Die waarde van vriendskap

kinders.jpg[promosie-artikel]

Danielle Barfoot

Vriende is ’n noodsaaklike deel van die lewe, maak nie saak hoe oud jy is nie – hulle skep ’n sin van samehorigheid, maak jou gelukkig en staan jou by as dinge in die lewe begin skeefloop. Vir kinders is die koestering van vriendskap ook belangrik vir persoonlike ontwikkeling.

Vriendskap bied kinders meer as net speelmaats; dit help hulle om emosioneel en moreel te ontwikkel. Deur met ander te speel, leer kinders ook belangrike sosiale vaardighede soos hoe om te kommunikeer, saam te werk en probleme op te los.

’n Gesonde vriendskap tussen kinders is een waarin hulle wedersydse respek toon, opgewonde gesels oor die dinge wat hulle saam doen, en gretig is om positiewe of snaakse stories oor mekaar te deel. Maar om sulke vriendskappe te smee kan moeilik wees, veral as jou kind skaam is.

Hoewel jy nie namens jou kind vriende kan maak nie, kan jy hom of haar met die nodige sosiale vaardighede toerus om self vriende te maak. Volgens navorsing sluit die top-vriende-maak-vaardighede vir kinders die volgende in: Maak oogkontak; luister na ander; begin ’n gesprek; neem deel; vra om verskoning; maak beurte; sê hoe jy voel; aanvaar kritiek; wees tegemoetkomend en onthou jou maniere.

Selfs al beoefen jou kind al hierdie vaardighede, mag dinge dalk nie altyd volgens plan verloop nie. Dit is dus belangrik om hom of haar te leer hoe om verwerping op ’n gepaste wyse te hanteer en dit nie persoonlik op te neem nie. Verduidelik ook die verskil tussen vriendskap en gewildheid – vriendskap help mens om te groei en kan moontlik ’n leeftyd lank hou, terwyl gewildheid vlietend is.

Hoewel die persoonlike waarde van vriendskap onsigbaar kan wees, is daar verskeie duidelike voordele. Om ’n hegte band met ander te smee sal die volgende mikpunte bereik word:

  • Jou kind se selfvertroue kry ’n hupstoot.
  • Dit leer hom of haar hoe om konflik te hanteer.
  • Dit help hom of haar om leierseienskappe te ontwikkel.
  • Dit werk gevoelens van afsondering teen.
  • Sy of haar verbeelding word ontwikkel.
  • Dit leer hom of haar die betekenis van ware vriendskap – wat dit beteken om ’n ware vriend te en ’n ware vriend te wees.

Deur vriendskap leer kinders van gee en neem, wen en verloor, volg en lei. Hulle ervaar vrees en verwerping, maar ook vreugde en kameraadskap. Op die lange duur help vriendskap kinders om die sosiale vaardighede wat hulle as volwassenes gaan benodig, te ontwikkel.

Artikel verskaf deur Impak Onderwys

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.