Disleksie en leerbeginsels

Foto: Shutterstock.com

Foto: Shutterstock.com

Goeiemôre Susan

Ek was so bly om op die artikel oor disleksie af te kom. My seun is nou in graad 1 en sukkel baie om te lees en skryf en veral om te klank. Ons het sy oë laat toets omdat ons gedink het dit kan die probleem wees, maar dit is nie.

Hy doen sy wiskunde 100 persent en is mal daaroor. Maar as dit kom by lees, raak hy so kwaad vir homself omdat hy sê hy kan dit nie doen nie. Byvoorbeeld, as hy moet lees, “My naam is Sus”, lees hy dit, maar as dieselfde woord in die volgende sin is, weet hy nie wat daar staan nie. Sy juffrou sê hy is moedswillig, maar ek ken my kind en ek weet iets is nie pluis nie. 

Asseblief, ek sal jou raad waardeer.

Groete

Elna

Hallo Elna

Wat jy beskryf, dat jou seun ’n woord in een reëltjie herken, net om dit in die volgende reëltjie verkeerd te lees, is ’n algemene simptoom van disleksie. Dis waarskynlik veral hierdie simptoom wat veroorsaak dat kinders met disleksie so dikwels geëtiketteer word as lui, agterlosig of moedswillig. Dis natuurlik ’n wanopvatting wat die lewe moeilik maak vir ouers en kinders. Maar ek glo dat jy teen die einde van hierdie reeks rubrieke oor disleksie die huppel in jou stap sal terughê.

Ons het verlede keer gesels oor nuwe tegnologie, veral fMRI-skanderings, wat dit vir wetenskaplikes moontlik gemaak het om te sien dat die brein veranderbaar is. Ons weet nou ook dat die brein van ’n dislektiese persoon anders lyk as die normale leser se brein, maar dat hierdie breinverskille waarskynlik nie die oorsaak van disleksie is nie. Die breinverskille is die gevolg van disleksie. As ’n dislektiese persoon dus leer om goed te lees, sal sy of haar brein verander om uiteindelik soos die normale leser se brein te lyk.

Ons het ook gekyk na ’n gevallestudie, ’n meisie by name Marie, wat disleksie oorkom het.

Hoe het Marie disleksie oorkom?

Marie het disleksie oorkom omdat die oorsaak van haar probleem aangepak is. Die oorsaak, weet ons nou, is waarskynlik glad nie ’n fout in die brein nie, so kom ons begin voor:

Die situasie van ’n kind met disleksie kan nie verstaan word tensy ons raaksien dat hy ’n mens is nie. ’n Belangrike kenmerk van die mens is dat hy niks weet en niks kan doen wat hy nie geleer het nie. Dit sluit natuurlik liggaamsfunksies soos asemhaal uit, sowel as reflekse, soos byvoorbeeld die oogrefleks wat meebring dat die oog geknip word wanneer ’n voorwerp dit nader.

Om te illustreer hoe volkome afhanklik die mens van leer is, kom ons kyk na die verhaal van Kamala en Amala wat beskryf word in Wolf Children and Feral Man deur I.A.L. Singh en R.M. Zingg. Hulle was twee van meer as 40 gevalle wat sedert die agttiende eeu opgeteken is van kinders wat opgegroei het in algehele isolasie van ander mense.

In 1920, soos die verhaal vertel, het eerwaarde Singh afgekom op ’n wolvin met haar kleintjies. Twee het lang, gekoekte hare gehad en soos mense gelyk. Met moeite is die wesens gevang. Dit was twee meisies, volgens Singh se skatting agt jaar en een en ’n half jaar oud. Singh het hulle beskryf as “wolfagtig” in voorkoms en gedrag. Hulle het hande-viervoet geloop en groot eelte op hulle knieë en handpalms gehad as gevolg daarvan. Snags het hulle gehuil soos wolwe en was op roof uit vir rou vleis wat hulle lank bo ander voedsel verkies het. Hulle tonge het voortdurend by hulle dik, rooi lippe uitgehang, en hulle het soos wolwe gehyg. Vloeistowwe het hulle met die tong opgelek, en hulle kos in ’n hurkende posisie geëet. In honde en katte het hulle ’n geringe belangstelling getoon, maar in mense glad nie, en hulle het geknor en vir mense tande gewys. Hulle het opgerol in ’n bondel op die vloer geslaap. Hulle gehoorsintuie was fyn ontwikkel, hulle kon rou vleis baie ver ruik en kon baie goed in die nag sien.

Amala, die jongste van die twee, het ’n jaar later op 21 September 1921 gesterf, maar Kamala het geleef tot 1929.

Deur middel van toegewyde aandag, deur haar skurwe vel te versag met olies en massering, het mev. Singh Kamala se vertroue gewen en die omstandighede geskep waarbinne sy gewillig was om van haar te leer. Nog lank het Kamala steeds die geselskap van katte en honde bo dié van kinders verkies, maar uiteindelik meer en meer met ander kinders begin assosieer.

Volgehoue oefening oor ’n tydperk van 20 maande het Kamala in staat gestel om vir die eerste keer regop te kon staan. Teen Januarie 1926 het sy daarin geslaag om regop te leer loop, en hoewel haar bewegings steeds ’n mate van wolfagtigheid behou het, het sy tog gedurende die oorblywende twee jaar van haar lewe duidelik bewys dat haar vorige wyse van loop net daaraan toegeskryf kon word dat sy normale menslike opvoeding moes ontbeer.

