulpbronne word ook deur ander bedrywe gebruik, bv. vervoerstelsels, veiligheid en sekuriteit, kommunikasietegnologieë en ontginning van natuurlike hulpbronne soos olie en minerale.

Ons belangstelling in die aarde en die behoefte om te verstaan hoe alles ineenskakel word van kindsbeen af aangewakker. Daar gaan nie ʼn dag verby waar mens nie hoor van ʼn verpletterende tsoenami of ʼn bosbrand wat buite beheer geraak het nie. Ons lees van aardbewings wat stede uitmekaar skeur, van reënvloede wat dorpe verspoel en sien self die skade wat ʼn haelstorm kan aanrig. Weerpatrone is dus sekerlik een van die algemeenste aspekte van geografie wat ons van kleins af raak, verwonder en soms verstom.

Maar geografie help ons nie net om te verstaan hoe die wêreld om ons werk nie. Dit speel ook ’n groot rol in samewerking met ander bedrywe; bv. in konstruksie en grondontwikkeling, stadsbeplanning, ontwerp van boerdery- en vervoerstelsels, voedselbeplanning, die bekamping van besoedeling en aardverwarming, afvalbeheer, beskerming van bedreigde spesies en storm-, vloed- en natuurrampwaarskuwings. Dit is duidelik dat die omgewing ’n impak op byna alle bedrywe het, en geografie poog om die omgewing te verstaan, voorspel en soms selfs beheer.

Geograwe leer elke dag meer van ons planeet om ons lewens beter, veiliger en meer gerieflik te maak. As dit nie vir mense was wat meer van die aarde wou leer nie, sou ons lewens heelwat anders gewees het – minder voorspelbaar en baie meer gevaarlik.

Die belangrikste les wat geografie ons leer, is dat ons van die aarde afhanklik is, maar dat die aarde ook van ons afhanklik is. Ons moet die kennis wat ons van geograwe kry, in alle ander fasette van ons lewens integreer – hetsy bewaring van skaars natuurverskynsels, bestuur van natuurlike hulpbronne of beheer van potensiële rampspoedige gebeurtenisse – om sodoende ons wêreld beter te leer ken en benut. Ons moet egter ook hierdie kennis gebruik om die aarde vir die nageslag te bewaar, sodat ons kinders se kinders kan weet hoe dit voel om kaalvoet deur die reën te hardloop of na die sterrehemel te staar in afwagting van ʼn verskietende ster.

Bron: www.aag.org

Artikel verskaf deur Impak Onderwys

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.