Dink “buite die boek”

 Seun_bril_lees_boeke.jpg

Foto: Lamanlibrary.org

[promosie-artikel]

Danielle Barfoot

Almal weet waarom dit belangrik is vir kinders om te lees, en dat ’n liefde vir lees wat reeds op ’n jong ouderdom ontwikkel word, lewenslange voordele inhou. Maar baie kinders beskou lees as moeite, veral as hulle gedwing word om dinge te lees waarin hulle glad nie belang stel nie.

Hoe kry jy dan onwillige – of gewoon ongeïnteresseerde – kinders om vir genot te lees? Die geheim is nie net om iets te vind wat hul belangstelling prikkel nie, maar om verder as die tradisionele boek te dink.

Hier is vyf alternatiewe voorstelle om lees aan te moedig:

Trotseer tegnologie

Baie kinders vind tegnologie fassinerend. Span dit gerus in om hulle opgewonde te maak oor lees. Om boeke op ’n skerm te lees is net so waardevol vir jou kind as om ’n tradisionele boek te lees, en boeke in elektroniese formaat is veral gewild onder seuns (en ander onwillige lesers). E-boeke is ook natuurlik maklik – en onmiddellik – beskikbaar.

Oudio-boeke tel

Tegnies gesproke behels oudio-boeke luister- eerder as leesvaardighede, maar as jy kinders probeer aanmoedig om te lees, dan tel dit! Hoekom? Want dit bou woordeskat, dit lê agtergrondkennis vas, dit ondersteun begrip en dit help kinders om die towerkuns van stories te ervaar.

Kleurvolle strokiesverhale

Vir kinders wat met lees sukkel, maak prente dit makliker om die aksie te volg. Al is die teks moeilik, ondersteun die prente leesbegrip. Die teks kom ook in korter, meer verstaanbare brokkies voor. Strokiesprente bevat dieselfde storie-elemente en literêre middele as verhalende skryfwerk, soos karakters, konflik, temas en simbolisme, en lê dus daardie elemente vas. Belangrikste van als, strokiesprente is pret!

Vir die grap

Grapboeke is ’n slim manier om onwillige lesers te kry om ’n boek nader te trek. Wie geniet dan nie ’n goeie grappie nie? Grappe bied subtiele oefening in leesvlotheid en, omdat komiese tydsberekening belangrik is (jy sal dit dalk vir jou kind moet verduidelik), sal hy herhaaldelik sy gunstelinggrappies hardop wil lees om te verseker dat sy aanbieding perfek is.

Resep vir sukses

As jou kind daarvan hou om in die kombuis uit te help, bied resepte ’n prettige manier om leesvaardighede te oefen.

Buiten algemene leesoefening versterk elke formaat ook ander, spesifieke vaardighede. Om leesvaardighede op hierdie manier te bou, sal hopelik jou kind se aptyt vir lees aanwakker!

Op die ou einde moet lees prettig, interaktief en boeiend wees – maak nie saak wat die medium is nie.

Artikel verskaf deur Impak Onderwys

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.