Wat taalontwikkeling betref, het haar eerste uiting van ’n menslike woord twee en ’n half jaar nadat sy ontdek is, plaasgevind. Ná ses jaar tussen mense het sy ’n woordeskat van omtrent 40 woorde gehad, en van toe af heelwat woorde en frases geleer, en selfs begin om sinne te gebruik. Tot voor haar dood was haar taalgebruik egter steeds baie elementêr en beperk tot konkrete en onmiddellike situasies.

Amala en Kamala, en so ook elke ander kind, kom ongelooflik swak toegerus in die wêreld. Die kennis wat die kind nodig het om volwaardig mens te word, lê nie sluimerend in hom nie. Wanneer iemand iets nie kan doen nie, beteken dit dus nie dat daar iets met hom verkeerd is nie. Hy het dit miskien nog net nie geleer nie – en enige mens kan byna enigiets leer, mits ’n ander belangrike kenmerk van die mens ook in ag geneem word.

Leer is ’n laagsgewyse reeks gebeure

Tweedens moet ons verstaan dat leer ’n laagsgewyse reeks gebeure is. Een vaardigheid moet eers vasgelê word voor ons ’n daaropvolgende vaardigheid kan baasraak. Dis soos met ’n leer opklim: sportjie vir sportjie, anders val jy.

Die manier waarop die skoolstelsel in alle lande ter wêreld georganiseer is, is inderdaad ’n erkenning hiervan. ’n Mens kan nie jou kind eers universiteit toe stuur nie. Hy moet by die eerste klas begin, en dan jaar ná jaar vorder na hoër vlakke van onderwys. Aan die einde van elke jaar word daar van die kind verwag om bewys te lewer – gewoonlik deur ’n eksamen te slaag – dat hy genoeg van die kennis wat gedurende die jaar aan hom voorgehou is, bemeester het, sodat dit ’n stewige grondslag sal vorm waarop die kennis van die daaropvolgende jaar gebou kan word.

’n Verdere eenvoudige en praktiese voorbeeld is die feit dat ’n kind eers geleer moet word om te tel, voordat dit moontlik word om hom te leer om op te tel en af te trek.

Veronderstel daar was ’n kind wat nog nie geleer tel het nie. As ’n mens hom sou probeer leer om op te tel of af te trek, sou ’n mens vind dat dit onmoontlik vir so ’n kind is om sulke berekeninge te doen, ongeag hoeveel moeite gedoen word. As ’n mens egter die kind eers sou leer tel, sou dit daarna redelik maklik wees om hom te leer optel en aftrek. Dit bewys dat die vaardigheid van tel ’n voorvereiste is vir die bemeestering van die vaardigheid om op te tel en af te trek.

Hierdie beginsel, dat leer ’n laagsgewyse reeks gebeure is, kan ook aan die hand van enige sportsoort, soos byvoorbeeld yshokkie, verduidelik word. Voordat ’n persoon yshokkie kan speel, moet hy eers leer om baie goed te skaats. Nadat hy geleer het om vorentoe te skaats, moet hy ook leer om agteruit te skaats en om binne ’n oogwink te kan stop of van rigting te verander. Wanneer hy hierdie vaardighede so goed bemeester het dat hulle as’t ware instinktief (geoutomatiseerd) geraak het, is hy gereed vir die volgende vlak, naamlik om al die elemente, waaruit yshokkie bestaan, te bemeester. Dan kan hy begin leer om die rubberskyf met sy yshokkiestok te beheer, om dit uit te gee en te skiet, en om sy mededinger te stamp of te skouer. Nadat hy al hierdie vaardighede bemeester het en intussen ook die reëls van die spel geleer het, kan hy begin om hierdie vaardighede in die spelsituasie toe te pas.

Net soos wat daar ’n verskeidenheid van vaardighede is wat ’n voorvereiste vir yshokkie is, so is daar ’n verskeidenheid vaardighede waarop lees en spel berus en wat ’n kind moet baasraak voor hy kan leer lees en spel.

Elna, ons kyk volgende week na dié vaardighede wat ’n voorvereiste vir lees en spel is.

Groete

Susan oor Skoolkwessies

Vra vir Susan oor Skoolkwessies:

Is jy bekommerd oor jou kind se skoolprestasie? Stuur jou vrae na [email protected]. Probeer om soveel moontlik besonderhede te verskaf, sowel as jou kind se ouderdom en graad. Gebruik jou eie naam of ’n skuilnaam as jy verkies om jou identiteit geheim te hou.

Meer oor Susan:

Susan du Plessis is ’n opvoedkundekenner en gepubliseerde skrywer op die gebied van leerprobleme en disleksie, met meer as 25 jaar praktiese ondervinding. Sy het ’n BA Honneursgraad in Sielkunde sowel as ’n BD-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf, en die eerste Edublox Lees-, Wiskunde- en Leerkliniek in 2007 geopen. Vandag is daar 25 Edublox-klinieke in Suidelike Afrika. Besoek die Edublox-webtuiste met meer as 495 suksesverhale by www.edubloxsa.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Meraai ·

Hallo Susan
Baie dankie vir die insiggewende artikel! Ek sien uit na volgende week se opvolg.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.