Die waarde van jou emosionele band met jou kind

ouers-baba-stap

Foto: Brittany Simuangco/Unsplash.com

Deur Illana Karam

’n Kind se heel eerste verhouding – gewoonlik met sy mamma – lê die grondslag vir sy emosionele welstand en sy verhoudings in die toekoms. Navorsing het bewys dat kinders wat veilige emosionele bande met hul ouer(s) gevorm het, na hul ouers gaan in moeilike tye, probleme beter kan hanteer, beter oor die weg kom met hul maatjies, beter voel oor hulself en dat hulle die mense vir wie hulle lief is, vertrou.

Maar… hoe word so ’n veilige band gevorm?

Die eerste drie jaar van ’n kind se lewe is krities in die vorming van emosionele bande. Babatjies is totaal afhanklik van hul versorgers om in hul fisieke behoeftes te voorsien en emosioneel te bevredig. Bogenoemde is dus ʼn ma se nommer een-prioriteit.

Babas móét veilig voel. Hulle moet weet dat wanneer hulle huil, sal iemand aan hulle aandag gee. Hulle het ’n ma nodig wat vreugde vind in hul bestaan. ’n Ma wat oogkontak maak, saam gesels en haar baba geniet. ’n Ma wat haar baba leer ken, weet hoe om te troos, en ook haar kleinding toelaat om die wêreld rondom hom of haar te verken. Sy moet hom/haar leer hoe om maatjies te maak en ook lief te raak vir ander mense. Tog moet sy altyd ’n veilige hawe wees om na toe terug te kom.

Alhoewel die eerste drie jaar krities is, is die jare tot op die ouderdom van ses of sewe jaar van kardinale belang. ’n Kind se wêreld raak dan groter, maar sy/haar ouerhuis moet steeds ’n veilige plek wees waarnatoe hy/sy te eniger tyd kan terugkeer om sy/haar emosionele batterye te herlaai.

In die besige lewe waar baie eise aan ouers gestel word, moet hulle nog steeds tyd maak om met hul kinders te gesels, te speel, of sommer net om as gesin saam te wees. Kinders het die veiligheid van roetine en konsekwente dissipline nodig. Hulle moet weet dat hulle altyd kan staatmaak op hul ouers om daar te wees vir hulle. Hulle moet weet dat wanneer hulle verkeerd optree, hulle liefdevol gedissiplineer, maar nooit verwerp sal word nie. Kinders moet sonder twyfel weet dat hulle geliefd is.

’n Veilige emosionele band is baie sterk, tog ook baie broos – dit is iets wat altyd in stand gehou moet word, selfs tot kinders tieners is en later uit die huis trek.

Hoe doen ons dit? Deur tyd te maak. Deur geïnteresseerd te wees en werklik na hulle te luister. Deur in ag te neem wat vir hulle belangrik is, wat hul harte seer maak en waar hulle kwesbaar is. Deur steeds saam te speel en saam te lag. Deur altyd te probeer verstaan vóór ons oordeel. Jou band met jou kind is wat die grondslag lê vir toekomstige verhoudings en is van onskatbare waarde.

Wat gemaak as dinge verkeerd geloop het en ek bekommerd is oor daardie band?

Vra hulp. Daar is baie mense wat opgelei is om te kan help. Terapeute, maatskaplike werkers, sielkundiges en ander kundiges kan leiding gee. Jý kan hulp kry, jou kind kan hulp kry en kundiges kan help om daardie band weer gesond te maak en te versterk. Moet dit nie los nie, moenie tou opgooi nie en moenie dink dit sal sommer vanself regkom nie. Kinders word met ’n inherente behoefte gebore om ’n liefdevolle en gesonde verhouding met hul ouers te hê – al het hierdie verhouding skade gely, is daar bykans altyd hoop dat so ’n verhouding genees kan word.

  • Illana Karam is ’n terapeut en maatskaplike werker by die Elipda Trust van Pierneef-Med in Villieria, Pretoria.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

charmaine ·

Hierdie berig praat so waar, ons het 2 seuns 22 en 24 jaar oud en soos wat ek die berig lees se ek net Dankie Here dat ek in staat was om my kinders so groot te maak soos hierdie berig dit se. Net gisteraand praat ek en my man en se hoe gelukkig is ons om sulke 2 pragtige wonderlike seuns in hierdie wereld te kan het. Presies net so, ons seuns weet waar hulle veilig is hulle geniet dit om by ons huis te wees, en ek se altyd vir ander mense die belangrikste ding as n ouer is om met jou kinders te praat daal op hulle vlak vra vrae bond met hulle want die dag as hulle uit trek wil jy het hulle moet weer terugkom om te kom kuier. Ons kinders se altyd dit is vir hulle lekker by die huis.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.