Digitale eisteddfod ’n eerste in Vrystaat

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Sincerely Media/Unsplash.)

Deur Susan Maré

Die Bethlehem-eisteddfod word in Augustus as gevolg van die Covid-19-pandemie die eerste keer digitaal aangebied.

Vir dié eisteddfod wat al om die ander jaar met die Harrismith-eisteddfod aangebied word, gaan deelnemers nou digitaal inskryf en beoordeel word.

Met hierdie stap neem die Bethlehem-eisteddfod die voortou in die Vrystaatse musiek- en kunstewêreld.

Sover vasgestel kon word, sal dit ook die eerste digitale eisteddfod in Suid-Afrika wees.

ʼn Soortgelyke besluit is onlangs in Australië deur die Boroondara-eisteddfod geneem volgens ʼn berig van die plaaslike regering van die stad Boroondara in Melbourne. Hier word selfs aanlyngalerye geskep sodat die groter gemeenskappe die eisteddfods digitaal kan beleef.

Aanlyngalerye is tot dusver nog nie in die Bethlehem-eisteddfod se beplanning nie, maar nie onmoontlik nie.

Dr. Lauren Sacht, voorsitter van die Bethlehem-eisteddfod, het gesê die gesondheid en veiligheid van deelnemers is vir die bestuur belangrik. “Selfs al keer omstandighede terug na normaal, sal met die digitale aanbieding voortgegaan word. Niks is onmoontlik nie – ons glo die digitale ommekeer gaan geslaagd wees,” het sy bygevoeg.

In praktyk beteken dit deelnemers se voordragte gaan ʼn digitale video-inskrywing wees. Alle video’s kan per e-pos of WhatsApp gestuur word of via Google Drive-, Dropbox-, Windows Onedrive- of YouTube-skakels. Voordragte mag nie langer as vier minute wees nie.

Sacht sê die grendeltyd bied deelnemers die geleentheid om nou reeds met video’s te eksperimenteer sodat hulle slaggereed sal wees om hulle video’s later vir beoordeling in te dien.

“Groter groepe soos kore, spreekkore en ander wat weens gesondheidsregulasies van die regering nie kan oefen nie, mag hulle dalk aan die eisteddfod onttrek na gelang van omstandighede. Ná die grendeltyd kan groepe dalk weer oefen en reg wees vir die eisteddfod. Die instuurdatum vir die video’s is eers 25 Julie.  Individue, gesinne en ander klein groepe mag in staat wees om steeds deel te neem.”

Sacht sê voorts ʼn digitale eisteddfod hou heelwat voordele in. Ouers sal nie nodig hê om hulle van lokaal tot lokaal te haas nie, die eisteddfod gaan nie bots met ʼn matriekafskeid nie, leerlinge hoef nie skooltyd mis te loop nie en leerlinge wat skaam is om voor mense op te tree, kan op die digitale platform met meer selfvertroue optree.

Die opname-inskrywings geld vir die volgende afdelings: dans, instrumentaal, vokaal, English drama, Afrikaanse drama en kuns. Fotografie en kreatiewe skryfkuns se riglyne bly dieselfde. Die onvoorbereide leesafdeling val ongelukkig weg. Die sluitingsdatum vir inskrywingsvorms en die oorbetaling van inskryfgeld is 30 Mei.

Belangstellendes kan www.bethlehemeisteddfod.co.za besoek vir die aangepaste riglyne, of Phil Lewis by [email protected] e-pos vir nog inligting.

Bambie de Wet, voorsitter van die Harrismith-eisteddfod sê sy haal haar hoed af vir Bethlehem wat steeds voortgaan met die eisteddfod.

“Ek is dankbaar dat ons Oos-Vrystaatse kinders steeds geleentheid het op ʼn digitale platform. Dankie aan die Bethlehem-eisteddfod vir die inisiatief om die kunswedstryd steeds te laat voortgaan,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.