Die waarde van geskiedenis vir die kind

Deur Ilse Stickling

geskiedenis-ou-briewe-fotos

Foto: Free-Photos/Pixabay.com

Het geskiedenis nog enigsins ’n waarde in skole en vir die kind? In ons tegnologiese samelewing word sekere vakke dikwels uitgesonder en belangriker geag sodat die kind eendag finansieel suksesvol in ’n baie mededingende beroepswêreld kan wees.

Geskiedenis is egter uiters noodsaaklik in die huidige Suid-Afrikaanse konteks. Aangesien geskiedenis waarskynlik ’n verpligte vak tot en met graad 12 gaan word, sal die opstellers van die nuwe kurrikulum moet verseker dat die waarde van dié vak uitgebou word en dat leerders se belangstelling in die vak geprikkel word.

Omdat Suid-Afrika se dinamika oor die afgelope paar dekades baie verander het, sukkel Suid-Afrikaners steeds om ’n nasionaliteit te skep waar almal ’n tuiste kan vind. In ’n samelewing wat deur onsekerheid en onsensitiwiteit gekenmerk word, kan gekwalifiseerde geskiedenisonderwysers ’n baie belangrike rol speel om aan die jeug leiding en rigting te gee. Dié onderwysers se positiewe invloed op die jeug kan van onskatbare waarde vir ons land se toekoms wees.

Kurrikulumopstellers sal egter versigtig te werk moet gaan om die feitelike inligting só aan te bied dat een groep nie bo ’n ander bevoordeel word nie, en om leerders met die nodige kennis en vaardighede toe te rus om ingeligte en verantwoordelike besluite te kan neem. Verantwoordelike besluite deur die jeug kan bydra tot die bevordering van demokrasie in die land.

Geskiedenis is lankal nie meer die blote leer en memorisering van datums en feite nie; dit het verander in ’n meer omvattende benadering met betrekking tot die verlede, met die oog op lesse wat daaruit geleer kan word en die waarde wat dit inhou vir toekomstige optrede en besluite. Só bevorder die vak nie net kennis nie, maar ook kritiese denke, aangesien leerders geleer word om te redeneer, te vergelyk, te evalueer en te analiseer. Dit is juis dié vaardighede wat in die werkplek en in verdere studies vereis word.

In geskiedenis kweek leerders empatie, aangesien hulle aan ’n verskeidenheid van omstandighede blootgestel word en hulself in ander se posisies kan plaas. Geskiedenis is nie net meer ’n storie oor die verlede nie, maar ’n les wat geleer en verstaan moet word. Dit dra ook by tot die ontwikkeling van emosionele intelligensie. Deur te weet waar hulle vandaan kom en lesse uit die verlede te leer, kan leerders toegerus word vir die toekoms. Die ontwikkeling van selfbegrip wat hieruit voortspruit, kan bydra tot verantwoordelike burgerskap in ’n diverse, komplekse en onsekere demokrasie.

Dit is duidelik dat geskiedenis baie waarde vir leerders inhou, mits dit met passie aangebied word. Die holistiese en interdissiplinêre aard van die vak maak van geskiedenis ’n interessante en lewensvormende vak vir elkeen wat dit neem.

  • Ilse Stickling is vakspesialis in geskiedenis by Impaq. Impaq vorm deel van die FutureLearn-groep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

nico k ·

Dit is ‘n jammerte dat sekere vakke vandag uitgesonder word as belangriker. ‘n Proffessor het eendag in ‘n klas gesê dat ons nie op skool moet feite leer nie, maar vaardighede. Soos om te kan skryf, om te kan redeneer, taalvaardighede, ens. En ek stem tot vandag nog saam. (Hoeveel van die feite wat julle op skool geleer het onthou julle nog.) En in geskiedenis leer mens beslis iets van menswees wat noodsaaklik is vir jou.

marco polo ·

Ek is besig in China om die Chinese te leer van waar die Afrikaner vandaan kom en ons voortdurende stryd om oorlewing teen die Afrikane. Meeste Chinese weet nie eens dat daar blankes in SA is nie.

Peet Schabort ·

Daarom is die bewaring van ons museums net so belangrik maar ongelukkig is daar reeds talle vernietig/gesluit.
Ry egter met die hoofstraat deur Heilbron in die Vrystaat en kyk of die hek oopstaan van die museum dig teen die straat en oorkant die huise. Wees gewaarsku om ten minste ‘n uur hier te spandeer. Buite Heilbron is ook natuurlik Vegkop waar ook ‘n volwaardige museum is. Talle van ons wat my insluit sit met goed wat moontlik sal verlore raak omdat die Afrikaner nie ‘n museum het uit die kloue van die regering.

Pottie ·

Geskiedenis waardevol….? Dit klink vir my eerder soos om gister se koerant vandag te lees en beïndruk te lyk oor wat jy sien. Op n lys van dinge wat belangrik is vir n kind sou ek se geskiedenis moet bly waar dit is in die verlede of soveel te beter kom ons leer ons kinders om tegnologies te verbeter dan kan hul op n interessante manier beïndruk lyk oor die nuus van gister.

Peet Schabort ·

Lees Ilse se skrywe sonder om vooraf negatief ingestel te wees. Mens kan ook die houding inneem teenoor die hedendaagse om vooraf te besluit dat dit nie mensvormend kan wees.
Daar is natuurlik die manier van aanbieding wat altyd deurslaggewend sal wees hetsy dit die verlede, huidige of toekoms behels. Gelukkig egter is ons denke en smaak nie dieselfde want dink net hoe vervelig sou die lewe gewees het.

Herman Goosen ·

Geskiedenis is veronderstel om ‘n mens te leer wie het dit gemaak, en hoekom het hulle dit gemaak, en waarom ander tot ‘n val gekom het. Dit is nie veronderstel om slegte mense te vereer en op te hemel net omdat hulle welbekend is nie.

Weens ‘n gebrek aan kennis maak miljoene mense in derde wereld lande oor en oor dieselfde foute. HOEKOM – WANT HULLE KEN EN LEER NIE UIT DIE VERLEDE NIE

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.